Waterhof (Geen toegang)

Leeuwenhof
December 12, 2017
Pomphuis, Princestraat
December 12, 2017

Net onderkant Leeuwenhof, aan die teenoorgestelde kant van Hofstraat is nog ’n ou herehuis, Waterhof, geleë. Die tuin is nie slegs een van die grootste nie, maar ook een van die mooiste wat tans nog aan ’n ou eiendom in die Tafelvallei verbonde is. Om die byna dramatiese skoonheid van hierdie tuin en huis te waardeer, moet dit van onder af besigtig word. ’n Groot grasperk, omring en gebroke met reuse bome en weelderige struike, strek tot teen die skerp helling wat in terrasse, oorgroeid met die grootste verskeidenheid plante en blomme, oploop na die indrukwekkende trap van die huis. Deur die weelde van plantegroei kyk die groot wit gewel skugter uit op die Tafelvallei en Tafelbaai. Agter die huis verrys die blougrys rotse van Tafelberg loodreg in die hoogte.

Die grond waarop hierdie huis en tuin geleë is, was oorspronklik deel van die landgoed Leeuwenhof, maar in 1782 het JC Bräsler dit aan JFW Böttiger verkoop om hom in staat te stel om sy swierige huis op Leeuwenhof te bou. Böttiger was ’n koopman in linneware en hy het die eiendom waarskynlik met die oog op spekulasie gekoop. Daarom verkoop hy dit dan ook nog in dieselfde jaar aan Marthinus Johannes Möller, wat dit op sy beurt in 1785 aan Hendrik Justinus de Wet verkoop. As voorsitter van die Burgerraad was hy destyds as’t ware die mondstuk van die koloniste by die sentrale regering en het dus ’n leidende rol in die klein Kaapse gemeenskap gespeel. Dit moet dan ook aanvaar word dat hy die huis in dieselfde jaar wat hy die grond gekoop het of kort daarna, gebou het. Die grondplan was oorspronklik U-vormig.

De Wet is in 1804 oorlede en Waterhof is aan JH Hofmeyr, die oudste seun van die stamvader van hierdie beroemde Suid-Afrikaanse familie, verkoop. Hy het hier tot sy dood in 1820 gewoon. Toe die begraafplaas in Somersetweg enige jare gelede opgeruim is, is sy grafsteen in die muur van die motorhuis ingebou.

Na die dood van Hofmeyr het Waterhof dikwels van eienaar verwissel en in die loop van jare is daar veranderings aan die huis gemaak. Eers is daar op groot skaal agter die huis aangebou. Toe aan die begin van die jare sestig is die hoofingang verskuif; ’n woonstel is bokant die ingangsportaal gebou en die binnekant grootliks verander. Nogtans bly hierdie gebou en sy tuin ’n lushof in die midde van Kaapstad.

(Geproklameer 1969)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 23.