Willem Adriaan van der Stel (1664-1733)

Worsie Visser (1962-1998)
December 7, 2020
Francis Dundas (1759-1824)
December 7, 2020

deur Daantjie Dinamiet

Willem Adriaan van der Stel was ’n ongewilde Kaapse goewerneur.

Hy is op 24 Augustus 1664 te Haarlem, Noord-Holland, gebore as die oudste seun van agt kinders van Simon van der Stel en Johanna Jacoba Six. Hy het sy pa na die Kaap vergesel toe hy vyftien jaar oud was en het sy pa in 1699 as goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop opgevolg. Hy het in 1686 te Amsterdam in die huwelik getree met ’n Maria François De Haze (1664-1723) en vyf kinders is uit die huwelik gebore.

Sy liefde vir boerdery is vrye teuels gegee en hy het ’n landgoed by Vergelegen, naby die huidige Somerset-Wes tot stand gebring. Die omvang van sy bedrywighede, asook sy persoonlikheid, het gelei tot verskeie klagtes, wat op die spits gedryf is deur ’n klagskrif wat 63 burgers in 1705 na die Here XVII in Nederland gestuur het. Hy het die situasie glad nie goed hanteer nie en leiers soos Adam Tas gevange gehou. Dit het gemaak dat die Nederlandse goewerneur na die Kaap ontbied is om die saak te ondersoek. Hoewel hy ’n lang geskrewe verdediging ingedien het, is uitspraak teen hom gelewer. Die landgoed Vergelegen is verkoop nadat daar beslag daarop gelê is en hy is in 1707 uit die diens van die Kompanjie ontslaan.

Hoewel die amptenare in die Kaap in 1668 verbied is om grond te besit, het hierdie bepaling selfs voor Simon van der Stel se tyd ’n dooie letter geword en verskeie amptenare het grond besit en geboer. Die besoekende kommissaris Daniël Heins het in 1699 ’n erf in Tafelvallei aan Willem Adriaan geskenk, en kommissaris Wouter Valckenier het die volgende jaar ’n landgoed van 344 ha in Hottentots-Holland aan hom toegestaan. Later het Willem Adriaan ’n aangrensende stuk grond aan die hooftuinier geskenk en toe later weer by hom “gekoop”. Willem Adriaan het baie tyd bestee aan die opbou van Vergelegen as ’n spoglandgoed. Hy het ’n sierlike woonhuis met slawekwartiere, ’n parshuis en stalle laat bou, duisende wingerdstokke aangeplant en verskeie veeposte anderkant die berge gehad. Dit het gemaak dat hy sy bestuursake ten gunste van die boerdery verwaarloos het. Hoewel hy binne ses ure te perd in die Kaap kon aankom, het hy al hoe minder daar gekom. Die politieke raad het in 1701 net sewe keer vergader terwyl daar in Jan van Riebeeck se tyd 52 vergaderings per jaar gehou is.

Die stryd wat in 1705 tussen die vryburgers en die amptenaar-boere ontstaan het, het hoofsaaklik oor grondbesit gehandel. Die onrus onder die vryburgers is vererger deur die sekunde Elserivier se opmerking dat die Kaap binne ’n paar jaar sonder die vryburgers sou kon klaarkom omdat die amptenare in al die behoeftes sou kon voorsien. Die onrus het weens die wynpag tot uitbarsting gekom.

In die verlede het vier boere die wynpag gedeel maar ten einde ’n groter inkomste daaruit te verkry, is dit in 1705 aan net een boer, Johannes Phijffer, gegee. Hy was ’n vriend van die Van der Stels en die vryburgers het geglo dat hy na die goewerneur se pype sou dans omdat hy nie die geld gehad het om vir die pag te betaal nie. Daarna het ’n groep vryburgers onder leiding van Henning Huising en sy neef Adam Tas as sekretaris, briewe aan die Raad van Indië in Batavia gerig waarin hulle hul griewe teen die goewerneur en die amptenare uiteengesit het. Hulle het die amptenare daarvan beskuldig dat hulle hul pligte verwaarloos, ruiltransaksies met die Hottentotte vir hul eie gewin aanwend, mekaar bevoordeel en omkoopgeld eis vir die toestaan van voorregte waarop die vryburgers volgens wet aanspraak kon maak. Daar is ook briewe aan die Here XVII gerig waarin hulle gewys het op die boerdery-aktiwiteite van die amptenare wat ’n bedreiging vir hul eie bestaan ingehou het. Adam Tas het intussen ’n klagskrif saamgestel wat 38 punte bevat het en deur 63 vryburgers onderteken is. Daar is nie net teen die goewerneur te velde getrek nie maar ook teen die sekunde en die predikant van Kaapstad. Die gevoelens oor die goewerneur het duidelik geblyk toe Jan Rotterdam, ’n voormalige burgerraadslid, op Sondag 11 Oktober 1705 geweier het om op te staan toe die goewerneur en sy gesin die kerk binnegekom het.

In Desember 1705 het Willem Adriaan reeds gerugte gehoor van klagtes wat in Nederland en Batavia teen hom aanhangig gemaak is en gehoor wie daarvoor verantwoordelik was. Op 17 April 1707 het Willem Adriaan ’n brief van die Here XVII, gedateer 30 Oktober 1706, ontvang. Hy is saam met sy sekunde, die landdros en die predikant na Amsterdam ontbied en sy broer, Frans van der Stel, is lewenslank uit al die besittings van die VOC verban. Alle amptenare is uitdruklik verbied om grond te besit en te boer, en hulle is daarby verbied om handel te dryf. Dit was ’n klinkende oorwinning vir die vryburgers.

Willem Adriaan van der Stel is op 11 November 1733 in die ouderdom van 69 jaar in Lisse, Zuid-Holland, oorlede.