William Robinson
April 9, 2017
Wie was die Voortrekkers?
April 9, 2017

(Geskryf deur P. van Zijl, soos verskyn in Historia Junior, Mei 1965)

 

 

Van tyd tot tyd verneem ons nog van hofsake oor Bantoe-moorde waar toordokters die skuldiges is. Vir eeue het toordokters ’n geweldige invloed en houvas op die Bantoe-volkere van Afrika gehad. In die geskiedenis van die blanke pioniere van Suid-Afrika het toordokters beslis ’n groot rol gespeel. Hulle was dikwels die oorsaak van aanvalle op blankes en van barbaarse moorde. Baie jare na die Groot Trek het ou “ringkoppe” lig gewerp op sekere gebeurtenisse gedurende die Groot Trek.

Gedurende die leeftyd van Tsjaka, omstreeks 1830, het sy mense dikwels van die blankes gepraat as die wit gediertes wat uit die seewater gekom het. Maar die ou “ringkoppe” het ook gewaarsku: “Moet hulle nie met julle assegaaie aanraak nie, want hulle maak ’n ding dood as hy nog daar ver is.” Tsjaka het een van die Engelse reisigers in sy land laat roep en hom beveel om ’n os op ’n afstand voor sy regimente plat te trek. Die os se bene het na die geweerknal onder hom ingevou en hy het sonder ’n bulk of brul gesterf. ’n Kreet van “Umtagati” (towenaar) het opgegaan. Van toe af was daar ’n groeiende vrees vir die blankes. Jong Bantoes en kinders is met blankes bang gemaak en hulle het gesorg dat hulle saans voor sononder by die huis is. Wanneer ’n blanke ’n besoeker by ’n hut was, is die plek onmiddellik na sy vertrek met nat beesmis gesmeer om die toorreuk dood te maak.

Tsjaka het sy onderdane ook gewaarsku dat blankes geen leed aangedoen mag word nie, omdat hulle deur ’n hemelgod gestuur is om die swart mense te kom leer. Hy het selfs twee afgesante na die witman se land (Kaap) gestuur om “hulle oë daar neer te sit” (te leer) en dan terug te kom om sy mense in te lig. Na hul terugkoms het ’n heldeverering hulle te beurt geval. Dikwels moes hulle Tsjaka en sy vertroude raadsliede inlig. Tsjaka was egter een keer diep teleurgestel, toe van sy Engelse vriende een van sy regimente op ’n koninklike jagtog vergesel het. Toe leeus op hulle afgestorm het, was sy vriende gou met geweer en al in ’n hoë boom. Sy opmerking was dat hulle lewers nie groter as ’n leeu s’n was nie (vir die Zoeloe was die lewer die setel van dapperheid).

Volgens ’n ou Zoeloewet mag net die koning osse met sekere kleure besit. Wanneer ’n bulkalfie by een van sy onderdane aankom, in een van die koning se kuddekleure, moes dit sonder versuim aan  die koning geskenk word. Later het die skenker ander beeste as vergoeding ontvang. Versuim om hierdie wet na te kom, het die dood vir daardie onderdaan beteken, want daardie persoon wou dan, volgens hulle opvattinge, die koning van sy gesag ontroof. Geen wonder dat die Zoeloes die Voortrekkers nie vertrou het nie, want die meeste Voortrekkerosse was rooi, die koning se geliefkoosde kleur! Volgens die koning se raadgewers sou die Zoeloes afvallig word, as die Voortrekkers toegelaat word om sulke beeste aan te hou.

Die laaste woorde van Tsjaka aan Dingaan en sy broer Mhlangane, toe hy in die beeskraal vermoor is, was: “Ek sien die hemel vol aasvoëls … ek sien die hele land vol groot paaie … Nie julle nie, my broers, maar daardie blankes sal die land regeer.” Volgens die oorlewering van die ou Zoeloes het Dingaan van daardie oomblik af gedurig die woorde van Tsjaka soos ’n groot “ibungane” (miskruier) in sy ore gehoor. Toe die Voortrekkers sy land besoek het, was hy gedurig onrustig, want hy kon Tsjaka se woorde nie vergeet nie.

Dingaan was uiters bygelowig en het gedurig spioene in die veld gehad. Na die moord op Piet Retief en sy manne, is die kraal met “gedokterde” vars beesmis uitgesmeer om die toorreuk van die vermoorde blankes uit te wis. Dingaan se spioene moes die Trekkers se bediendes omkoop om die volgende vir sy toordokters te versamel: hare uit die stertkwasse van die Boere se beeste en perde, gras waarop hulle geslaap het, stukkies klere, ens. Selfs stukkies grond waarop die Boere gespu het is onopsigtelik en sorgvuldig geneem. Al hierdie goed is in Dingaan se groot “Indlu yomsebenzi” (medisynehut) gebêre en dag en nag deur ou vrouens bewaak. In daardie hut was ook stukkies sagte borsbeen, stukkies ore, lip, oë en tong van die vermoorde Piet Retief en sy makkers. Uit hierdie grusame versamelings is medisyne gemaak. Die medisyne het bonatuurlike mag gehad as dit saam met toorspreuke toegedien is aan Dingaan se leër voor ’n aanval op ’n vyand. Die toordokters het toe aan die werk gespring om die impi’s finaal voor te berei vir die uitwissing van die Trekkers. ’n Spierwit os is in die koning se beeskraal gejaag en die voorvaderlike geeste as volg aangeroep: “Laat dit lig en voorspoedig wees, o julle wat in die onderwêreld bly; laat dit lig wes vir die koning, kyk júlle vir hom na wat daar aan die kom is, dit wat dreig om hom dood te maak.” Hierdie Zoeloe-gebed is elke dag deur Dingaan se priesterbeamptes herhaal tot en met die Slag van Bloedrivier.

Die wit os is geslag en op ’n groot seremonie geëet. Daarna het die toordokters dolosse gegooi om die uitslag van die gevegte te voorspel. Daarna is ’n swart bul van die Voortrekkers gesteel. Dingaan het die regiment wat die Trekkers eerste moes aanval, aangesê om die bul op ’n groot seremonie met die kaal hande te vang en nek om te draai. Na nog aangrypende seremonies waar hulle die swart bul se “gedokterde vleis” moes eet, moes hulle in die veld gaan slaap. Groot vure is gemaak waarop “medisyne” gegooi is. Die Zoeloekrygers moes die rook inasem. Intussen moes Dingaan nakend op ’n groot met grasgevlegde ring by die toormiddels sit. So het die Zoeloes (volgens die ou ringkoppe se vertellinge) hulle voorberei vir die Slag van Bloedrivier.

Nou verstaan ons seker waarom hulle so hardnekkig en doodveragtend aangeval het by die Slag van Bloedrivier. Ook weet ons vandag waarom die oorwinning deur die Voortrekkers behaal is.

Hulle het ook daagliks gebid en ’n gelofte herhaal. Hulle God was ’n lewende almagtige God. Vyftien-duisend aanstormende bloeddronk Zoeloekrygers kon met hul bloedstollende krete en vreeslose aanvalle nie die “geloof” van die Trekkers breek nie. Tsjaka se voorspelling van die “aasvoëls” en “paaie” het waar geword. Dink maar aan ons vliegtuie en netwerk van paaie. Dit is nie verkry deur bygeloof en dolosgooiers nie, maar uit harde werk en ware geloof.