“Winter in die hart van ’n nasie”

“Methods of barbarism”
January 22, 2015
“’n Skynbaar gedoemde nasie”
January 22, 2015

Terwyl die eerste groot dryfjagte van Februarie 1901 af op die Transvaalse Hoëveld onderneem is, is ook duisende vroue en kinders gevange geneem. In Maart 1901 was daar meer as 21 000 mense in die Transvaalse kampe, en in Julie 65 000. In die Vrystaat was dit onderskeidelik 11 500 en 37 000, en in Oktober meer as 45 000. Die hoogste totaal van die konsentrasiekampbevolking was byna 120 000, en wel in Oktober 1901. Omstreeks September 1901 was daar 34 kampe met ongeveer 110 000 inwoners – die meeste van hulle kinders. Die getal inwoners het daarna nie drasties vermeerder nie, maar daar is nog kampe opgerig sodat daar uiteindelik 40 was.

Die historikus DW Krüger skryf dat hierdie duisende mense weggesleep is uit hul brandende wonings en byna sonder beddegoed, klere en voedsel op onbedekte ossewaens en later in oop spoorwegwaens geplaas is onder die spotgeskreeu van swartes en verraaiers, en gewelddadig weggevoer is. Min tyd is hulle gegun om gereed te maak en net enkeles het met moeite die noodsaaklikste artikels uit die vlamme gered. Swanger en siek vroue  is soms te voet aangejaag deur berede swart en wit soldate. In die tente moes hulle hulle aanpas by ’n nuwe lewenswyse.

Vroue en jong kinders moes swaar emmers water, brandhout of miskoeke vir vuur en hul karige rantsoene oor lang afstande aandra. Die kos moes hulle gaar maak in primitiewe skerms oor ’n oop vuur. Die jonger kinders moes soms ure lank in die reën of brandende son wag vir die daaglikse rantsoene. Dikwels, skryf Krüger, het die outoriteite geen voorsiening gemaak vir behuising, beddegoed, vuurmaakgoed en voedsel nie. Soms moes die tentbewoners op die nat grond in deurweekte tente die koue nagte deurbring, en soms was dit weer die ander uiterste wanneer die skroeiende somerson die tente onuithoudbaar warm bak. Sanitêre geriewe was afskuwelik, voedsel ontoereikend en van swak gehalte en oor die algemeen was die administrasie in ’n wanorde. Siekte-epidemies het gou hul verskyning gemaak.

Aanvanklik was die hospitaalgeriewe uiters swak en die mediese personeel hopeloos ontoereikend, sodat vroue soms geweier het om hul siek kinders daarheen te stuur. Masels en tifus het al hoe meer voorgekom en so klein was die weerstandsvermoë van veral die kinders dat daar in Julie 1901 reeds baie honderde graf toe gedra is. Waar die normale sterftesyfer voor die oorlog skaars 16 per 1000 per jaar was, was dit in Julie 1901 116. “Dit was winter op die Transvaalse hoëveld, winter op die vlaktes van die Vrystaat en winter in die hart van ’n nasie wat met die dood geworstel het,” sê Krüger dit byna poëties.

Van Augustus tot Oktober 1901 is nog talle mense kampe toe gebring. Kindersiektes veral kinkhoes het deur die kampe gewoed soos ’n epidemie, maar die meeste is gekla oor die skraal rantsoene waarvoor hulle ure en ure moes wag. In Augustus was daar 2666 sterfgevalle, wat neerkom op ’n sterftesyfer van 311 per duisend per jaar. In September was dit 2752, of 287 per 1000 per jaar, in Oktober 3205 of 344 per 1000 per jaar.