Vroue betoog vir generaal De Wet

Herlewing van Afrikanernasionalisme
January 22, 2015
Nasionalisme en Afrikaans
January 22, 2015

Die veldtog vir die vrylating van die oorlogsheld De Wet is, soos gemeld, begin deur mevrou Hendrina Joubert asook mevrou FC Eloff-Kruger, ’n dogter van president Paul Kruger. Hul oproep is op 25 Junie 1915 in De Volkstem en daarna die ander Afrikaans-Hollandse koerante geplaas. Hulle vra die “susters en dogters van Suid-Afrika” om iets te doen vir “’n held van die volk” wat hulle “innig hartelik lief het”. ’n Vrouekomitee is gevorm om afgevaardigdes na die goewerneur-generaal, lord Buxton, te stuur met die versoek om die vonnis van generaal De Wet nietig te verklaar en hom en die ander rebelle wat aangehou is, vry te laat.

Vroue het in talle stede en dorpe plegtige optogte na magistraatskantore gehou. Hulle is dan getel, en die magistrate het die getal vermeld by telegramme vir begenadiging wat by hulle ingelewer is. Op ’n paar plekke het die betoging onstigtelik verloop. In Bloemfontein het Engelssprekendes sowat 600 vroue gehoon wat met ’n memorandum na die Administrateur op pad was. Mans in ’n paar motors met rooi, wit, en blou linte het in die strate gery en “Rule Brittannia” gesing.

Die middag van Woensdag, 4 Augustus 1915 – ’n jaar nadat die Britse Ryk tot die oorlog toegetree het – het talle vroue hul betoging in Pretoria gehou. Byna 230 dorpe en stede het afgevaardigdes gestuur, meestal twee per dorp, hoewel plekke soos Pretoria en Johannesburg meer gehad het. Die meeste was in swart geklee en het swart reënsambrele pleks van sonsambrele gehad.

Voor die optog begin het, het die vroue die vers uit Psalm 146 gesing wat gaan oor die Heer wat “gevang’nen vrijheid schenkt,/ En aan hun ellende denkt”. Volgens De Burger het die optog in doodse stilte geskied. “De grootste ernst kenmerkte al de verrichtingen”, het De Spectator berig. Nadat die stoet by die amfiteater van die Uniegebou aangekom het, het hulle in stilte gewag op die terugkoms van die afvaardiging wat die versoekskrif aan lord Buxton gaan oorhandig het. By die Goewerneur-generaal het die slanke regop mevrou Joubert met haar aristokratiese voorkoms die woord gevoer.

Die vroue het die name van 65 000 mense oorhandig en daarna het nog handtekeninge ingestroom. Die regering het ’n paar dae later bekend gemaak dat hy nie aan die versoek van die vroue gehoor kan gee nie. Dit het die agitasie nie gekeer nie. Op De Wet se 61ste verjaarsdag het hy in die gevangenis duisende telegramme van gelukwense ontvang. Vroue het soveel verjaarsdagkoek gestuur dat alle politieke gevangenes verskeie “soet-dae” met “De Wet-koek” beleef het. In Desember 1915 het die Volksraad ’n paar dae gedebatteer oor ’n voorstel van generaal Hertzog om De Wet en sy medegevangenes vry te laat. Hoewel die Volksraad die voorstel met ’n groot meerderheid verwerp het, het die regering hom en 118 ander rebelle op 20 Desember 1915 vrygelaat op voorwaarde dat hulle nie sou deelneem aan die politiek, geen openbare vergaderings sou bywoon, of hul distrik verlaat sonder verlof van die magistraat nie. Onder 45 rebelle wat gevonnis is weens verraad en moes agtergebly, was generaals Kemp en Muller.