Waar Boer en Boesman se musiek harmonieer

Eugène Marais dramatiseer Koranna-dwaalstorie oor inheemse musiek
Augustus 9, 2016
ERFENISRIGLYNE. ’N PRAKTIESE GIDS VIR ALLEDAAGSE GEBRUIK
September 8, 2016

Prof. Paulus van der Merwe

Marthinus van Bart

[email protected]

Prof. Paulus van der Merwe

Prof. Paulus van der Merwe

Een van die vroegste musiekinstrumente van Suider-Afrika, die mondboog, het pas sy debuut op die gewilde internet-webtuiste YouTube gemaak. Die Suid-Afrikaanse musikus prof. Paulus van der Merwe, tans verbonde aan die Hochshule in Hamburg, Duitsland, speel op sy eiegemaakte eensnaar-mondboog, afgewissel met ’n diatoniese harmonika, terwyl hy C. Louis Leipoldt se Hantam-liedjie “Op my ou ramkietjie” neurie.

Prof. Paulus van der Merwe met ’n eiegemaakte mondboog.

Prof. Paulus van der Merwe met ’n eiegemaakte mondboog. Foto: Teresa Smith

Ook Egbert van Bart, bekende kultuurgees op Groot-Marico, het ’n eiegemaakte negesnaar-ramkie, wat hy heel beskrywend ystervarkie noem, op hierdie gewilde kunstenaar- en toeriste-enklawe, in die Bosveld van die Noordwesprovinsie, bekend gestel.

Egbert van Bart met sy ystervarkie, ’n eiegemaakte ramkie (ramgi-b), met nege snare

Egbert van Bart met sy ystervarkie, ’n eiegemaakte ramkie (ramgi-b), met nege snare Foto: Teresa Smith

Van der Merwe het aan Die Kunste vertel: “Die Ramkietjie Liedjie het gekom nadat Egbert vir my Eugène Marais se Dwaalstories laat lees het. ‘Klein Riet Alleen in die Roerkuil’ het met my gesels …  Ek spesialiseer in hobo, en die riet van die hobo is ook vol komplikasies en dwaalstories. Egbert lees toe eendag ‘Klein Riet Alleen’ se storie vir vriende voor, en ek maak die klankbaan met mondboog en mondfluitjie daarvoor. Die mondfluitjie het maar daar rond gelê, en ek het skielik die geskiedenis van my land en my wêreld sien saamkom waar Boesmans en Boere se musiek kan saamspeel …  Dit was Leipoldt se Hantam-gedig wat vir my laat dink het aan die mondboog met net een snaar. En skielik het dit so goed gepas!

Grant Smith met sy segaba, waarskynlik ’n voorganger van die ramkie.  Foto: Teresa Smith

Grant Smith met sy segaba, waarskynlik ’n voorganger van die ramkie.
Foto: Teresa Smith

“Ons speel nou al jare lank mondboog en ramkie in die Marico. Dis van die wonderlikste instrumente om mense te laat saamspeel. Van kinders tot oer-oumas! Eenvoudig – en Wonderlik! Egbert, wat ook klavier speel, het sy eie weergawe van die ramkie – een met nege snare – gemaak. Hy noem dit die ystervarkie. En Grant Smith, Maricojaan wat eintlik in Afrika-tromme, soos die Wes-Afrikaanse djembe, en Oosterse ghongs spesialiseer, het twee tradisionele segaba-strykinstrumente gemaak. Die segaba is myns insiens ’n voorganger van die ramkie én snaarinstrumente in die algemeen. Ander name vir die segaba is: segankuru, serankure of sebinjolo …” vertel Paulus.

Luidens Afrikaanse Etimologieë van S.P.E. Boshoff en G.S. Nienaber, SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1967, word die herkoms van die naam ramkie (vir ’n inheemse musiekinstrument bestaande onder meer uit ’n boog en ’n snaar) ontleen aan ’n Koi-dialek: die Namas (Khoi-Khoin) het die instrument ramgi-b genoem. Portugese [soos Vasco da Gama] het dit rabequinha (rabeca=viool; pequeno=klein) genoem, ’n klein soort viool dus.

 

Op my ou ramkietjie

C. Louis Leipoldt, Afrikaanse volksdigter en skrywer

C. Louis Leipoldt, Afrikaanse volksdigter en skrywer

(C. Louis Leipoldt)

 

Op my ou ramkietjie

Met nog net een snaar

Speel ek in die maanskyn,

Deurmekaar.

 

Ek sing van Adam

En Eva se val,

Van die ou Paradys.

 

“Halfpad mal!”

So sê die mense

Wat my hoor speel

As die skemer my wang soen

Soos ferweel.

 

As die maan my aanhoor,

En die sterre knik,

Dan speel ek kordaat voort,

In my skik.

 

Wat gee ek om mense

Wat sê ek’s mal,

As die varings my aanhoor

By die wal?

 

Wat om my vrinde –

Wat nooit nie verstaan –

As die sterre my toeknik,

En die maan?

 

Op my ou ramkietjie

Met nog net een snaar,

Speel ek in die maanskyn,

Deurmekaar.

 

Leipoldt die gedig die eerste keer in 1923 in sy digbundel Uit Drie Wêrelddele laat verskyn. Dit handel oor ’n onbekende, vermoedelik inheemse, musikant van die Hantam, die wêreld noord van Clanwilliam, Wuppertal en die Sederberg, tot by Calvinia – die kontrei wat Leipoldt so innig liefgehad het. Dr. Jan Bouws, eertydse direkteur van die Instituut vir Volksmusiek en dosent in musiekwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, het die woorde later getoonset, en in 1937 is “Op my ou ramkietjie” as volksliedjie in die FAK-Sangbundel opgeneem. Die immergroen liedjie word vandag nog deur talle Afrikaanse uitvoerende kunstenaars gespeel en gesing.