Weer Afrikaners in diaspora

Verkiesing van 1994
January 26, 2015
Die aftakeling van Afrikaans
January 26, 2015

Ongeveer ’n half miljoen wit Suid-Afrikaners bevind hulle in die buiteland, het ’n kerkblad, Die Hervormer, op 15 Julie 1999 geskryf. Hoeveel Afrikaner-emigrante daar is, kan niemand met sekerheid sê nie. Niemand kan egter die beskrywing van die gevolge van die uittog betwis nie: “Die Afrikaanse gemeenskap van Suid-Afrika is ’n ouer wordende gemeenskap, met relatief min jong mense. Dit is veral jong mense wat in die buiteland gaan werk, wat beteken dat kerke toenemend ‘n daling van lidmate gaan beleef. Die ouer lidmate sterf, en die jonges emigreer.”

Aangesien die geboortesyfers van die wit mense, en dus ook die Afrikaners al die laaste dekades van die eeu gedaal het, lyk dit of Afrikaners afstuur op ’n groot demografiese ramp. Jong emigrante gaan veral na Engelssprekende lande, waar hulle hul kinders na skole van daardie lande stuur. Daar dreig dus ’n herhaling van die toestand wat in Johannesburg bestaan het voordat daar Afrikaanse skole was. Ds WM Nicol, lank predikant in Johannesburg, het gesê: “As ons terugdink aan die jare van 1900 tot 1921 en ons vra waar is die jong Afrikaners wat Johannesburg in daardie jare opgelewer het, dan moet ons erken dat hulle vir ons verdwyn het. Ek het 25 jaar lank in Johannesburg gesoek na daardie kinders. Met ’n paar uitsonderings is hulle vir ons verlore. Hulle wil niks met ons te doen hê nie. In Bloemfontein staan ‘n monument vir die 26 000 vroue en kinders wat in die Engelse oorlog verlore is. Ons behoort hier ’n monument op te rig vir die 50 000 kinders wat hier in Johannesburg in daardie tyd verlore gegaan het. Dit is ’n tragedie, die diefstal van ‘n mensegeslag.”

Die oorsake van die nuwe tragedie is velerlei: ’n hoë misdaadsyfer, verswak-kende gesondheidsdienste en onderwys, die korrupsie en wanbestuur wat so ’n belangrike aspek van die Nuwe Suid-Afrika geword het en regstellende aksie. Wit mense vind dat hulle ondanks goeie opleiding en prestasies geen werk kan kry nie omdat die staat en die sakesektor teen hulle diskrimineer. Lande soos Amerika en Brittanje raap die bekwame en goedgeaarde jong wit Suid-Afrikaners gretig op.

Voorstanders van die volkstaatgedagte het gehoop dat ’n volkstaat ’n alternatief vir emigrasie kon bied. Maar daarvan het tot in 1999 nog niks gekom nie en die volkstaatdorp Orania kon nog min kapitaal lok, hoewel daar reeds verskeie belowende bedrywe aangepak is. Vir jong avontuurlustiges is Amerika, Brittanje, Nederland, die hele Europa, ’n aantrekliker keuse as die Noord-Kaap. Die verkiesing van 1999 het bowendien ’n daling in die steun vir die Vryheidsfront, draer van die volkstaatgedagte, aan die lig gebring. Tog sou ’n volkstaat ’n groeipunt vir Afrikaans kon word.

’n Ander moontlike groeipunt is die geleenthede wat die kuberruimte bied. In 1999 was Afrikaanstaliges die taalgroep in Suid-Afrika wat die Internet die meeste gebruik het. Dit is onder meer om kontak per Internet met die Afrikaners in diaspora te maak dat die FAK hierdie reeks dagstukkies oor die Afrikanergeskiedenis laat skryf het.