“Vyande” van die volk!

“Skoolmeestertjies en wynboertjies” begin ’n taalbeweging
April 25, 2016
Eerste Afrikaanse koerant
April 25, 2016

’n Omstrede bepaling van die Genootskap van Regte Afrikaanders (GRA) het te make gehad met geheimhouding. ’n Lid moes hom deur sy handtekening verbind om die name van sy medelede en besluite van die genootskap streng geheim te hou, selfs indien hy sou bedank.

Von Wielligh verduidelik waarom. Die lede het “in die oë van die volk die grootste misdaad gepleeg om die nasie tot ‘barbaarsheid’ terug te voer [met sy Afrikaans-strewe]. Toe is gepraat van teer en veer, van sambok en bedorwe eiers, pap tamaties en dies meer – nee, selfs van doodskiet, al was dit letterlik nie so gemeen nie, maar tog iets vernederends kon enige tyd op die lede gepleeg word”.

’n Groot rede van die teenstand teen Afrikaans was egter veral die houding van die statusbewuste koloniale Afrikaners in die stede en dorpe. Hulle wou volgens Hermann Giliomee graag aanvaar word deur die toonaangewende Engelssprekendes, wat Afrikaans beskou het as ’n onwaardige openbare taal. Vir hierdie Afrikaners was Afrikaans ’n verleentheid. Dit was ’n veelrassige taal en dit het ’n verkeerde sein gegee in ’n samelewing wat al meer ’n obsessie ontwikkel met rasse- en klasse-onderskeidings.

Nog ’n bepaling wat sommige mense afgeskrik het, het gelui: “Ider lid moet gelowe in die Versoeningsdood van onse Heer Jesus Christus”. Elke vergadering moes met gebed geopen of afgesluit word. Die GRA-lede was streng godsdienstig.

Hoewel dit nie uitdruklik so staan nie, kon alleen mans lid word. SJ du Toit het op 4 Desember 1875 die lede gevra of die Genootskap vroue as vriendinne sal erken. Die meerderheid wou eers daaroor dink. In 1876 het sy broer, DF du Toit, voorgestel dat vroue as “vriendinne” erken word. Sy voorstel is egter verwerp. Von Wielligh beweer dit het te make gehad met die geheimhouding van die name van lede.

Ds. Du Toit was op 14 Augustus 1875 nog sonder gemeente, en dit was volgens sy biograaf, VE d’Assonville, een van die redes waarom die vergadering so in die geheim moes plaasvind. Hy was nog nie as predikant van die Noorder-Paarl beroep nie. Daar was spanning in die gemeente en dit sou “uiters onversigtig” wees as lede van die gemeente saam met hom vergadering hou. Ses van die groep wás lede van dié gemeente. Die dag ná die vergadering het Du Toit, wat solank waargeneem het, afgekondig dat daar die volgende dag ’n gemeentevergadering gehou sou word om ’n leraar te beroep. Die beroepte leraar was Du Toit self, en hy het die beroep aangeneem.

Die GRA het nooit ’n groot beweging geword nie. Daar was ongeveer 80 lede. In die Paarl was 46, ook van plekke soos Stellenbosch, Malmesbury en Hermon. Dal Josafat het op 14 Augustus 1876 ’n tak met 21 lede gekry; Daan du Toit was stigter. Nadat die reëls van die GRA in De Zuid-Afrikaan gepubliseer is, het ds. WA Joubert van Montagu gevra om lid te word en in Julie 1876 het ’n tak met 12 lede daar tot stand gekom. In Julie 1876 het BA Kloppers in Rustenburg, Transvaal, ’n tak gestig.

Een van die reëls en bepalings van die GRA was om ’n maandblad uit te gee met die naam Die Afrikaanse Patriot. Die blad is laat druk by De Zuid-Afrikaan. Van die eerste nommer op 15 Januarie 1876 is 1000 eksemplare gedruk en verniet versprei; maar die normale oplaag was in die eerste jaar 200, wat die GRA £3 5s. gekos het. Van 1877 is die blad gedruk op ’n pers wat Du Toit gekoop en eers in Gideon Malherbe se huis en daarna by ds. Du Toit se woonplek in ’n buitekamer gehou is. Alle briewe moes gaan aan “Oom Lokomotief” by die kantoor van De Zuid-Afrikaan. Dit was die skuilnaam van die redakteur. In die eerste jare was daar verskeie Oom Lokomotiewe: eers Hoogenhout, wat die pos weens teenkanting van sy skoonfamilie van die hand gewys het, JW van der Rijst, ML Rousseau en van Februarie 1878 tot 1891 DF (Daan) du Toit. Laasgenoemde het die titel “Oom Lokomotief” geërf en dit die res van sy lewe behou.