Waar is die weduwee Piet Retief begrawe?

Die Klein Vrystaat
April 9, 2017
Piet en Dirkie Uys: twee Voortrekkerhelde
April 9, 2017

 

(Geskryf deur J.V. Coetzee, Potchefstroomse Museum, soos verskyn in Historia Junior, Feb 1970)

Omdat die weduwee Piet Retief na sy dood “haar in uiters armoedige toestand bevond op haar hogen ouderdom en door de vyanden (Zoeloes) gerejuneert (was)” het die Volksraad van Natalia haar ’n plaas naby Pietermaritzburg gegee. Dog kort hierna, met die anneksasie van Natal in 1842, het sy saam met generaal A. Pretorius en ander na Potchefstroom geëmigreer.

Hier het sy maar weer skouer teen die wiel gesit en deur naaldwerk en lekkernye te bak in haar ergste behoeftes self voorsien. In Junie 1852 het Bart Pretorius, broer van Andries en grootvader van Coert Steynberg, ’n voorstel deur die Volksraad geloods wat haar ’n pensioen van 10 Ryksdalers per maand besorg het.

Volgens die rekords van die Pretoria Argief is die laaste uitbetaling op 7 April 1855 aan haar gemaak. Dit is moontlik, dat sy kort hierna oorlede is, maar dit kan nie sonder twyfel vasgestel word nie, want vóór 1900 is daar geen sterfte- of doderegisters aangehou nie. ’n Ander sterfdatum wat ek iewers raakgeloop het, wil voorgee dat sy op 81-jarige leeftyd in 1863 oorlede is.

Wat ook al die sterfdatum is, weet ons tog baie sekuur waar sy gewoon het in Potchefstroom. Die straat waaraan haar ou huisie gefront het, is gelukkig na haar vernoem.

Om die sterfdatum sweef deels die tergende vraag: “waar is tant Lenie begrawe?”

Vandat Potchefstroom in 1842 verskuif is vanaf Oude-Dorp, waar nou nog ’n ou Voortrekkerkerkhoffie is, na sy teenwoordige posisie, is ’n nuwe begraafplaas aangelê op die Bult. Dit was toe bekend as die Voortrekkerkerkhof en is gebruik tot die nuwe Kerkhof in die teenwoordige park aangelê is. Ongelukkig ontbreek alle ou notuleboeke van die Stadsraad vóór 1875, sodat ons nie die presiese datum van aanleg het nie. Bowendien is daar vóór 1900 geen doderegister gehou nie.

Die enigste aanduidings wat ons tot sover raakgeloop het, is ’n ou kaart van Potchefstroom en die datums op die bestaande grafstene. Die kaart is in 1863 geteken deur die bekende landmeter Fred Jeppe. Hierop is die Kerkhof aangeteken waar hy nou nog is, maar buite die destydse dorp.

Gaan ons na die sterfdatums op die grafstene dan wil dit voorkom of die kerkhof eers in die sestigerjare begin is. Die oudste grafsteen dra die datum Nov. 1861 met verskeie ander in die volgende jare. Daar is wel drie ander met vroeër datums, maar op die oudste van 1844 staan uitdruklik “died at Fort Peddie”. So ook neem ek aan dat die ander twee van 1855 (Steyn en Lombaard) herbegrafnisse is van familie wat op ander plekke dood is en toe later hier begrawe is. Ek kan net nie glo dat daar in die 6 jaar tussen ’55 en ’61 hier niemand dood is nie. Of die graftes moes steenloos gewees het of die steentjies (almal was destyds van leiklip) moes verkrummel het en met die omskepping van die Kerkhof enige jare gelede in ’n gedenktuin, verwyder wees.

Neem ons die laaste pensioen-datum, naamlik April 1855, as die sterfdatum dan was die nuwe Kerkhof nog nie of net pas klaar sodat sy dan waarskynlik eerder in die Voortrekkerkerkhoffie sou begrawe word. Dit is meer waarskynlik omdat al haar Voortekkertydgenote hier begrawe is, en sy die eggenote van Piet Retief, die hoofleier, was.

Vir hierdie laaste gedagte pleit ook die feit dat onder andere Piet Botha (Piet Perdekop) in 1860 hier begrawe is. Met die Kruger-Schoeman-burgeroorlog het hy die kruit van ou Grietjie te hard vasgestamp, toe gaan die skoot af en skiet die laaistok deur sy maag.

Selfs so laat as ongeveer 1896, volgens mnr. GS Klopper wat as jong seun nog die begrafnis bygewoon het, verkies die familie nog om ou Oom “Bobbejaanpaal” van Vuuren hier te begrawe. Hy was om twee insidente baie goed bekend. Hy het in 1880 die lyk van generaal Colley van Majuba afgedra tot waar hulle hom kon begrawe. En in 1852 Is hy aangewys om die eerste moordenaar in die nuwe “Overvaalse Republiek” op te hang. Dit het so gekom, vertel J Stuart: “Andries Pieterse … had in dronkenschap zijn neef Oosthuizen vermoord”.

Bobbejaanpaal het twee galgpale ingeplant (vandaar die naam) vermoedelik ongeveer waar die “Central School” nou staan. Die galgtou aan ’n dwarshout vasgemaak, Pieterse op ’n laer dwarsplank laat staan, wat eenkant rus op die karé-tjie (rooster) van ’n wa bespan met lewendige osse, hulle skielik onder die sweep gesteek en so die plank onder die moordenaar se voete uitgeruk.

Voeg nou by bogenoemde gegewens die feit dat mnr. Klopper, van sy ander familie en ander ou mense volhou dat hulle met die oorlewering grootgeword het dat die weduwee Retief in die ou Voortrekkerkerkhoffie begrawe is en ek dink ons is so na aan die waarheid as maar kan kom. Mnr. Klopper is in 1889 gebore, het sy hele lewe vlak by die Kerkhof gewoon, en met reëntye, as jong seun in die ou steengroewe langsaan geswem. Hy vertel dat daar ongeveer 40 graftes was, aangedui met los klippers, behalwe twee van Piet Botha en sekere Grobbelaar aangedui deur grafstene van leiklip. Van die laaste is daar twee stukke in die Museum op Potchefstroom.

Die Grobbelaar was sy oupagrootjie en die seun van JH Grobbelaar, die eerste landdros van Potchefstroom, wat die strate uitgemeet het met rourieme. Met die uitmeet van die Bult 60 jaar later, het mnr. Klopper se vader en ander die landmeter gewaarsku i.v.m. die Kerkhof, en hom gevra om daar ’n klein pleintjie oop te laat.

Hy het hom egter nie daaraan gesteur nie met die gevolg dat ’n deel vandag onder die sypaadjie aan Molenstraat lê en dat twee huise, die oues van prof. Joon v. Rooy en mnr. G. Munstra, daaroor heen gebou is.

Toe mnr. Klopper raadslid en burgemeester word, het hy die betrokke landmeter dit deeglik ingevryf dat hy die Voortrekkerkerkhoffie so geskend het en daarteenoor in die onderdorp ’n mooi plein rondom die ou Bantoekerkhof uitgemeet het.

Dit wil my dus voorkom of die nageslagte en besture deels onbewus maar ook deels bewustelik die ou Kerkhoffie eers laat toegroei het onder die hoë gras, toe daaroor landerye aangelê het, met die rioolwerke en waterpype party van die grafte geskend het en toe eindelik die res in die vergetelheid gaan wegwoon het.

Dr. SH Pellissier sê van soortgelyke gevalle die volgende: “My liewe Ou Vrystaat met al sy onoortreflike hoedanighede het tog een swakheid en dit is dat hy geneë is om baie van sy ontslape helde vir omtrent ’n driekwarteeu in hul grafte te laat rus voordat hy hulle groot dade weer in herinnering bring, monumente vir hulle oprig of ’n bestaande grafsteen wat vervalle is, herstel. So was dit die geval met die volgende: Louw Wepener, Antjie Scheepers en lzak  Leeuboud (v. Niekerk).”

Wat die ou oorlewende Voortrekkerkerkhoffie betref kan ons dit volmondig beaam.

Waar ons dus nou ons heldeakker so geskend en onteer het en dit nogal Potchefstroom, die eerste egte Voortrekkerdorp en ou hoofstad, is dit seker hoog tyd dat ons die hand aan die ploeg slaan en doen wat ons hand vind om te doen.

Kan ons nie vir hierdie opgekapte granietblokke desnoods ’n groot granietblok kry van die Liebenbergkoppie naby Parys nie en daarop ’n bronsplaat aanbring om te sê dat Magdalena Johanna Retief en ander Voortrekkerhelde daar begrawe lê nie?

Dis ’n maklik vindbare landmerk, regteenoor die hoë toring van die Teologiese Skool aan Molenstraat met ’n breë parkeerruimte, regoor.

Met die hulp van die Voortrekkers, die kultuurrade, die Monumentekommissie, ens., is dit nog nie te laat om te vergoed vir ons vertraagde heldeverering nie. Dit sal mooi aanpas by die twee gedenktuine, die president Pretorius en ander oorlogs- en historiese monumente en die Totius-Park waarvoor die Stadsraad en ander kultuurliggame hulle beywer.