Welgemeend, Kampstraat (Geen toegang)

Rust en Vreugd
December 12, 2017
Leeuwenhof
December 12, 2017

Bokant die Kompanjiestuin en Rust en Vreugd, teen die hang van Tafelberg, is daar in die 17de eeu verskeie landgoedere aan vryburgers en amptenare toegeken. In die 18de eeu is op hierdie grond eweneens pragtige herehuise gebou. Sommige van hierdie ou historiese geboue soos Oranjezicht en Saasveld is reeds gesloop. Talle ander soos Waterhof, Bellevue, Rheezicht en Nooitgedacht staan nog, maar hulle is tans nog glad nie almal teen toekomstige skending en selfs sloping beveilig nie. Twee uit die geledere van hierdie ou herehuise, nl. Welgemeend in Kampstraat en Leeuwenhof in Hofstraat word egter deur proklamasie beskerm.

Welgemeend, die bekende Hofmeyr-woning, staan op grond wat in 1693 toegeken is aan Andries de Man, wat as sekunde aan die Kaap in die tyd van Simon van der Stel diens gedoen het.

In die 18de eeu het Welgemeend ’n lang reeks eienaars gehad voordat dit in besit van die Hofmeyrs gekom het. Dit vorm dus ’n skakel met die volgende bekende families: Coetzer, Steyn, Michau, Strydom, Coetzee, De Kock en De Waal. In 1769 het dit in besit gekom van Bartholomeus Bosch, wie se weduwee in 1772 in die huwelik getree het met Jan Hendrik Hofmeyr, stamvader van die Hofmeyrs in Suid-Afrika en opsigter van die Kompanjiespos te Groote Schuur.

Die oudste deel van die huis, d.w.s. die linkervleuel en die wynkelder, is waarskynlik vroeg in die 18de eeu gebou. Die eiendom was 3,4 ha groot toe dit in 1789 aan Stephanus J Hofmeyr, tweede seun van JH Hofmeyr en oorgrootvader van JH (Onze Jan) Hofmeyr, nagelaat is. Stephanus het die landerye drie maal vergroot en die nuutste deel van die woonhuis aangebou, wat dus in die begin van die 19de eeu sy huidige vorm gekry het. Van die breë stoep met massiewe pilare en prieel was daar ’n onbelemmerde uitsig oor Kaapstad en Tafelbaai. Die gebou self het ’n plat dak gehad en was besonder stewig gebou. Aan die agterkant was ’n slawegebou. Vroeër het Welgemeend se woonhuis alleen gestaan te midde van sy boorde en wingerde wat van Kloofstraat tot by De Waalpark, en van Kampstraat tot teen die berghang gestrek het. In 1879 is die grond in erwe verdeel en die perseel heelwat kleiner gemaak.

In hierdie huis is Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) op 4 Julie 1845 gebore en hy het die huis bewoon tot 1904. Belangrike politieke samesprekings het gedurende Hofmeyr se loopbaan as leier van die Afrikanerbond in hierdie huis plaasgevind. Besoekers van ver tot uit Transvaal het o.a. ingesluit Paul Kruger, Piet Joubert en dr. Jorissen, wat in Junie 1880 ’n koukusvergadering van Hofmeyr se ondersteuners hier bygewoon het.

Hofmeyr het die koukusmetode in die Kaapse politiek ingevoer en Welgemeend was die gereelde bymekaarkomplek vir sy parlementêre groep.

Na 1904 het die eiendom in besit van die Hofmeyr-familie gebly. Dit is lank bewoon deur mnr. Gys R Hofmeyr, later Administrateur van Suidwes-Afrika, en in 1944 is dit deur die Kaaplandse Onderwysdepartement aangekoop. In daardie jaar is die volgende deel van die huis as gedenkwaardigheid geproklameer: die volle lengte van die twee stoepe en die deel wat hulle verbind; die pilare en die prieel; die hele voorkant en die sentrale vertrekke, bestaande uit die ingangsportaal en die twee aangrensende voorste kamers, voorvertrek en badkamer.

(Geproklameer 1944)

 

HC de Meillon • Welgemeend c. 1825-1830 • William Fehr-versameling

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 19-20.