William Philip-besproeiingstonnel, Hankey

George Grey (1812-1898)
August 6, 2019
Fort Frederick, Port Elizabeth
September 10, 2019

Byna 30 km noord van Humansdorp aan die linkeroewer van die Gamtoosrivier is Hankey geleë en hier skaars ’n kilometer bokant die dorpie is die eerste besproeiingstonnel wat in Suid-Afrika gegrawe is. Hankey kan direk van Humansdorp bereik word, maar die pad wat meesal gebruik word, draai by Thornhill uit die nasionale pad en loop oor Loerie.

Hankey vul ’n besondere bladsy in die geskiedenis van die Londense Sendinggenootskap in Suid-Afrika. In 1802 het hierdie Genootskap die sendingpos Bethelsdorp, naby Port Elizabeth, aangelê. So baie rondswerwende Hottentotte het hulle hier onder die bearbeiding van die sendelinge kom vestig dat dit oorbevolk geraak het en daar ’n tekort aan water ontstaan het. In 1822 het dr. John Philip, Superintendent van die Genootskap, dus 1 619 ha van die plaas Gamtoosrivier-Wagendrift, geleë aan weerskante van die rivier, vir ₤1 500 (±R3 000) gekoop met die doel om ’n gedeelte van die inwoners van Bethelsdorp hierheen te verskuif. Hy het die nuwe pos genoem na die destydse

sekretaris van die Genootskap, W.A. Hankey. Dr. Philip se keuse van hierdie plek was uitnemend. Nie slegs was daar volop water, vrugbare landbougrond en volop weiding nie, maar die Gamtoosrivier wat hier al kronkelend sy weg deur die heuwelland sny, gee aan die landskap ’n buitengewone natuurskoon.

Die sendingpos is aangelê aan die voet van ’n rant langs die Kleinrivier wat ’n entjie daarvandaan in die Gamtoos vloei. Die eerste sendeling was J.G. Messer, maar in 1841 kom William Philip, ’n seun van die reeds genoemde dr. John Philip, hierheen. Hy was prakties, ondernemend en vindingryk en ’n man met veelvuldige ervaring. Hy was jare lank matroos en uiteindelik skeepsoffisier. Hy het egter die see vaarwel gesê en van 1834 tot 1836 hom by sy ouers in Kaapstad gevestig, waar hy hom op die studie van landmeetkunde toegelê het. Eers daarna het hy na Engeland vertrek om hom as sendeling te bekwaam. Op Hankey het hy allerhande bedrywighede bedink om die Hottentotte besig te hou en hulle terselfdertyd te voed. Hy het ’n smidswinkel gebou en ’n wamakery begin, maar hy het hom veral op beesboerdery en die kweek van vrugte en groente toegelê.

Om die lande in die onmiddellike omgewing van Hankey te besproei, is daar aanvanklik leivore uit die Kleinrivier gegrawe. William Philip het egter veel groter gedink. Ongeveer ’n kilometer bokant die sendingpos dwing ’n smal, steil, klipperige rantjie die Gamtoosrivier om in ’n noordelike rigting ’n groot hoefdraai te maak om dan weer onmiddellik wes van die dorpie verby te vloei. In hierdie

kronkel van die rivier, onderkant die rant, het daar ’n pragtige stuk landbougrond gelê. William Philip het nou die besproeiing van hierdie stuk grond uit die Gamtoos beoog. Om dit te kan doen, het hy besluit om ’n tonnel deur die rantjie te grawe net daar waar die rivier noordwaarts begin swenk en waar die rantjie op sy smalste is.

William Philip het noukeurige opmetings gemaak en in 1842 het die Hottentotte van sy gemeente met homself as ingenieur, landmeter en voorman met die werk begin. So seker was Philip van sy opmetings dat daar van weerskante van die 90 meter hoë rantjie getonnel is. Met die primitiewe gereedskap tot hul beskikking het dit maar baie stadig gevorder veral omdat die grootste gedeelte van die tonnel deur soliede rots met pik, hamer en beitel gekap moes word. Na byna ’n jaar kon die een groep werkers die gekap van die ander begin hoor. Met des te groter ywer is dag en nag gewerk totdat Jan Bosman, een van William se getrouste ou werkers, sy pik van die kant van die rivier deurslaan na die ander deel van die tonnel. So opgewonde was hy dat hy oudergewoonte met die tonnel terug en oor die rant gehardloop het om die nuus aan William Philip by die dorpie te bring. Laasgenoemde skryf hieroor: “Op Dinsdagnag, 13 Augustus 1844, omtrent 2 v.m., is ’n skoot by my kamervenster afgevuur. Ek het geweet die sein is ‘die tonnel is deur’. Ek het by die venster uitgekyk en het die boodskapper al skreeuende met ’n fakkel na die dorp sien hardloop.”

In die dorpie het daar nou pandemonium Iosgebars. Daar is deurmekaar geskree, gehuil, gejuig en gelag. Die kerkklok is gelui, vure is aangesteek, fakkels is oral rond gedra en daar is op potte en panne orkes gespeel.

William Philip se kommentaar op die voltooiing van die projek was: “Die opmetings was baie meer korrek as wat ek vermoed het, sodat my eerste poging in praktiese ingenieurswese suksesvol was.” Die tonnel is 94 meter lank waarvan 88 meter deur soliede rots gaan. Die totale koste is bereken op ₤2 500 (±R5 000) wat ingesluit het lone, kos en olie. Hiervan het die Genootskap ₤500 en William ₤200 uit sy karige salaris betaal. Die res is uit vrye gifte en verhoogde huur van die grond verkry.

Op die aand van 13 Augustus het William gegaan om die water te Iaat deurloop. Hy het die inloop slegs gedeeltelik oopgemaak en selfs toe was die stroom onkeerbaar. Dit was ’n riviertjie wat, volgens hom, die grootste meul in die land kon laat draai. Van die uitloop van die tonnel is nou al voor die rante langs, oor die plase van Michael Ferreira en Van Rooyen, ’n kanaal gegrawe om die water op die gronde van die sendingpos te bring.

Skaars ’n jaar hierna het die ontwerper en bouer van hierdie historiese tonnel op onverklaarbare wyse in die Kleinrivier wat deur die dorpie vloei, verdrink. Sy broer, Durant Philip, het hom opgevolg. Kort hierna sou hul vader, dr. John Philip, teleurgesteld en gebroke, hom hier tot sy dood in 1851 kom vestig.

Met die dood van William eindig die geskiedenis van die tonnel nie. In 1847 was daar ’n verwoestende vloed. Die Gamtoos het sy walle tot ’n hoogte van byna nege meter bokant sy normale vlak oorstroom. Byna die ganse Hankey was onder water. Dertien mense het verdrink. Die tonnel is ernstig beskadig. Die vloed het die grond en klippe voor die tonnel weggekalwe en 4000 kubieke meter van die oorhangende rotse het in die tonnel gestort. Die mense van Hankey het egter nie die moed opgegee nie. Sodra die vloedwaters afgeloop was, het hulle begin om die tonnel skoon te maak en na ’n jaar was dit weer in volle gebruik.

In 1867 is Hankey weer eens deur ’n vloed geteister toe die Gamtoos, volgens oorlewering, 20 meter bokant sy normale vlak gestyg het. Die tonnel is weer beskadig maar weer oopgegrawe. Kort daarna het die sendeling wat toe in beheer was, die waterleiding verleng. Hy het die surpluswater wat gewoonlik onderkant Hankey weer in die rivier geloop het, met ’n pyp onder die rivier deurgeneem

om die gronde aan die oostekant van die rivier te besproei.

Binnekort sal die Koughapoortdam voltooi wees en ’n nuwe netwerk van kanale sal die gronde in die Hankey-gebied besproei. Die ou tonnel wat nou meer as ’n eeu in gebruik is en wat die eerste van sy soort was, sal dan in onbruik raak. Die gevaar dat dit in vergetelheid en in verval sal raak, is deur die Historiese Vereniging van Port Elizabeth onder die aandag van die Historiese Monumentekommissie gebring en dit is besluit om dit te bewaar.

(Geproklameer 1969)

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 130-131.