Watermeul, Prins Albert

Blokhuis, Laingsburg
September 25, 2019
Korbeelhuise, distrikte Williston/Carnarvon
September 25, 2019

Prins Albert lê aan die voet van die Swartbergpas, 72 km van Oudtshoorn aan die een kant en 45 km van die nasionale pad tussen Laingsburg en Beaufort-Wes aan die ander kant. Dit is ’n interessante ou dorpie, waar die wit gewelhuisies sterk die invloed van die kenmerkende Bolandse boustyl openbaar. Dit is egter die watermeul digby die pad, aan die linkerkant, net waar ’n mens die dorp verlaat om die Swartbergpas in te gaan, wat hier die aandag verg.

In die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse landbou vorm die maal van koring nogal ’n interessante hoofstuk. Komende van Nederland, het die allereerste nedersetters aan die Kaap die windmeul gebruik waarvan die Mostertsmeul langs die De Waalpad nog ’n voorbeeld is. Na gelang die uitbreiding na die binneland, plaasgevind het, is watermeulens, en waar nie water was nie, perdemeulens, op sentraal geleë plekke opgerig. Die meulens het ’n belangrike plek in die lewe van die gemeenskap ingeneem, en die meeste plekke waar hulle gestaan het, is bekend. Ongelukkig bestaan daar vandag nog maar weinig van die ou meulens. Daarom is die ou watermeul te Prins Albert nie alleen van historiese nie, maar ook van kulturele betekenis.

Die ou meul is rondom die jaar 1850 deur mnr. H. J. Botes opgerig. Hy het die geboutjie, waarin die meul sowel as ’n waterwiel van 2,4 m deursnee gehuisves is, gebou en daarna ’n voor aangelê om die water bo uit die berg aan te voer. In 1865 is die meul deur mnr. N. A. A. Alberts van mnr. Botes oorgeneem. Van hom het dit na sy seun en uiteindelik sy kleinseun, die huidige eienaar, gegaan. So het dit ’n familiesaak geword waarin die eienaar self die groot waterwiel van tyd tot tyd vervang en die maalstene uit sandsteen uit die distrik George geslyp het. Die meul maal ongeveer ’n sak koring per uur, maar die ou boere glo dat brood uit hierdie meel gebak ’n spesiale geur en smaak het.

In 1963 moes die ou meul byna vir die moderne ontwikkeling swig. Die pad moes breër gemaak word en die meul was letterlik in die pad. Nou was die ou meul egter reeds ’n historiese monument en deur onderhandeling kon dit ongeskonde bewaar word.

(Geproklameer 1959)

Foto: Reg. Jordan • Die Ou Meul Prins Albert • BD Malan

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 179.