Wat die ou ringkoppe vertel het
April 9, 2017
Die eerste treinspoor na Lourenço Marques
April 9, 2017

(Geskryf deur R. van der Walt, Hoërskool Hendrik Verwoerd, soos verskyn in Historia Junior, Maart 1960)

Tussen 1836 en 1838 het duisende Boere die ou kolonie verlaat, om iewers noord van die Oranje ’n nuwe vaderland te gaan soek. Wie was hierdie mense en waarvandaan het hulle gekom?

 

Die selfversorgde pionierslewe

’n Eeu of wat gelede het die pioniers in die grensdistrikte van die Kaapkolonie in byna volstrekte isolasie ’n vry armoedige bestaan gevoer. Plaaslike markte was nie van groot betekenis nie. Dus was die Boere vir die verkoop van hul produkte nog hoofsaaklik op Kaapstad aangewese. Dit was dus nie betalend om landbouprodukte na hierdie afgeleë mark, wat buitendien baie beperk was, te vervoer nie. Gevolglik was die slagvee in die ou dae, toe die Boere nog hul eie transport moes vervoer, die vernaamste produk wat die grensdistrikte opgelewer het. Die slagvee is gewoonlik op eie bene na die mark vervoer. Partymaal is dit ook op die plase deur slagtersknegte opgekoop.

Aangesien die grensdistrikte weinig oorskotprodukte vir die mark gelewer het, het dit moeilik gegaan om behoeftes te bevredig, waarin die pioniersfamilie nie self kon voorsien nie. Gevolglik moes hulle die behoeftes voorsien uit wat op hul plase geproduseer word. Kortom, hulle was nie alleen boer nie, maar ook skoenmaker, timmerman, messelaar, ens. Die vrou was die bakker, kersmaker, kleremaakster, ensovoorts.

Met verloop van tyd het daar op die grense van die Kaapkolonie ’n soort pionier ontwikkel wat vir homself kon sorg en nie geaarsel het om met ’n tentwa en geweer die onbekende wildernis binne te dring nie.

 

Die lewenswyse op die platteland

Teen die tyd van die Groot Trek was die lewenswyse op die platteland baie eenvoudig. Huise was hier nie so groot en gerieflik as in die omstreke van Kaapstad nie. Die gewone tipe  plaashuis was meestal 30-40 vt. lank en plus-minus 20 vt. breed. Die eerste vertrek wat ’n reisiger binnegekom het, was ’n betreklike ruim voorhuis. Aan weerskante hiervan was daar twee kleiner vertrekke, wat as slaapkamers gebruik is, en deur binnemure, wat tot die hoogte van die buitemure gereik het, van die voorhuis afgeskei was. Die voorhuis het dikwels as eetkamer, sitkamer en kombuis gedien. Die beter klas plaashuis het gewoonlik ’n afsonderlike kombuis gehad. Soms was dit agter die huis aangebou, en in party gevalle is in ’n buitekombuis gekook.

Grondvloere is in die algemeen in die buitedistrikte gebruik. Dit was gewoonlik van gestampte miershoop gemaak, een waar ’n miershoop nie te kry was nie, is gewone klei gebruik. Om te verhoed dat sulke vloere uittrap of stowwerig word, is dit daagliks met beesmis gesmeer, wat met water  aangemaak is. Soms is dit boonop nog met allerlei soorte matjies bedek wat ook as versiering gedien het. Sinkdakke was onbekend. Huise is met strooi, riet en ander struikgewasse gedek, wat met riempies aan ’n raamwerk van hout of bamboes vasgebind is. Pale en sparre, meestal van doringhout, wat baie keer krom en ongeskaaf was, het as balke diens gedoen. Solders het meestal ontbreek sodat dakke van binne sigbaar was. Aan die hanebalke is geslagte skape, biltong, mieliekoppe en ander huishoudelike artikels gehang.

Die pioniers se meubels het by hul huise gepas. By ryk Boere in die distrikte kon af en toe ’n paar stukke ordentlike huisraad aangetref word, maar in die reël was boerehuise maar skraal gemeubileer. Die meubels was meestal deur die Boere self gemaak. In die voorhuis was daar ten minste een of twee tafels en ’n paar stoele of bankies. In die slaapkamers het daar soms ouderwetse ledekante met hoë kappe en gordyne wat privaatheid aan die katel verleen, gestaan. Maar die gewone katel was ’n vierkantige raamwerk van hout wat op vier pote gerus het. Dit was 2 vt. hoog en meestal met riempies gemat.

Die breekgoed van die grensboere het meestal bestaan uit onbreekbare dinge. Die borde was van egte tin gemaak. In die plek van koppies en pierings is gewoonlik ronde erdewerk-kommetjies gebruik. Verder het die Voortrekkers groot koperbekers gehad wat sowat 5 riksdalers gekos het.

 

Kulturele ontwikkeling

Die skool, die invloedrykste maatskaplike instelling van daardie eeu het nog nie sy verskyning gemaak nie. Hier en daar was daar reeds dorpskooltjies opgerig, maar hulle  was van weinig betekenis vir die platteland. Inderdaad was dit dan ook baie moeilik om ’n doeltreffende stelsel van onderwys vir die buitedistrikte in die lewe te roep, omdat die plase so ver van mekaar gelê het en die ouers die kinders tuis nodig gehad het. Gevolglik moes plaaskinders in die reël tevrede wees met die onderwyser wat hulle van rondtrekkende skoolmeesters kon kry. Hierdie mense wat ’n veragtelike posisie in die samelewing beklee het, het meestal self nog onderwys nodig gehad.

Daarby het hulle gewoonlik nie langer as ses maande of een jaar op dieselfde plek gebly nie. In hierdie kort tydjie moes hulle die opvoeding van hul leerlinge voltooi. Hulle  is verder nog bemoeilik deur die gebrek aan geskikte skoolboeke. Gevolglik het die kinders net geleer om te skryf en te lees en ’n bietjie te reken. Meer as dit het die ouers as oorbodig beskou.

Al was boeke skaars op die platteland, het nagenoeg elke gesin ten minste ’n Bybel besit. As gevolg van die skaarste aan predikante tot diep in die negentiende eeu, kon die kerklike bearbeiding in die binneland nooit vrugbaar word nie.

In die pionierslewe was die kerk die middelpunt van die samelewing. Elke kind moes gedoop word en elkeen moes lid van die kerk word.

 

Waar die Voortrekkers vandaan gekom het

Dit is nie moontlik om met sekerheid te sê watter getalle Voortrekkers uit bepaalde dele van die Kolonie gekom het nie. Wel het die siviele kommissarisse van die verskillende distrikte in 1837 instruksies ontvang om lyste van emigrante, met vermelding van hul woonplekke en die grootte van hul gesinne, aan die Goewerneur te stuur, maar die lyste wat in antwoord hierop opgestel is, verskaf slegs inligting oor 1,000 siele. Uit alle beskikbare gegewens blyk dit egter baie duidelik dat die oorgrote meerderheid van die Voortrekkers uit die Oostelike Provinsie gekom het, en wel vernaamlik uit die distrikte aan en naby die oosgrens, wat in die skaduwee van onrusbare naturelleprobleme verkeer het, nl. Uitenhage, Albany, Somerset, Cradock en Graaff-Reinet. Hierdie distrikte het ook die vernaamste leiers van die Groot Trek opgelewer.

 

Die welvaart van die Voortrekkers

Dis baie moeilik om ’n juiste begrip oor die welvaart van die Voortrekkers te vorm, want ongelukkig ontbreek die opgaaflyste wat lig op hierdie punt sou kon gewerp het. Maar dit staan bekend dat daar baie ryk mense onder hulle was. Destyds is beweer dat ou “ryk” Joseph van Dyk oor die £10,000 goud by hom gehad het, terwyl ene Roberts, wat saam met Retief vermoor is, ‘n duisend goue ponde by hom gehad het. ’n Besoeker het by sestien waens nie minder as 29,000 skape en 3,525 beeste getel nie. Daar was ongetwyfeld armes ook onder die Voortrekkers. Kort na die sesde Kafferoorlog is baie Boere tot die bedelstaf gebring. Die kaffers alleen het meer as 161,930 kleinvee en 111,930 beeste geroof, 455 huise verbrand en 58 waens verniel.

 

BIBLIOGRAFIE:

(1) Gedenkuitgawe Die Huisgenoot, Desember 1938.

(2) Geskiedenispamflet vir St. 5.

(3) Panorama, Desember 1957.