Wit en bruin Afrikaanstaliges

Langtermynprojekte voortgesit
January 26, 2015
Naspers en kultuurorganisasies
January 26, 2015

Die teenstelling tussen wit en bruin Afrikaanstaliges word blykbaar minder skerp – deels deur jarelange toegewyde werk deur skrywers, joernaliste en ander, deels omdat sowel wit en bruin geraak word deur onsimpatieke regerings-maatreëls. Sedert 1994 verskyn berigte oor ongelukkigheid en politieke roeringe onder bruinmense. Op die jaarkongres van die Kaaplandse Professionele Onderwysersvereniging in Port Elizabeth is die miskenning van Afrikaans en diskriminasie teen bruinmense in sterk taal veroordeel. Die Burger het in 1995 onder die opskrif “Bruin Afrikaanses voel baie sterk oor hul taal”, berig dat meneer Joseph Marks van die DP gesê het dat baie bruinmense vroeër Engels bo Afrikaans verkies het weens die politiek. “Maar dinge is besig om te verander. Daar is ’n groot ommeswaai”.

Professor Adam Small het in 1994 in ’n onderhoud met doktor Dennis Worrall vir die nuusbrief Omega die veranderde houding van bruinmense in verband gebring met amptelike taalverwaarlosing en die manier waarop “regstellende aksie” toegepas word. Onder die jong intellektuele bruines is daar diepliggende kommer oor die manier waarop die taal gehanteer word. By die Universiteit van Wes-Kaapland, byvoorbeeld, meen intelligente jong mense dat Afrikaans bewustelik afgegradeer word.

Wit Afrikaanstaliges het groter belangstelling in die taal en lotgevalle van hul bruin taalgenote laat blyk. In die jare tagtig is ’n omvattende ondersoek na Oranjerivier-Afrikaans gedoen onder leiding van professor Christo van Rensburg, terwyl digters soos Hans du Plessis en Thomas Deacon Oranjerivier-Afrikaans vir poësie gebruik. Bruin skrywers het al meer belangwekkende werke gepubliseer, soos AHM Scholtz met Vatmaar en Afdraai, EKM Dido met Die storie van Monica Peters, SP Benjamin (Die reuk van steenkool), asook die digters Vincent Oliphant (Die sagte vlees), Loit Sôls, wat in My straat en anna praat-poems Kaapse Afrikaans gebruik.

Die Sondagblad Die Beeld het in 1965 begin met sy Ekstra vir bruin lesers. Dis in 1968 gevolg deur Die Burger-Ekstra. In 1980 is begin met Metro-Burger, ’n gratis tuiskoerant wat op die Kaapse Vlakte versprei is in ’n tyd toe daar sedert die 1976-onluste sterk druk op bruin mense was om hul rug op Afrikaans te draai. Albei het vir Die Burger nuwe lesers meegebring sodat 58% van sy lesers tans bruin is. ’n Mediakenner, John Farquhar, skryf in 1999 dat bruin mense nie meer obsessies oor Afrikaans het nie. “Die Burger het die geleentheid vernuftig benut en aan bruin mense ’n koerant gegee wat op hulle as mense met ’n eie kultuur gerig is. Briljante redaksionele denke, gerugsteun deur flinke bemarking, het Die Burger in staat gestel om voordeel te trek uit die gulde geleentheid wat hom voorgedoen het.”

Die onderwysman doktor Richard van der Ross het bygedra tot beter verhoudings. Hermann Giliomee, wat hom as een van die grootste Afrikaners van die eeu beskou, sê: “Hy het bruinmense gelei en geïnspireer en witmense met sy rubriek Gus Adams in Rapport politiek opgevoed. ’n Mens kan nie veel meer doen in een leeftyd nie.”