Vroeë skryftaalprobleme

’n Byna blinde skrywer wek leeslus
January 23, 2015
Die keuse van ’n standaardvariëteit
January 23, 2015

Nog voordat die eerste boeke verskyn het, het die taalyweraars ’n paar verenigings gestig. Op Woensdagaand 13 Desember 1905 het sowat dertig mense in De Volkstem-gebou die Afrikaanse Taalgenootskap gestig, met NM Hoogenhout as voorsitter en Gustav Preller as een van die bestuurslede. Die ATG en veral Preller wou so min as moontlik van die Nederlandse spelling afwyk. De Waal het Preller in 1906 in De Goede Hoop gekritiseer oor sy gebruik van hem pleks van hom, voor vir vir of ver, geen pleks van g’n of gin, en ik plaas van ek. Feitlik alle Afrikaners “van Kaapstad tot verder dan Bulawayo” gebruik ek, sê hy. De Waal en ’n paar medestanders soos DF Malherbe, AI Perold en DF du Toit Malherbe het in 1906 in Kaapstad die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) tot stand gebring. Die ATV het op sy eerste jaarkongres in Desember 1907 ’n kommissie aangestel wat ontwerpspelreëls moes saamstel, en die verslag is bespreek op die ATV-jaarkongres van 1908, waarby ook verenigings van die Vrystaat en Transvaal teenwoordig was.

Op dié kongres was die verset teen die Patriot-spelling duidelik. Die afgevaar-digdes moes onder meer besluit oor twee die’s, die lidwoord en aanwysende voornaamwoord. In die ontwerpspelreëls is voorgestel dat di as lidwoord en die as betreklike en aanwysende voornaamwoord gebruik word: “di man die gister hier was; bedoel jij die boek daar of die een hier?” Verskeie sprekers was teen di Adv WJ van Zyl, sekretaris van die ATV, het gesê dat dit uit briewe oor die hele Suid-Afrika blyk dat mense teen die erkenning van albei saam was. De Waal het gepleit vir dié met aksentteken om aan te dui watter soort woord bedoel word. Hy was ook voorstander van y pleks van ij. Van Zyl of Van Zijl wou die ij hê om nader aan Nederlands te bly. Die stemming was elf teenoor agt ten gunste van die y. Nogtans het ij nog tot 1921 in gebruik gebly.

Die spelling was nog baie onvas. Talle woorde het spelprobleme opgelewer. De Vriend des Volks het ’n keer kritiek uitgeoefen op sy kollega, De Afrikaner, wat geskryf het: “Helle is klaar daarvan o’ertuige dat helle nie sonder die ondervinding wat helle daarin opgedoen het, so gemakkelik sou vooruit gekom het nie.” “Ag nee, kollega, moet nou nie probeer hoe plat jij ons ou taal kan skrijf nie – liewer die omgekeerde. Ons seh almaal ‘hulle’ of desnoods ‘hul’, maar ‘helle’? Dit klink verbasend plat en lelik en die woord was buitendien tot hiertoe net in die enkelvoud bekend.”

Tot omstreeks 1920 het bekende skrywers en selfs koerante die sogenaamde imperfektumvorme dikwels gebruik: vond plaas in plaas van het plaasgevind of hoopte vir het gehoop; “Sy jaagde die melkboer storm; vandaar schreeuwde hij die werf gou vol mense”. Ook die eerste druk (1912) van die gewilde Afrikaanse kinderbybel van ds WJ Conradie, getitel Bybelgeskiedenis vir ons volk, het sekere imperfektumvorme behou: “Een môre ging Moses en Aaron naar Farao en sei…” Hierdie kinderbybel was terloops ’n treffer. Dit is baie in skole gebruik. Tot in 1965 met die 27ste druk is 144 000 eksemplare verkoop.