Wat is die oorsprong van die Suid-Afrikaanse bootvormige hartbeeshuis?

Wat is die oorsprong van die term hartbeeshuis?
November 17, 2016
Hoe het die Voortrekkers ʼn bootvormige hartbeeshuis gebou? Die raamwerk
November 17, 2016

In hierdie artikel word die omstrede oorsprong van die omgekeerde bootvormige (hierna bootvormige) hartbeeshuis van nader beskou. Die algemene mening is dat die bootvormige hartbeeshuis op een of ander wyse met die Khoi-Khoin en veral met die Khoikhoi-matjieshut verband hou.

Walton het daarop gewys dat al die beskrywings van bootvormige hartbeeshuise so sterk ooreenkom dat ’n gemeenskaplike ou oervorm veronderstel moet word.[1] Hy het egter nie sy stelling met bewyslewering gestaaf nie. Walton het later radikaal van standpunt verander: “It has no direct counterpart in western Europe” en “It seems more probable that it represents a modification of the framework of the circular Khoikhoi mat hut to suit a rectangular plan.”[2]

Nieteenstaande Walton se onsekerheid, is sy standpunt nie bevraagteken nie, maar het dit in teendeel groot aanhang van kultuurhistorici geniet.

Die Noordwes-Europese bootvormige dakhuistradisie

Die vroegste bekende hutargitektuur buite Afrika is ’n groep bootvormige strukture by die argeologiese terrein Terra Amata aan die Mediterreense kus by die huidige Suid-Franse stad Nice.[3] Dié Paleolitiese terrein dateer uit ongeveer 300 000 jaar gelede[4] (Fig. 1). By Dullenried, Federsee, Württemberg, Duitsland is die argeologiese oorblyfsels opgegrawe van ’n bootvormige dakhuis wat uit ca. 6 000 tot 1 500 v.C. dateer[5] (Fig. 2). Aanduidings bestaan ook dat Skandinawiese wonings tydens die vroeë Ystertydperk (750-500 v.C.) bootvormige strukture was, waarvan die nok na gelang van die grootte van die gebou, deur een of twee rye daksuile ondersteun is.[6] Trefois is van mening dat die bootvormige woning ’n hoogtepunt in die La Tène-tydperk (500-400 v.C.) by Ezinge, Nederland bereik het.[7]

Figuur 1. Rekonstruksie van ’n Paleolitiese bootvormige dakhuis met ’n daksuilondersteunde nokpaalkonstruksie by Terra Amata aan die Mediterreense kus by die huidige Suid-Franse stad Nice. Tekening: H. Raath na F.W. Eddy, Archaeology: a cultural-evolutionary approach (Prentice Hall, New Jersey, s.a.), p. 143.

Figuur 1. Rekonstruksie van ’n Paleolitiese bootvormige dakhuis met ’n daksuilondersteunde nokpaalkonstruksie by Terra Amata aan die Mediterreense kus by die huidige Suid-Franse stad Nice.
Tekening: H. Raath na F.W. Eddy, Archaeology: a cultural-evolutionary approach (Prentice Hall, New Jersey, s.a.), p. 143.

Figuur 2. By Dullenried, Federsee, Württemberg, Duitsland, is die argeologiese oorblyfsels opgegrawe van ’n bootvormige dakhuis met ’n vurkondersteunde nokpaalkonstruksie. Tekening: H. Raath na J.G.D. Clark, Prehistoric Europe: the economic basis (Methuen, London, 1952), p. 151.

Figuur 2. By Dullenried, Federsee, Württemberg, Duitsland, is die argeologiese oorblyfsels opgegrawe van ’n bootvormige dakhuis met ’n vurkondersteunde nokpaalkonstruksie.
Tekening: H. Raath na J.G.D. Clark, Prehistoric Europe: the economic basis (Methuen, London, 1952), p. 151.

Op ’n bildsten (ca. 700 n.C.), letterlik ’n prentsteen wat as ’n grafsteen gebruik is, uit Hunninge, Klinte parogie, Gotland, Swede, is ’n aantal dakhuise afgebeeld.[8] Grafstene, bekend as hogbacks het in die noorde van Engeland voorgekom. Sedert ca. 930 n.C. het uitbeeldings op dié grafstene verander en is die gewels van onder meer bootvormige dakhuise afgebeeld wat na aanleiding van hulle Deense eweknie as “Jellinge” bekend gestaan het. Dit is die Deense hoofstreek waar die tipe grafstene aanvanklik voorgekom het.[9] Die Sweedse geestelike Olaus Magnus (1490-1557) het ʼn verskeidenheid bouvorms in die noordelike streke van Wes-Europa aangetref, naamlik onder meer geboë (spitsboogvormig of omgekeerde bootvormig).[10] Die Vlaamse kunstenaar Joachim Patenier (voor 1500-1524) het ʼn bootvormige dakhuis afgebeeld[11] (Fig. 3). Die Vlaamse kunstenaar Pieter Huys (1520-1584) het eweneens ʼn bootvormige dakhuis afgebeeld, waarvan die pale in pare oorgebuig is, om op die nokpaal te rus[12] (Fig. 4). ʼn Bootvormige klipmesselwerkershut is op ʼn gevelsteen van ʼn huis in Middelburg, Zeeland, in Nederland afgebeeld. Die huis dateer uit 1590.[13] C.F. Innocent het voor 1916 ʼn voorbeeld van dié tipe dakhuis op ʼn plaas by Huttegen, naby Oudenaarde, België gedokumenteer waar dit as ʼn stoor gedien het.[14] Trefois beweer dat “Een dergelijk ‘primitief’ schuur- of wagenberg-type op rechthoekig plan wordt thans [1941] hier en daar nog bezuiden de Nederlandsche taalgrens, in Wallonië, aangetroffen”[15] (Fig. 5).

Figuur 3. ’n Vlaamse bootvormige dakhuis. (Joachim Patenier, St. Christoffel (detail), skildery, ca.1500-24). Uit: T. Kren & M.W. Ainsworth, Illuminators and painters: artistic exchanges and interrelationships, in T. Kren & S. Mckendrick et al., The Renaissance: the triumph of Flemish manuscript painting in Europe (London, © 2003), p. 53.

Figuur 3. ’n Vlaamse bootvormige dakhuis. (Joachim Patenier, St. Christoffel (detail), skildery, ca.1500-24).
Uit: T. Kren & M.W. Ainsworth, Illuminators and painters: artistic exchanges and interrelationships, in T. Kren & S. Mckendrick et al., The Renaissance: the triumph of Flemish manuscript painting in Europe (London, © 2003), p. 53.

 

Figuur 4. ’n Vlaamse bootvormige dakhuis. (Pieter Huys, St. Christoffel met die Kind (detail), skildery, 16de eeu). Uit: M. van Boven et al., Noordbrabants Museum (Enschedé Grafische Inrichting, Haarlem, 1978), p. 51.

Figuur 4. ’n Vlaamse bootvormige dakhuis. (Pieter Huys, St. Christoffel met die Kind (detail), skildery, 16de eeu).
Uit: M. van Boven et al., Noordbrabants Museum (Enschedé Grafische Inrichting, Haarlem, 1978), p. 51.

Figuur 5. ’n Bootvormige wagenberg (waenhuis) met ʼn hooisolder, Maillen-Courrière, Namen, Walonië, voor 1950. Uit: C.V. Trefois, Ontwikkelingsgeschiedenis van onze landelijke architectuur (Antwerpen, 1950), p. 79.

Figuur 5. ’n Bootvormige wagenberg (waenhuis) met ʼn hooisolder, Maillen-Courrière, Namen, Walonië, voor 1950.
Uit: C.V. Trefois, Ontwikkelingsgeschiedenis van onze landelijke architectuur (Antwerpen, 1950), p. 79.

Besluit

Die Suid-Afrikaanse bootvormige hartbeeshuis toon direkte ooreenkomste met die millennia-oue Wes-Europese bootvormige dakhuistradisie wat Walton se aanvanklike postulering van ʼn gemeenskaplike oervoorganger bevestig. Daar is dus geen verband met die Khoikhoi matjieshut, soos wat dikwels beweer word nie.

[1] J. Walton, “Homes of the early South African stock farmers”, Africana Notes and News, 8, 2, March 1951, p. 53.

[2] J. Walton, “Hartbeeshuis and hartbeeshut”, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal, 43, 1, March 1987, p. 21.

[3] F.W. Eddy, Archaeology: a cultural-evolutionary approach (Prentice Hall, New Jersey, s.a.), p. 142; J. Musgrove (ed.), Sir Banister Fletcher’s a history of architecture, p. 196.

[4] F.W. Eddy, Archaeology: a cultural-evolutionary approach, p. 142.

[5] J.G.D. Clark, Prehistoric Europe: the economic basis (Methuen, London, 1952), p. 150.

[6] T. Paulsson, Scandinavian architecture (Hill, London, 1958), pp. 11-12.

[7] C.V. Trefois, Ontwikkelingsgeschiedenis van onze landelijke architectuur, p. 75.

[8] I. Anderson,  “A contribution to the problem of transitional forms between the primitive hut and the house proper”, in M. Stenberger & O. Klindt-Jensen (eds.), Vallhagar. A migration period settlement on Gotland Sweden II (Copenhagen, 1955), pp. 1009 & 1011.

[9] J. Walton, “Hogsback tombstones and the Anglo-Danish house”, Antiquity, 28, 110, June 1954, p. 72.

[10] S.O. Addy (revised and enlarged from the author’s notes by J. Summerson, The evolution of the English house (Allen & Unwin, London, 1933), p. 50.

[11] M.J. Friedländer (Comments and notes by H. Pauwels assisted by M. Gierts. Trans. by H. Norden), Early Netherlandish Painting: Joos van Cleve, Jan Provost, Joachim Patenier IX (ii) (Sijthoff, Leiden & Brussels, 1973), s.p. (Plate 235).

[12] M. van Boven et al., Noordbrabants Museum (Enschedé Grafische Inrichting, Haarlem, 1978), p. 51.

[13] S.R. Jones (ed. C. Holme), Old houses in Holland  (The Studio Ltd., London, Paris & New York, 1913), p. 116.

[14] C.F. Innocent, The development of English building construction (David & Charles, Cambridge, 1916), p. 24.

[15] C.V. Trefois, Van komwoning tot Vlaamsche boerderij, p. 39; C.V. Trefois, Ontwikkelingsgeschiedenis van onze landelijke architectuur, p. 79.