Wonderboom sedert Steentydperk al ’n uitspanplek

Uniegebou se koppie vir ’n Basoetoponie verruil
Februarie 2, 2018
Die geskiedenis van die Forte in Pretoria – Fort Klapperkop
Februarie 20, 2018

Frans Oerder, 1867–1944, se skildery van die Wonderboom

Angie Kleijn

 
Die duisend-jaar-oue Wonderboom het ’n uitspan-geskiedenis wat strek van die tyd van die eerste jagters wat dié wilde noorde in is, die eerste sendelinge, die Voortrekkers en die eerste Pretoriase piekniekgangers vanaf 1855.

Min het dié mense geweet dat hulle afsaal in ’n gebied waar oertydse nedersettings floreer het. Werktuie uit die Steentydperk wys dat Afrika se prehistoriese jagters in dié deel van die Magaliesberg ’n tuiste gemaak het.

Aan die oostekant van die Wonderboomnek in die Magaliesberg is die handbylterrein, een van ons land se belangwekkendste argeologiese terreine. Die grootste enkele versameling van klipartefakte in Afrika is hier blootgelê.

Dit sluit bewyse van vroeë, middel en laat Steentydperkse nedersettings in met handbyle, skrapers, kloofbyle en pylpunte uit elke tydperk. Bewyse van bewoning in die Ystertydperke is ook gekry.

Kaptein
Die Wonderboom was só ongewoon dat latere bewoners in ons eie historiese tydperk hom as heilig beskou het, veral nadat ’n kaptein daar begrawe is. Hulle het bonatuurlike magte aan dié boom toegedig en hom toegelaat om te groei soos hy wil, sonder om die ou boom te beskadig.

Mzilikazi Skets: Nuwe Geskiedenis

Daar word gesê dat lede van die Kwena Magopa-groep van Tswana-sprekers hier gewoon het voor hulle deur lede van die Po-groep van Nguni-sprekers aan die begin van die 19e eeu, verjaag is.

Van 1827 tot 1832 het Mzilikazi sy grootste militêre vesting, genaamd Kungwini, naby die Wonderboom aan die walle van die Apiesrivier gehad.

Die eerste blanke besoekers aan dié gebied was drie jagter-handelaars van Grahamstad – die Skotte William Mcluckie, Robert Scoon en David Hume. Hulle het vir Mzilikazi vertel van die sendeling, Robert Moffat, se werk by Kuruman. Mzilikazi het ’n afvaardiging na Moffat gestuur en in 1830 het Moffat besluit om Mzilikazi by die Wonderboom te gaan besoek. Dit was die begin van ’n ongewone vriendskap tussen dié twee mans.

Voortrekkers
Hendrik Potgieter en sy trekgeselskap het in 1836 onder die Wonderboom uitgespan en dit is Hendrik wat die boom sy naam gegee het. Later het ander trekgeselskappe ook daar kamp opgeslaan op pad na die noorde.

Trekkers van die Fourie-trek, gelei deur Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius, het in 1848 onder dié boom uitgespan en besluit om te bly. Hulle het langs die Apiesrivier by Daspoort, Elandspoort en Koedoespoort, begin boer. Mettertyd het meer mense in dié gebied begin boer en dit is besluit om ’n gemeente te stig.

Trekkers van die Fourie-trek, gelei deur Andries Pretorius, het hulle in 1848 langs die Apiesrivier gevestig. Hier vloei die Apies deur die Wonderboompoort soos hy destyds gelyk het. Die Wonderboom kan in die agtergrond gesien word

Die gemeente, Pretoria-Philadelphia, wat in 1854 goedgekeur is, was die voorloper vir die dorp. Met die goedkeuring van die nuwe gemeente het Pretoria as gemeenteplaas of ‘colonieplaats’ tot stand gekom, waaruit die dorp in 1855 gestig is.Op 5 Junie 1854 het die algemene kerkvergadering van die Nederduitsch Gereformeerde Kerk in die ZAR onder die leiding van ds. Dirk van der Hoff op Rustenburg vergader. ’n Besluit is deur die verteenwoordigers van die vier bestaande gemeentes in die ZAR geneem om ’n vyfde gemeente in die lewe te roep.

’n Perdekar voor die Wonderboom
Foto: Ebay

Piekniek
Vermaak was maar skaars vir dié dorpie se eerste inwoners. Daar was geen teaters of klubs nie en die mense het by die Fonteine of Wonderboom gaan piekniek hou. Almal is uitgenooi en Pretoria was op so ’n piekniekdag ’n spookdorp. Inwoners het kort na sonop in ’n reuse konvooi vertrek en het, behalwe kos, ook musiekinstrumente en visstokke saamgevat. ’n Tipiese piekniek is laatnag met ’n dans afgesluit.

’n Toekase piekniek by die Wonderboom
Foto: Frederika Fourie-versameling

Geloftedagvieringe is jaarliks onder die Wonderboom gehou en dit is gesê dat “’n regiment soldate en 22 waens plus 20 osse voor elke wa” onder dié boom se takke weggesteek kon word.

In 1870 het ’n brand die boom egter heelwat skade berokken. Tog was die boom steeds groot genoeg sodat ZAR President Thomas Burgers in 1871 die volgende gesê het toe hy dié boom die eerste keer sien:

“Onvergelijkelijk schoon en verheven boven alle andere staan hij daar als een monarch van het woud. Hoeveel geslachten van menschen en dieren hebben zich niet in zijnen schaduw verkwikt!”

Fort

Ruïnes van die fort
Foto: oxbridgeacademy.co.za

Aan die westekant van die Wonderboom is die murasies van die ou Wonderboomfort, wat die blokhuis in die Wonderboompoort vervang het. Fort Wonderboom was een van vier strategies geplaaste forte rondom Pretoria. Hulle is in die laat 1800’s gebou om Pretoria teen die Britse magte te beskerm.

Fort Wonderboom is in September 1897 deur twee Duitse ingenieurs, Otto Albert Adolph von Dewitz en Heinrich C Werner, teen ’n koste van £49 000 voltooi. Die fort het elektrisiteit, lopende water en selfs ’n telefoon gehad.

Aanvanklik is die fort met ‘n 75 mm Cruesot, bekend as ’n ‘Long Tom’, ’n 37 mm Maxim-Nordenfeldt kanon en ’n handaangedrewe Martin-Henry Maxim bewapen en is deur 18 troepe beman. Teen 5 Junie 1900 was daar slegs een Boeresoldaat en geen kanonne in die fort oor nie. Geen skoot is ooit hier geskiet nie.

 

Reservaat
Die fort vorm vandag deel van die Wonderboom Natuurreservaat en is nagenoeg twee kilometer bergop vanaf die Wonderboom.

Die Pretoriase Stadsraad het op 28 Desember 1949 ’n terrein van byna 450 ha rondom die Wonderboom en op altwee oewers van die Apiesrivier tot natuurreservaat verklaar. Die reservaat spog met verskeie klein boksoorte asook ape, dassies en ’n groot verskeidenheid voëls.

In 1985 het ’n swamsiekte die Wonderboom amper uitgewis. Die boom is onder kwarantyn geplaas en is omhein om te keer dat die swam versprei. Die swam is ná dekades uitgeroei en die kwarantyn is in 2003 opgehef. Vandag beskerm twee sirkelvormige verhewe wandelroetes van hout die boom se stam en wortels teen besoekers.

Boom
Die Wonderboom staan 23 meter hoog en is ’n wildevyeboom, Ficus salicifolia, wat selde hoër as nege meter word. Die moederstam is ongeveer vyf meter in omtrek, maar oor die jare het nuwe dogterstamme ontwikkel, elke keer as die boom se vrugbare takke die grond geraak het. Hulle het in ’n sirkel rondom die moederstam wortel geskiet en die proses voortgesit. Twee van die dogterstamme het ’n derde generasie laat voortspruit. Vandag is daar 13 duidelike stamme wat oor 1,5 ha strek.

Frans Oerder, 1867–1944, se skildery van die Wonderboom

Die Wonderboom is as ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die boom is ook, saam met meer as 70 ander bome en boomgroepe, deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye as nasionale kampioenboom verklaar, wat beteken dat die Wonderboom onder die Nasionale Bosbouwet van 1998 beskerm word.

Diagram van die Wonderboom op een van die inligtingsborde in die Wonderboom Natuurreservaat

Die Wonderboom het, met ’n omtrek van 61 meter, die grootste kroon van al die kampioenbome. Die grootste inheemse kampioenboom in Suid-Afrika is die Sagole kremetart in Limpopo met ’n stam van meer as 33 meter in omtrek.

Die tweeling bloekomboom-reuse in Magoebaskloof is die hoogste van die kampioenbome en teen 79 meter, hoër as ’n woonstelblok van 26 verdiepings. Hulle is in 1926 aangeplant en is die hoogste bome in Afrika, en is wêreldwyd die hoogste van hulle spesie.

Oudste 
Die Wonderboom is nie naastenby die oudste boom op aarde nie. ‘Ou Tjikko’ is die naam van ’n 9 550 jaar oue Noorse den wat in Swede staan. Daar word gesê dat hy ’n kloon-boom is. Definisies van wat nou eintlik ’n individuele en wat ’n kloon-boom is, verskil, maar dit kom basies daarop neer dat ’n kloon-kolonie ’n groep geneties identiese individue is wat op ’n sekere plek uit ’n vegetatiewe kern gegroei het en nie deur bestuiwing voortgeplant het nie.

So ’n kolonie van 47 000 trilpopuliere in die ‘Fishlake National Forest’ in die Verenigde State word gesien as die oudste en grootste organisme ter wêreld. Die kolonie, genaamd Pando, is ongeveer 80 000 jaar oud, alhoewel bogrondse individue slegs ’n ouderdom van rondom 130 jaar bereik.

Die rekord vir die oudste lewende individuele boom wat nie deel van ’n kloon-kolonie is nie, word deur ’n denneboom genaamd Metusalem in Kalifornië gehou. Metusalem is 4 845 jaar oud.

Kontak 
Die Wonderboom Natuurreservaat is van 7 vm tot 4 nm oop. Vir navrae bel die hek by 012-543-0918 of die kantoor by 012-567-4296.

Dit is nie duidelik of dié ’n hotel of winkel in die Wonderboompoort was nie, maar mense het met hulle perdekarre hier uitgespan
Foto: Rosa Swanepoel se versameling

 

Hierdie artikel het verskyn in Die Bronberger.

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui