Waarom ’n handelspos noodsaaklik was

’n Rustige dag in Tafelbaai
January 1, 2015
“Goue eeu” in Nederland
January 3, 2015

Hoewel die Portugese in die vyftiende eeu die militêre beheer gehad het oor die Indiese Oseaan en aangrensende kuste, asook die handel met die Ooste, was dit nie hulle wat aan die Kaap ’n handelspos gaan stig het nie.

Dis gedoen deur ’n nuwe handelsnasie wat van die tweede helfte van die sestiende eeu af aan die opkom was en in die sewentiende eeu die grootste handelsvolk van Europa sou word: Nederland. Wat daartoe bygedra het, was die Nederlandse sukses in ’n oorlog van tagtig jaar (1568-1648) teen die magtige Spanje. Vir die suidelike provinsies was dit ’n ramp toe Antwerpen in 1585 in Spaanse hande val. Vir die noorde was dit ’n geluk, want duisende bekwame mense het daarheen gestroom. Amsterdam het Antwerpen vervang as die belangrikste handelstad.

Die handel het gefloreer. Die handelsbeleid was gegrond op vryheid. Die staat het die ondernemingsgees van individue nie belemmer nie. Teen die einde van die sestiende eeu het vooraanstaande Nederlanders besef dat hulle sélf moes vaar na die bron van die rykdomme;  Oos-Indië met sy duur speserye en ander kosbare handelsartikels. Die eerste ekspedisie van Nederland na die huidige Indonesië en terug het 2½ jaar geduur.

Daarna is verskeie Nederlandse maatskappye vir die handel met die nuwe wêrelddeel opgerig. Hulle het genadeloos met mekaar gewedywer en die winste het kwaai gedaal. Die oplossing was dat die maatskappye saamsmelt en dat een groot verenigde maatskappy ’n handelsmonopolie kry. ’n Monopolie was teen die gees van die vryhandelsbeleid, maar ’n Nederlandse staatsman, Johan van Oldenbarnevelt, het die teenstanders oorgehaal.

So het dan die Vereenigde Oost-Indische Compagnie, die VOC, op 6 Maart 1602 tot stand gekom. Die sentrale bestuur, die Here XVII, het die hoogste mag besit, terwyl die besture by handelsposte ook magte gehad en besluite van die Here XVII uitgevoer het. Die VOC het op die Verre Ooste gekonsentreer, die Portugese feitlik uitgedryf en sy vernaamste mededinger, ’n Londense kompanjie, op ’n afstand gehou. Die hoofkwartier in die Ooste is in 1619 gevestig by Batavia (Djakarta) op die eiland Java. Ander nedersettings was op die spesery-eilande, in Ceylon (Sri Lanka), Formosa en Japan.

Van die begin af het die Kompanjie gevoel dat daar ’n behoefte aan ’n plek is waar skepe vars water en voedsel kon inneem op hul lang tog tussen Nederland en die Ooste. Die matrose het sonder die vars water en kos maklik die lewensgevaarlike siekte skeurbuik opgedoen. In 1647 het een van die skepe van ’n retoervloot, die Nieuw Haarlem, gestrand en die bemanning van sestig moes sowat ’n jaar in Tafelbaai bly. Die manne van die Nieuw Haarlem het ná hul terugkeer met geesdrif van die land in die suide gepraat: sy vrugbaarheid en skoonheid, en die vriendelikheid van die Khoikhoi of “Hottentotte” van wie genoeg vleis geruil kon word. Al die gesaaides het pragtig gegroei en wild en vars water was volop. Een van die skipbreukelinge, Leendert Janszen, het saam met N Proot in ’n verslag aanbeveel dat daar Nederlanders aan die Kaap gaan bly. In 1651 het die VOC besluit om dit te doen. Dis merkwaardig dat daar ook ’n taalpolitieke oorweging vir die beplande verversingspos was. Een van die voordele sou volgens Janszen wees dat die inwoners die “Nederlantse spraecke” sou leer.