Wit en swart

Wit en bruin Afrikaanstaliges
January 22, 2015
Die vroue van die leiers
January 22, 2015

Sterk rassegevoelens het aan die begin van die 20ste eeu by baie Afrikaners en Engelssprekendes in Suid-Afrika bestaan, soos trouens ook by baie ander mense. Dit is dus nie vreemd dat Chamberlain en Milner in September 1899 besluit het dat die oorlog  “a white man’s war” sou wees nie. Magistrate in die Kaapkolonie en Natal sou swartes gelas om nie by die oorlog betrokke te raak nie. Die regular army en blanke vrywilligers sou maklik die Boere kon onderwerp en geen plaaslike swart stam se bystand sou die uitslag van die oorlog bepaal nie. Die Britse regering was bewus van die blankes se gevoelens en het verwag dat die deelname van swartes ook skerp kritiek sou ontlok van die Kaapkolonie en Natal.

Maar ondanks dié beleid het die Britte bruin en swart mense in diens geneem, eers in nie-vegtende hoedanigheid. Nadat Kitchener die bevel oorgeneem het, is hulle al hoe meer bewapen. In die tweede helfte van 1901 het die meeste swart verkenners gewere ontvang – iets wat die liberale opposisie in Brittanje hewig gekritiseer het. David Lloyd George het beweer dat daar tot 30 000 gewapende gekleurdes in Britse militêre diens  was – wat inhou dat daar in Mei 1902 50% meer gewapende gekleurdes in Britse diens was as wat daar bittereinder-Boere op kommando was. Ná die oorlog het die Britte meer as 50 000 vuurwapens van swartes in Transvaal gekonfiskeer.

Die Boere was bitterlik gekant teen die gebruik van gewapende gekleurdes en het dit as ’n gruweldaad beskou. Hulle het in die reël gewapende swartes in Britse diens doodgeskiet, al het dié optrede die Boere self soms erg ontstel.

Daar bestaan talle verslae oor die wyse waarop swartes, soms onder toesig van joiners, Afrikanervroue en kinders behandel het wat van hul brandende woonhuise na die konsentrasiekampe weggevoer is. In 1901 is beëdigde verklarings oor dade teen vroue in opdrag van president Steyn deur Hertzog ingesamel. Hulle wou dit insluit by ’n beoogde skrywe aan die vorste van Europa en die president van die VSA. JD Kestell skryf dat hy nog nooit treuriger leesstof gehad het as hierdie verklarings oor die barbaarshede teenoor vroue nie. Die wegvoering uit veilige huise, wat verwoes en aan die brand gesteek is, was reeds traumaties, en omdat swart mense so dikwels by die wandade betrokke was, is dit nie verbasend dat die slagoffers nie net bitter teenoor “die Britte” sou voel nie, maar ook teenoor hul medepligtiges. Die republikeinse leiers het telkens by die Britte beswaar gemaak teen die gebruik van swartes en voorbeelde verskaf van moorde en ander wandade. Botha het aan Kitchener melding gemaak van moorde aan die Swazilandse grens, en generaal De la Rey van ’n vrouelaer wat op 29 September 1901 in die distrik Rustenburg deur ‘n swart kommando aangeval is.

Maar baie swartes het op plase en as “agterryers” lojaal gebly. ’n Vrystaatse generaal, generaal GJ Joubert, sê dat, hoewel daar oorlopers was, die meeste “wonderlik diensvaardig was en getrou aan die Boeresaak – in baie gevalle tot die dood toe, selfs waar sommige se werkgewers na die vyand oorgeloop het”.