Die rol wat die Afrikaanse vrou en moeder in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het in die vorming en bestendiging van ’n eie Suid-Afrikaanse kultuur
April 24, 2017
Die standbeeld van dr. Andrew Murray voor die NG Moederkerk op Wellington
May 3, 2017

(Geskryf deur mnr. WJ Fourie, soos verskyn in Historia Junior, November 1962)

Oral waar groepe mense saamwoon of -werk, is dit nodig om vir die goeie orde reëls of wette te hê. Almal sal seker saamstem dat dit noodsaaklik is, want as elkeen kon maak soos hy wil, sal dit baie gou groot wanorde afgee. Daarom het ons dan ook reëls in ons huise en skole, regulasies in ons dorpe en wette in ons land. Reëls en wette sal egter nie veel waarde hê, as ons hulle maar kan oortree sonder om gestraf te word nie. Ons weet almal maar te goed wat gebeur as ons die reëls by die huis of in die skool oortree, of as ’n motoris te vinnig die straat afjaag. Wetsgehoorsame mense weet egter dikwels nie eens wat die strawwe vir oortredings is nie. Die owerhede, sê die Bybel dan ook, is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegtes.

Ons strawwe van vandag is baie menslik en lig as ons dit vergelyk met die wette en strawwe van ongeveer 300 jaar gelede en nog later. Toe was strawwe wat op misdade gevolg het baie swaarder en soms uiters wreed. Die doodstraf is dikwels, en soms ook vir geringe oortredings toegepas. Dikwels is onmenslik wrede strawwe opgelê vir oortredings wat vir ons vandag maar baie nietig lyk.

Laat ons ’n bietjie teruggaan in die geskiedenis van ons vaderland en ’n paar van die oortredings en die strawwe wat daarop gevolg het van naderby beskou.

Toe Jan van Riebeeck ’n bietjie meer as driehonderd jaar gelede hier aangekom het, was een van die eerste take wat hy moes uitvoer, die bou van ’n fort. Hulle het heelwat moeilikheid ondervind met die Hottentotte wat, soos hulle gou agtergekom het, maar nie hulle hande kon tuis hou nie. As die werkers ’n stuk gereedskap of ’n geweer laat rondlê het, het dit sommer gou “voete gekry”. Om ’n end hieraan te maak, het van Riebeeck ’n reël gemaak dat elke arbeider sy eie geweer en gereedskap moes oppas. As ’n kêrel dan agtelosig was en sy geweer word gesteel, was die straf vyftig houe met die kolf van die geweer en die verlies van sy wynrantsoen vir agt dae.

Van Riebeeck het ook opdrag gekry om die Hottentotte baie vriendelik te behandel. Om seker te maak dat een van sy manne nie dalk sy humeur verloor en ’n lastige Hottentot ’n opstopper gee nie, het hy bepaal dat enigiemand wat ’n Hottentot kwaad aandoen (of die Hottentot nou daarna gesoek het of nie) met “50 slagen gelaarsd” sou word. Dit was ’n seemansuitdrukking wat beteken het dat hy vyftig houe met ’n dik tou op ’n nat broek sou ontvang.

Die harde werk, die baie ontberinge en die swak kos het ’n paar van die manne laat besluit dat die roofdiere en die woeste en onbekende wildernis verkiesliker sou wees as dié harde lewe. Hulle het gedros met die doel om na Mosambiek te loop. Hulle kennis van die afstande was maar gebrekkig, want spoedig het hulle uitgevind dat Mosambiek nie agter die eerste bult lê nie. Moeg en uitgeput het hulle na die fort teruggekeer. Die straf vir hierdie onbesonne daad was baie swaar. Hulle is gevonnis om vir twee jaar “aen de gemeene en vuile wercken te arbeiden”. Jan Blancq, wat reeds ’n vorige oortreding op sy kerfstok gehad het, het boonop nog 150 slae ontvang en is gekielhaal. Kielhaal was ’n uiters wrede strafmetode wat enige matroos in daardie dae sy lewe gekos het. Die voete en hande van die veroordeelde is met Iang toue vasgebind. Die tou aan die voete is dan onder die kiel van die skip deurgetrek. Die ongelukkige slagoffer is dan oorboord gegooi en met die tou onder die skip deurgetrek. As hy nie verdrink het, soos baie keer die geval was nie, is sy liggaam so stukkend gesny deur die skerp skulpe onder aan die skip, dat hy dikwels later ’n pynlike dood gesterf het.

Die Kompanjie het ook gesorg dat die amptenare gereeld kerk toe gaan. Versuim om dit te doen, het die oortreder aan swaar strawwe blootgestel. By die eerste oortreding het hy een week se wynrantsoen verloor. By die tweede oortreding het hy sy wynrantsoen en een maand se loon verloor. As die oortreder volhard en vir die derde maal nie by die kerk opdaag nie, kan hy vir een jaar lank sonder loon “in de kettingh aan de gemeene wercken verbannen worden”.

Brand was later een van die grootste nagmerries van die nedersetting aan die Kaap. Die grasdakke van die huise het maklik vlam gevat en dit het dikwels groot skade veroorsaak. Om brande te verhoed, is ’n reël gemaak dat niemand sy pyp op straat mag rook nie. Die straf vir ’n matroos of burger wat nie sy rooklus kon bedwing nie, was ’n deftige loesing met ’n dik skeepstou.

Ons het seker almal al die uitdrukking gehoor: Hy vloek soos ’n matroos. Die matrose in daardie dae was werklik ’n ruwe ou klomp, wat seker dikwels hulle gekruide seemanstaal in die openbaar laat hoor het. Dit kon nie toegelaat word nie. As ’n persoon in die openbaar vloekwoorde gebruik, moes hy vir drie agtereenvolgende Sondae by die ingang van die kerk gaan staan, waar almal hom kon sien. Om sy nek is dan ’n groot bord gehang waarop die woord “Godslasteraar” gestaan het.

Strawwe was nie alleen baie wreed nie, maar soms ook baie vermaaklik. Dink maar net aan die bekende Prag- en Praalwette van Vader Tulbagh. Net soos vandag het die vrouens van daardie dae graag die nuwe modes nagevolg. Daarvan het die wetgewers, wat natuurlik mans was, glad nie gehou nie. So is bepaal dat ’n vrou wat ’n rok dra wat “van agteren tegen de grond koomen te slepen” (seker die nuutste mode van daardie dae) ’n boete van vyf en twintig riksdaalders moes betaal. ’n Mens wonder wat van ’n wetgewer sal word wat dit sal waag om vandag so ’n wet te maak!