30 APRIL
November 1, 2016
Wat is die oorsprong van die term hartbeeshuis?
November 17, 2016

Hierdie is die eerste artikel in ’n reeks oor volksargitektuur. Lees gerus die ander artikels in die reeks.

Mense wat belangstel in Suid-Afrikaanse geskiedenis en hoe ons voorouers gelewe het, verskil dikwels oor wat nou eintlik as ’n “harbeeshuisie” beskou kan word. Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, verduidelik aan die hand van vroeë literatuur wat ’n hartbeeshuisie regtig is.

Tydens navorsing oor pionierswonings in Suid-Afrika het dit duidelik geword dat groot onsekerheid oor die begrip hartbeeshuis bestaan. Leke verwys dikwels na eenvoudige plaashuise soos die pioniershuis in Pretoria as hartbeeshuise, terwyl sommige kultuurhistorici slegs die omgekeerde bootvormige dakhuis as ’n hartbeeshuis beskou.

figuur-1

Figuur 1. Drie bootvormige hartbeeshuise by die Berlynse sendingstasie by Bethanië in die Transorangia (detail). (James Backhouse, Bethanië, ets, 1839). Uit: J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa (London, 1844), teenoor p. 421.

In hierdie artikel word aan die hand van veral tydgenootlike getuienis bepaal watter strukture oorspronklik as hartbeeshuise bekend gestaan het.

Omgekeerde bootvormige dakhuise as hartbeeshuise

Enkele Africana-prente bestaan van omgekeerde bootvormige dakhuise, waarna as hartbeeshuise verwys word. Charles Bell, het in 1836 ’n bootvormige dakhuis met die titel Hartebeesthut geskets.[1]

Catharina C.E. Aucamp (1868–1953) het in haar herinneringe ’n hartbeeshuis só beskryf: “Wanneer die bestemde tyd daar is, wort … [die pale] ingeplant in die voor wat gemaak is. Nou wort … [die pale] almal boo bymekaar getrek en styf  vasgemaak lit dit ’n (omgekeerdebootvormige) vatsoen vorm….”[2] (Fig. 1).

Wigvormige dakhuise as hartbeeshuise

Kestell skryf:

Op Kalkfontein [in die distrik Bloemfontein] het Jacobus de Wet [in ca. 1860] ’n hartbeeshuis gebou.  …wat uit niks anders bestaan het nie as ’n spits dak, wat op die grond gerus het. Daar was geen mure nie. Seer tenger was die huisie saamgestel met latte en gedek met tamboekiegras.

Bogenoemde verwys na ’n wigvormige dakhuis wat ook as ’n kapstylhuis bekend staan (Fig. 2).

Figuur 2. Hartbeeshuis (wigvormige dakhuis) in Brits Oos-Afrika, ca. 1908. Uit: B. Maie, Voortrekkerslewe in donker Afrika. Twede druk. J.H. de Bussy, Beperk, (Kaapstad, 1928), teenoor p. 134.

Figuur 2. Hartbeeshuis (wigvormige dakhuis) in Brits Oos-Afrika, ca. 1908.
Uit: B. Maie, Voortrekkerslewe in donker Afrika. Twede druk. J.H. de Bussy, Beperk, (Kaapstad, 1928), teenoor p. 134.

Die kunstenaar en reisiger Thomas Baines skryf: “The hartebeeste hut shown in the … camp scene in Kafirland…has one straight side, and one lean-to….”[3] (Fig. 5). Baines se skets en beskrywing verwys dus na ’n “halwe” wigvormige dakhuis (Fig. 3).

Figuur 3. ’n “Halwe” wigvormige dakhuis. (Thomas Baines, Hartebeeste hut, houtsnee, s.a., middel 19de eeu). Uit: W.B. Lord & T. Baines, Shifts and expedients of camp life, travel and exploration (Africana Reprint Library III. Reduced facsimile reproduction of the 1876 edition) (Johannesburg, 1975), p. 222.

Figuur 3. ’n “Halwe” wigvormige dakhuis. (Thomas Baines, Hartebeeste hut, houtsnee, s.a., middel 19de eeu).
Uit: W.B. Lord & T. Baines, Shifts and expedients of camp life, travel and exploration (Africana Reprint Library III. Reduced facsimile reproduction of the 1876 edition) (Johannesburg, 1975), p. 222.

Ontwikkelde wigvormige dakhuise as hartbeeshuise

Die Morawiese sendeling, eerwaarde C.I. Latrobe, skryf op 30 April 1816: “… a hartebeest-house, being a roof, put upon a wall about two feet in height.”[4] Latrobe maak ’n definitiewe onderskeid tussen dak en muur en verwys dus na ’n wigvormige dakhuis op lae mure (Fig. 4).

Figuur 4. ’n Wigvormige dakhuis op lae mure in die Swartland, in die huidige distrik Malmesbury, Wes-Kaap. (Anoniem, Uitsig op ’n Kaapse koring, wyn en veeplaas (detail). Uit: P.E. Raper & M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon: Cape travels, 1777 to 1786 I (Houghton, © 1988), p. 38.

Figuur 4. ’n Wigvormige dakhuis op lae mure in die Swartland, in die huidige distrik Malmesbury, Wes-Kaap. (Anoniem, Uitsig op ’n Kaapse koring, wyn en veeplaas (detail).
Uit: P.E. Raper & M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon: Cape travels, 1777 to 1786 I (Houghton, © 1988), p. 38.

Tydelike muurhuise as hartbeeshuise

Maria Minnaar, een van die vroegste intrekkers in die gebied aan die “Aaprivier” (1844),[5] tans Pretoria, het in haar herinneringe vertel:

As ons dan ’n geskikte bouplek uitgesoek het … het die manne ’n eerste hartbeeshuisie gebou, wat die gedaante aangeneem het van ’n langwerpige vierkant in twee of drie vertrekke verdeel, waarvan soms al die mure ook van pale en klei, dikwels slegs van klei, onder grasdak, maar ook weleens van klip, as mens nie kans gesien het om gou genoeg ’n goeie huis te bou nie.[6]

J.H. Stander, van Allisonia, distrik Standerton, het vertel:

Die mense het meesal hartbeeshuisies gebou, dikwels van riet en klei. … So was ook die huis wat Stander en sij gesin bewoon het in Marico [Wes-Transvaal], en self sook die deure daarvan van riet en klei gemaak.[7]

Die rietmuurhuise van Hopefield in die Wes-Kaap het in 1984 daar nog as hartbeeshuise bekend gestaan[8] (Fig. 5).

Figuur 5. ’n Rietmuurhuis (hartbeeshuis) in die munisipale gebied van Hopefield, Wes-Kaap. Uit: C. Wessels, Die kultuur-historiese belang van die “hardebieshuise” van Hopefield. Restorica no. 19 April 1986. p. 9.

Figuur 5. ’n Rietmuurhuis (hartbeeshuis) in die munisipale gebied van Hopefield, Wes-Kaap.
Uit: C. Wessels, Die kultuur-historiese belang van die “hardebieshuise” van Hopefield. Restorica no. 19 April 1986. p. 9.

Besluit

Ooreenkomstig bogenoemde tydgenootlike, asook latere mondelinge en skriftelike getuienis, word die volgende by die begrip hartbeeshuis ingesluit: omgekeerde bootvormige en wigvormige dakhuise, wigvormige dakhuise op laemure, asook muurhuise in sy eenvoudigste vorm, waarvan die mure nie hoër as ongeveer deurhoogte is nie.

[1] Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad: A 1415 (73), skets: Hartebeesthut, C. Bell, s.a.

[2] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868–1953), in H. Aucamp, (red.), Op die Stormberge. ’n Vertolking van ’n streek (Kaapstad & Johannesburg, 1971), p. 102.

[3] W.B. Lord & T. Baines, Shifts and expedients of camp life, travel and exploration (Africana Reprint Library III. Reduced facsimile reproduction of the 1876 edition) (Johannesburg, 1975), p. 248.

[4] C.I. Latrobe, Journal of a visit to South Africa in 1815 and 1816 with some account of the missionary setlements of the united brethren, near the Cape of Good Hope. London, 1818 (Facsimile reprint by C. Struik, Cape Town, 1969), p. 256.

[5] G.S. Preller, Ou Pretoria (Pretoria, 1938), pp. 10, 11 & 13–14.

[6] G.S. Preller, Ou Pretoria, p. 13.

[7] G.S. Preller, Voortrekkermense III (Kaapstad & Bloemfontein, 1938), p. 75.

[8] C. Wessels, Die kultuur-historiese belang van die “hardebieshuise” van Hopefield (Kronos nr. 10, 1985), p. 3.