Watervoorsiening vir die Boksburgse goudvelde (1886–1890)

Gedagtes oor die Bloedrivier-monument
October 20, 2015
Die koms van die Britse Setlaars
October 20, 2015

Geskryf deur HM Rex (soos verskyn in Junior Historia)

Toe dit in die loop van 1886 bekend geword het dat daar op die plaas Leeuwpoort aan die Oosrand ryk goudneerslae aanwesig was, was dit ook heel gou duidelik dat ’n gebrek aan water in daardie omgewing ’n ernstige struikelblok tot die ontginning van die goud sou oplewer. Die omgewing waar Boksburg vandag geleë is, was 75 jaar gelede feitlik ’n waterlose streek en volgens ’n vertelling was daar vanaf die opstal van mnr. Knight (die teenswoordige Knights-halte) tot by Modderfontein, 15 myl verder, net een enkele boom te sien.

Water vir huislike en myndoeleindes was aanvanklik ’n lewenskwessie en totdat water voorsien kon word, sou daar van goudontginning op Leeuwpoort niks tereg kon kom nie.

Die eerste persoon wat ’n daadwerklike poging in die werk gestel het om die nuwe goudveld op die Oosrand van water te voorsien, was ’n sekere E. Bierman. Op 30 Oktober 1886, in dieselfde maand dat Rantjeslaagte tot ’n publieke delwery verklaar is, het Bierman toestemming van die Republikeinse Regering gevra om ’n dam in die droë spruit op die goewermentsplaas Vogelfontein te maak. Laasgenoemde plaas was geleë langsaan die plaas Leeuwpoort, wat alreeds vanaf 1860 in die besit van Carl F Ziervogel was.

Bierman het sy aansoek as volg gemotiveer: “Door het leggen dezer dam zal het mogelyk worden dat machineriën voor goudbewerking zal kunnen opgerigt worden, waardoor de goudindustrie op de plaats Leeuwpoort annex, zeer zal bevorderd worden.” Verder het hy die aandag van die Regering gevestig op die feit dat die water wat op daardie tydstip op die plaas aanwesig was, slegs uit ’n paar kuile bestaan het wat ongeveer 100 tree van die plaas Leeuwpoort verwyder was. Daardeur het die enkele waterkuile vir die goudindustrie hoegenaamd geen waarde gehad nie.

Uit ’n brief van die Mynkommissaris aan die Staatsekretaris blyk dit ook dat daar in Julie 1887 net een klein fontein op Vogelfontein aanwesig was waaruit drinkwater vir die eerste inwoners van die nuwe goudveld geskep kon word. Omdat daar nie voldoende drinkwater uit die een enkele fontein beskikbaar was nie, het die Mynkommissaris dan ook beklemtoon dat ’n dam vir die nuwe goudveld uiters noodsaaklik was.

Na aanleiding van die aansoek van Bierman vir die oprigting van ’n dam, het die Staatsekretaris op 9 November 1886 die Registrateur van Aktes gevra om enkele opmerkings te maak oor die kwessie van watervoorsiening op Vogelfontein en Leeuwpoort. Uit die opmerkings van die Registrateur van Aktes blyk dit dat Vogelfontein, geleë in die distrik Heidelberg, 550 morge groot was, aan die Regering behoort het en sonder water was, terwyl dit verder aan die plaas van Ziervogel gegrens het. Volgens sy opinie sou dit goed wees indien daar deur middel van ’n dam, soos deur Bierman aangevra is, ’n watervoorraad tot stand kon kom en die goudvelde in die buurt ontgin kon word.

Vervolgens is daar aan Bierman toestemming verleen tot die maak van ’n dam onder sekere voorwaardes, nadat ’n hele aantal probleme van praktiese aard (soos die presiese ligging van die dam) opgeduik het en eers tot die tevredenheid van al die inwoners opgelos moes word. As gevolg van verskillende redes en omstandighede het die bou van die dam lank gesloer en het Bierman se dam eers in die loop van 1887 tot stand gekom. Die dam, wat in die aangesig van so baie teenstand gebou is, het egter nie lank in die behoeftes van Boksburg voorsien nie, want op 29 November 1887 skrywe Jan Eloff, die Mynkommissaris, aan die Hoof van Mynwese dat die dam wat deur Bierman gemaak is, deur die laaste reën weggespoel is! Uit ’n kommissierapport wat in Februarie 1888 uitgebring is, blyk dit dat Bierman se dam swak gebou was en dat die dam uit sooiwalle bestaan het, met sooie wat die wal gestut het. Alhoewel Bierman nie sorg gedra het dat ’n goeie dam gebou is nie, moet hy nietemin eer kry vir sy pionierswerk in hierdie verband.

Nadat die wal van Bierman se dam weggespoel het, was dit noodsaaklik dat daar van regeringsweë optrede sou kom en daarom het Wierda, die Goeverments Ingenieur en Architekt gedurende Desember 1887 ’n besoek aan Boksburg gebring met die doel om daar ter plaatse ’n deeglike inspeksie in te stel en na aanleiding daarvan by die Regering aanbevelings te maak. Wierda het waarskynlik insae gehad in ’n rapport wat die Hoof van Mynwese oor die kwessie van watervoorsiening vir Boksburg opgestel en vroeg in 1888 aan die Regering voorgelê het, want dit is opmerklik dat hy en Wierda se aanbevelings grotendeels ooreenstem. Die Hoof van Mynwese het onder andere die volgende opmerkings gemaak: “De vergunning verleend aan den Heer Bierman om op het dorp Boksburg een dam te hebben, te beschouwen als zyn vervallen en op de plek waar deze dam is aangelegd van Gouvernementswege zoo spoedig mogelyk een hechten en sterken dam aan te leggen. Het punt is als door de natuur aangewezen voor den aanleg van een dam en de waarde ter standplaatsen op Boksburg zal daardoor zeer toenemen terwyl niet uit het oog verloren mag worden dat een goede watervoorraad voor dat dorp een levensvoorwaarde is. De dam … die aangelegd zal worden ongeveer 600 yards boven de dam aan Bierman toegestaan dat ik aan de hand wil geven op Boksburg een dam te doen maken op de plaats waar aan Bierman den
aanleg daarvan vergund was …”

Wierda het op 13 Desember 1887 aan die Regering gerapporteer dat die mees geskikte plek vir ’n dam 600 jaarts bo, d.w.s. noord van die dam van Bierman geleë was. Wanneer mens dus vandag met Kommissarisstraat oor die teenswoordige damwal van die Boksburgmeer ry, kan vasgestel word dat die wal van Bierman se dam ongeveer 600 jaarts na die suidekant (naby die treinspoor wat daarlangs loop) geleë was.

Wierda het dadelik ’n tekening en bestek van die op te rigte dam gereed gemaak en ’n tydsbepaling vir die oprigting op agt maande vasgestel. Op 27 Desember 1887 was sy plan en bestek van die dam
gereed.

Gedurende Januarie 1888 het die Tenderkommissie aanbeveel dat die tender van G. Venter teen ’n bedrag van R2,600 vir die bou van die nuwe dam aanvaar moes word en is die Gouvernements Ingenieur en Architekt terselfdertyd opgedra om ’n kontrak op te stel.

Vervolgens het die Uitvoerende Raad op 25 Februarie 1888 besluit dat aangesien Bierman nie aan sy verpligtinge om binne ’n vasgestelde tyd ’n goeie dam te bou, voldoen het nie, die ooreenkoms tussen hom en die Regering as verbreek beskou moes word. Aansluitend daarby is besluit dat G. Venter die opdrag sal kry om ’n nuwe dam te bou.

Venter het die kontrak met die Regering op 28 April 1888 onderteken, daarna aan die werk gespring en op 10 Januarie 1890 is die voltooide dam deur Venter afgelewer.

In sy jaarverslag oor die tydperk 1890 het Wierda die volgende in verband met die dam op Boksburg gemeld: “Deze kwam in Julie 1890 gereed (ander dokumente maak melding van Januarie 1890). De hoogte daarvan bedraagt in het midden 2 voet en daarop is aan de waterzyde eene kade opgetrokken ter breedte van 10 voet. De ryweg, waarboven die kade zich 6 voet verheft, heeft eene breedte van 24 voet, terwyl het water by hoog peil, aan het westeinde van den dam een overlaat of uitloop ontmoet waardoor het kan wegvloeien, zoodat de hoogste waterstand immer beneden het vlak van den ryweg blyft. Op ongeveer 6 voet boven het laagste punt van den bodem zyn in den dam afsluitbare aftapbuizen aangebracht, om wanneer dit nodig is het water te kunnen loozen.”

Ek sluit af met ’n aanhaling uit ’n brosjure wat oor Boksburg handel: “The Boksburg Lake is man-made. A monument to the successful endeavour of earlier inhabitants, it is a great boon to the populace today, and showpiece of the town. Around the lake, and within the town itself, are thousands of trees which were planted early in Boksburg’s history. These have now reached maturity with a most pleasing effect.”