Wit vlag op Majubadag

Die grootste waagstuk van die oorlog
January 22, 2015
Eerste verskille oor vrede
January 22, 2015

Die toestand in Cronjé se laer was ellendig. Dae aaneen het die Britse kanonne ’n dodelike hael van liddietbomme op die laer gewerp en Cronjé kon die vuur nie eers beantwoord nie omdat sy kanonne stukkend geskiet of sonder ammunisie was. Daar was net sowat honderd perde in die laer oor. Die ander was doodgeskiet en het half ontbind in hul honderde orals tussen die mense rondgelê en ’n vreeslike stank versprei. Selfs die drinkwater was besmet. Die waens en ander goed was verbrand en die mense het maar gebly in gate en slote. Kos was daar nie, en buitendien het die Engelse onafgebroke geskiet.

Volgens Theron het Cronjé nie aan oorgawe gedink nie en volmondig ingestem met De Wet se plan, soos deur Theron aan hom meegedeel. Maar die daaglikse bombardemente het die meeste van sy burgers en offisiere so gedemoraliseer dat hulle nie meer weerstand wou bied nie. Na die voorstelle om uit te storm wou hulle nie luister nie en party het reguit gesê dat hulle die slote nie gaan verlaat nie, maar hulle aan die Engelse sou oorgee sodra Cronjé dit sou waag om te storm. Hy en Theron het nogtans die mense moed probeer inpraat.

Nadat Theron terug is, het Cronjé ’n kettingbrug oor die rivier laat slaan, maar die Engelse het dit op 26 Februarie stukkend geskiet. Die aand het Cronjé die krygsraad byeengeroep. Hy het gepleit dat die stryd voortgesit word, maar die offisiere wou van geen verdere weerstand hoor nie. Uiteindelik het hy gesmeek dat hulle moet uithou tot die 28ste, sodat hulle nie op 27 Februarie, Majubadag, hoef oor te gee nie. Dit het niks gebaat nie. Die offisiere het kortaf gedreig dat as Cronjé nie kapituleer voordat die son die volgende môre opkom nie, hulle self die wit vlag sou hys. Die oggend vroeg het die Engelse met ’n bombardement begin en het die offisiere hul dreigement van die vorige aand uitgevoer om self die wit vlag te hys.

Ná hierdie beskrywing van die gebeurtenisse deur JH Breytenbach in Die Huisgenoot van 7 Oktober 1950 het verskeie oudstryders dit betwyfel, en die skuld vir die oorgawe op Cronjé gepak oor sy hardkoppigheid. Breytenbach het geantwoord dat hy sy relaas gegrond het op oorspronklike bronne, veral die oorlogsrapporte wat die Boere-offisiere met mekaar of die regerings gewissel het en waarvan daar ’n volledige stel van 120 000 bestaan. Hy het onder meer aangehaal uit ’n telegram wat Danie Theron in Nederlands ná sy besoek aan Cronjé se laer aan president Kruger gestuur het. Nog ’n leser het die egtheid van die telegram betwyfel omdat dit in Nederlands was; ’n Hollander moes dit dus opgestel het! Hierop het Breytenbach geantwoord dat Nederlands die offisiële taal van die twee republieke was en dat Theron en die Boereverkenners hulle daarom van dié taal bedien het. “Danie Theron het Nederlands vlot geskryf en het geen Hollander nodig gehad om ’n telegram vir hom in die landstaal van die republiek op te stel nie.”

Cronjé was die res van die oorlog saam met sy vrou krygsgevangene op St. Helena en is in 1911 oorlede – erg vereensaamd weens fluisterpraatjies oor Paardeberg.