Wolraad Woltemade (1709-1773)

Ryk Tulbagh (1699-1771)
August 20, 2018
Theuns Stofberg (1955-)
August 20, 2018

SLAGOFFER VAN SY MENSELIEFDE

“Slagoffer van sy menseliefde!” Met hierdie betekenisvolle woorde het iemand die dappere daad van ’n gryse ou vader uit die daglumier van ons geskiedenis, vir komende geslagte verewig. Onbaatsugtige menslikheid, toonbeeld daarvan was hy; sy lewe het hy opgeoffer sodat ander kon lewe, hy, die goedhartige, heldhaftige melkboer, Wolraad Woltemade.

In die wintermaande van die jaar 1773, byna 200 jaar gelede, was die Suidhoek van Afrika, net soos vandag nog, getrou aan sy benaming “Stormkaap”. Dit was nou weer die tyd van die noordwestewinde, en in die namiddag van 31 Mei van genoemde jaar steek daar in Tafelbaai ’n hewige stormwind op. Die baai word ’n woelende, siedende watermassa, golf op golf tref die strand met bruisende mokerslae. ’n “Fris windjie” in die namiddag, maar ’n vreesaanjaende orkaan was dit teen middernag.

Nou was daar juis gedurende hierdie bange nag van 31 Mei 1773 in Tafelbaai, strydig met die instruksies van die Here Sewentein, vyf koopvaarders van die Kompanjie geanker. Soos neute- doppies is hulle rondgeslinger. Huiweringwekkend was die toneel op Tafelbaai se strand die eerste more in Juniemaand, tweede Pinksterdag van daardie jaar. Die gebulder van die woeste golwe, die vlieënde stormwind …

Kort na sonop ruk die Jonge Thomas van sy ankers los en word net onderkant die mond van die Soutrivier op die sand geslinger. Soldate bewaak die strand, ’n pasopgerigte galg moes die mense teen strandrowery intimideer, ’n plakkaat dienooreenkomstig word uitgevaardig, niks word gedoen om die skipbreukelinge te red nie. Die gestrande skip kon nie baie langer die aanslae van die golwe weerstaan nie – die arme mense was ten dode gedoem.

Skielik verskyn daar op die toneel, “ ’n melkboer … ’n eerbiedwaardige grysaard tussen sestig en sewentig jaar oud, Wolraad Woltemade. Hartverskeurende geroepe om redding eggo oor die golwe; die geweeklag dryf hom voort – hy stuur sy perd die golwe in. Die skip lê omtrent driehonderd tree ver. Sy moedige perd trotseer die kokende, skuimende watermassa, golf na golf deurklief hy, die skip word bereik. Twee man word gered. Nog ses keer herhaal “die Verlossende Engel” hierdie waagstuk en so behou veertien man die lewe.

Foto: Wolraad Woltemade (Elliott-versameling)

Maar reeds is hy en sy gespierde perd uitgeput van die geweldige inspanning. Om die gevaarvolle tog nogeens te herhaal, kon noodlottig wees. Sy vriende op die strand smeek hom om nie weer in te gaan nie. Al luider klink die krete om hulp, angsvoller, jammerlik, ontsettend die hulpgeroep! Nog een keer stuur hy sy perd die woeste golwe in. Hy bereik die skip. ’n Geweldige gekraak – die agterstewe word losgeskeur. ’n Aantal beangste manne spring in die water en klou aan die teuels vas. Moedig worstel die doodmoeë perd, sy kop word onder gepluk. Nog eenmaal verskyn hy aan die oppervlakte. Hy raak weg. Tien minute later word ’n dooie perd en etlike lyke op die strand uitgespoel.

Kort hierna het die skip gebreek en 138 man het verdrink. Drie-en-vyftig het die strand bereik en so het sewe-en-sestig man behoue gebly.

Nooit sal Suid-Afrika hierdie held vergeet nie, nooit sal so ’n menseliefde versmaai word nie. En tog … Here Sewentien het wel een van sy skepe “Held Woltemade” genoem en die heldedaad deur die beeldhouer Hendrik van Velzen op die agterstewe laat voorstel, en Suid-Afrika het wel sy naam aan ’n kerkhof verbind, maar hoe ver is dit nog van daadwerklike heldeverering! Nie deur die roes van die slagveld is hierdie Woltemade tot ’n heldedood aangespoor nie; hy het nie gepraat, gebid, gebewe nie – hy het geoffer.

Vir altyd sal sy edele daad op die geskiedrolle vermeld staan, in die geheue van ’n trotse nageslag gegraveer bly. Maar Jong Suid-Afrika vra vir hom ’n monument, ’n standbeeld. ’n gendenknaald. Vir Woltemade en sy perd.

 

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.