Wit en bruin Afrikaanstaliges

Siekte en geneesmiddels
May 15, 2015
Goud bring nuwe lewe
May 17, 2015

Soos elders ter wêreld was daar in die negentiende eeu nog talle beperkings op die stemreg. Vroue het nog nêrens die stemreg gehad nie. Soos in die Verenigde State kon swartes ook nie in die Boerepublieke stem nie. In die Kaapkolonie kon swart en bruin mense wel stem indien hulle aan bepaalde voorwaardes voldoen.

Tussen wit en bruin Afrikaanstaliges was die verhouding nie altyd goed nie. ’n Belangrike rede daarvoor was die reaksie wat die opkoms van Afrikanernasionalisme by Engelssprekendes uitgelok het. Volgens De Zuid-Afrikaan het “anti-Afrikaanderisme” ontstaan uit reaksie op “Afrikaanderisme”. Die jingo’s het hulp teen laasgenoemde probeer kry deur die bruin en swart mense wys te maak dat die Afrikaners weer slawerny wil instel – dit terwyl die Engelse die eerste slawe gebring het, die Engelse koopliede in Liverpool hul opgang veral aan die slawehandel te danke het, en die Engelse koloniste in die Wes-Indiese Eilande slawe gehad het soos die Hollandse koloniste hier.

Die kwaadwillige slawernypropaganda het egter tot in die twintigste eeu voortgeduur en bygedra tot die vervreemding tussen wit en bruin. Kleurvooroordeel het by sowel Afrikaanse as Engelse wit mense voorgekom. Daarom het bruin en swart kinders veral na sendingskole gegaan en nie na openbare skole nie. Ook armer blankes het dié sendingskole bygewoon. In 1893 het die Kaapse superintendent van onderwys, doktor Thomas Muir, begin om wit leerlinge uit die sendingskole te haal, en aparte skole vir die armer wit kinders ingestel. Daarmee is die grondslag gelê vir skoolapartheid sedert 1905.

Elders het Afrikaans intussen gevorder. Die inheemse Nama van die huidige Namibië, en later ook die Herero, het besef dat Afrikaans, omdat dit ook deur wit mense gepraat is, ’n nuttige taal was om ter wille van die handel aan te leer. Daarom het hulle die Duitse en Engelse sendelinge feitlik verplig om hul kinders “Hollands” in die skole te leer.

Op Bethanie wou die Namas nie hê dat die kinders in Nama onderrig word nie omdat die blankes aan die Kaap en die Oorlams alleen “Hollands” gepraat het. Daar was een keer ’n rumoerige ouervergadering oor die onderwysmedium. Hoofman David Christian het naderhand opgestaan, met die arms in die lug geswaai en uitgeroep: “Alleen Hollands, niks as Hollands nie; ek verag myself en voel lus om in die bossies weg te kruip as ek my Hottentot-taal praat.”

Op Hoachanas, setel van die “Rooi Nasie”, het die ouers geëis dat die voorgenome skool daar alleen Hollands leer, “sodat die mense later beter met die handelaars kan regkom en vir hulle kan sê: vir hierdie skaap wil ek so en soveel messe hê”.

Willem Swartbooi was op Rehoboth so woedend oor Nama-onderwys in die skool dat hy ’n Namaboek uit sy kleinseun se hand geruk en met die voete daarop getrap het terwyl hy uitroep: “Hy moet Hollands leer en nie Nama nie!” Namaleiers het Hollands gebruik in hul briewe aan Herero-, Afrikaner- en Duitse leiers. Hendrik Witbooi het ’n omvangryke dagboek in Hollands gehou.