Johannes Hendrikus Brand
April 7, 2017
William Robinson
April 9, 2017

(Soos verskyn in Historia Junior, November 1958)

Daar het op 31 Mei 1773 vyf van die Hollandse Kompanjie se skepe in Tafelbaai gelê toe ’n noordwesterstorm hulle plotseling oorval. Die ankerkabels van een van die skepe, De Jonge Thomas, het vroeg in die more, tussen vyf- en sesuur, gebreek, en die skip het om halfsewe naby Soutrivier teen die strand vasgeval. Geweldige branders het met soveel krag teen die skip geslaan dat die maste verbrysel is en die houtwerk gekraak het.

Ten spyte van die vroeë more-uur was burgers en soldate spoedig op die strand bymekaar. Tussen hulle was ’n burger van middelbare jare, ’n melkboer, Wolraad Woltemade. Toe hy die gekerm van die bemanning bo die gehuil van die wind verneem, het hy ’n moedige besluit geneem. Sy perd was sterk en gehoorsaam en het, sonder om ’n oomblik te aarsel, op aansporing van sy baas die golwe tegemoet gegaan. Tot sewe maal toe het dit perd en ruiter geluk om twee-twee van die bemanning aan land te bring. By die agste poging om die golwe te trotseer, het die uitgeputte dier onder die golwe verdwyn, en saam met hom Wolraad Woltemade. Inmiddels het die golwe die skip te pletter geslaan. Nog 53 lede van die bemanning het daarin geslaag om die land te bereik. Die res het verdrink, en die Kompanjie het op die een dag 138 matrose verloor.

Here XVII was vol bewondering vir Woltemade se daad. Sy vrou het ’n aansienlike skenking van hulle gekry, en opdrag is gegee om sy seun te beloon vir die “grootmoedige, getroue en allemins merkwaardige daad” van sy oorlede vader. Ook is ’n nuwe skip, DE HELD WOLTEMADE, na hom genoem. – (In ooreenstemming met die verbaal, in Drie Eeue – Nas. Boekhandel.)