Gerard Moerdijk (1890-1958)
March 30, 2021
Johan le Roux
April 4, 2021

Daantjie Badenhorst

WH Coetzer was ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat veral vir sy skilderye en ander kunswerke bekendheid verwerf het.

Willem Hermanus Coetzer is op 9 November 1900 in Tarkastad in die Oos-Kaap gebore. Toe hy twee jaar oud was, het hy en sy gesin na Johannesburg verhuis, waar hulle eers in Braamfontein en later in Fordsburg gewoon het. Sy pa was werksaam op die myne. Voordat hy vyf jaar oud was, het hy aan die Lilian Road Infant School in Fordsburg begin skoolgaan, waarna hy in 1908 ’n leerder aan die Goede Hoop Skool in Fordsburg was. Later in die jaar het die gesin na Lakeview verhuis, en Coetzer het ’n leerder aan die Booysens Government School geword. Hy het sakgeld in sy standerd 6-jaar verdien deur koerante vir die Central News Agency te verkoop aan soldate wat in die Booysens-kamp vir hul deelname aan die Eerste Wêreldoorlog gewag het. Hy het in 1914 sy standerd 6-eksamen geslaag en ’n beurs verwerf om drie jaar lank aan die Ambagskool in Braamfontein as vakleerling te studeer. Teen die einde van 1917 het hy as gekwalifiseerde koetsbouer begin werk. Hy het hom in sy vrye tyd met kuns besig gehou, en in 1920 het hy vir ’n korrespondensiekursus by die Press Art School in Londen ingeskryf. In 1925 het hy op ’n studiereis na Londen vertrek nadat hy genoeg geld deur sy werk gespaar het, maar dit was, veral weens ’n gebrek aan geld, nie ’n sukses nie. Toe hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy sy werk as koetsbouer by J Jenkins and Son hervat. Gedurende hierdie tyd het hy elke jaar sy werk aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns voorgelê maar dit is telkens afgewys. In 1928 het Alfred Palmer, een van die beoordelaars, egter sy werk aanvaar en gevra om hom te ontmoet. Onder Palmer se aanmoediging het hy ’n uitstalling gehou en genoeg geld ingesamel om na Londen te vertrek en verder in die kuns te studeer. Toe hy sy werk aan die Londense Ploytechnic School of Art voorgelê het, is hy aanvanklik afgewys, maar nadat hy ’n aanbevelingsbrief van Palmer afgewys het, is sy werk aanvaar. Hier het hy onder Harry Watson en Giffard H Lefentsey gestudeer, terwyl hy daarby ook etswerk onder William Palmer Robins gestudeer het.

In 1933 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en drie weke lank in genl. Jan Smuts se huis op die plaas Doornkloof in Irene gewoon om sketse te maak. Hy het in Smuts se biblioteek in die boeke van Gustav Preller oor die Voortrekkers begin lees en ’n besondere belangstelling in die Afrikanergeskiedenis begin ontwikkel. In 1934 het hy na die Londense Polytechnic School of Art teruggekeer om die kuns van portret- en figuurstudie te bemeester. Met sy terugkeer die volgende jaar het hy ’n grondige studie van die Voortrekkers begin maak , waarna hy by uitstek die kunstenaar was wat die Afrikanergeskiedenis en volkslewe uitgebeeld het. Hy is aangestel om aandenkings vir die 1938-Simobliese Ossewatrek te ontwerp, asook vir die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949. Dit het onder meer sopkoppies, asbakkies, sakmesse, lepels en posseëls ingesluit. Sy kunswerke het wyd bekend geraak en hy het baie goeie pryse daarvoor behaal. In 1939 het hy ses maande lank aan die Potchefstroomse Normaalkollege in kuns klasgegee. Hy is op 9 November 1942 in Alberton met Joey Francis van der Merwe getroud en twee kinders is uit die huwelik gebore.

In Augustus 1945 het hy ’n beroerteaanval gehad en daarna het die vraag na sy werk toegeneem. Hoewel hy ses maande lank in en uit die hospitaal was, het hy ten volle herstel. In 1948 is sy werk by die uitstalling van Suid-Afrikaanse kuns in die Tate-galery in Londen ingesluit, terwyl sy werk ook in Europa en die Verenigde State van Amerika vertoon is. In 1952 het hy die tapisseriewerk van die Voortrekkermonument voltooi nadat hy vyf jaar lank daarmee besig was. In hierdie jare is hy telkens opdrag gegee om portrette van bekende persone, onder meer dr. DF Malan, advokaat JG Strijdom, Mimi Coertse en Totius te skilder.

In 1965 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met ’n erepenning vir sy historiese skilderye vereer. Hy is op 29 September 1983 in die ouderdom van 82 jaar oorlede.