Wit en bruin Afrikaanstaliges

“Lojale” Afrikaners veg teen hul taal
January 22, 2015
Wit en swart
January 22, 2015

Die bruin mense was in die oorlog van die vurigste ondersteuners van die Britte. Die Britse bewind het immers aan hulle politieke regte toegestaan wat hulle nie sou verwerf in die republieke met hul klein bruin bevolking nie. Die republikeinse bedrywighede in die Kaapkolonie het nie net Kaapse Afrikaners geraak nie, maar ook bruin Afrikaanstaliges.

Die Britte het in Maart 1901 vier Afrikanerburgerlikes op grond van valse getuienis van bruin mense tereggestel. Dit was Charel en Petrus Nienaber en Jan Niewoudt van De Aar en Hendrik van Heerden van Middelburg. Abrie Oosthuizen, ’n kenner van die oorlog in die Kolonie, sê dat die getuienis van gekleurdes in talle sake teen Boere gebruik is en dat die skuldigbevindings op bedenklike gronde berus het. Dit het rasseverhoudings tot ’n breekpunt gedryf. Talle bruin mense was in diens van die Britte. Vroeg in 1901 het ’n bruin man, Abraham Esau, in Calvinia die Britte sy hulp aangebied om die Boere uit die distrik te hou en ’n lys gemaak van bruin mense wat gewillig was om die wapen vir dié doel op te neem. Toe die Boere die distrik beset, is veldkornet C van der Merwe van Fauresmith tot Republikeinse landdros benoem. Hy het Esau tot 25 houe met die kats veroordeel omdat hy teen die Boere gepraat en mense probeer bewapen het. Nadat hy ’n groot pak slae gekry het, het twee Boere hom en nog iemand met perde aangejaag. Een van die oppassers het Esau opsy geneem, en terwyl hulle weg was, sou Esau hom aangeval het, waarna die oppasser hom met ’n rewolwer sou doodgeskiet het. Ná die oorlog moes Van der Merwe as “landdros” weens geseling en aanhitsing tot moord in die hof verskyn.

Ook die Basters van die Wesleyaanse sendingstasie by Leliefontein het die Britte op verskeie maniere ondersteun. Sowat 300 inwoners van Leliefontein het tussen Julie 1901 en Julie 1902 verkenningswerk vir die Namaqualand Intelligence Department gedoen. Generaal Manie Maritz het hulle verbied om die Britse magte te help, en toe hy op 27 Januarie 1902 na die sendingstasie ry om ’n verdere kennisgewing bekend te maak, het ’n argument met ’n Basterleier, Barnabas Links, ontstaan en het Maritz en sy klein geleide ternouernood aan die dood ontkom. Die volgende dag het Maritz met ’n sterk mag ’n aanval op die Basters gedoen en die sendingstasie uitgewis. Maritz het self beweer dat hy 38 Basters doodgeskiet het. Baie burgers het die daad volgens Deneys Reitz as genadeloos en onregverdig beskou en Smuts was bitter ongelukkig.

Ook in die Wes-Kaap was die bruin mense oor die algemeen pro-Brits, en die Afrikaners dikwels sterk anti-Brits. The Star het op 24 November 1902 verklaar dat die boere van die Wes-Kaap “by far the most rabidly anti-British” in die land was. Die enigste “loyalists” in dié distrikte “belong to the coloured community”. Talle bronne bevestig dié siening; die historikus CFJ Muller sê dat die “oorgrote meerderheid” van die Stellenbosse bruin mense Britsgesind was, maar die Afrikanerintelligentsia, -boere, -studente en -dorpsbewoners daar Boergesind.

Terwyl die Britte Boerekrygsgevangenes in die strate van Kaapstad en elders aangejaag het, het bruin mense hulle dikwels gevloek en beledig. Nietemin was die kleurteenstellings in die oorlog nie sonder ironieë nie: dit was ’n wit joiner wat president Steyn se teenwoordigheid op Reitz in Julie 1901 aan die Engelse verraai het en sy bruin lyfbediende wat hom gehelp het om te ontsnap!