Vordering vir Afrikaans

Santam en Sanlam kom tot stand
January 22, 2015
Broederbond gestig
January 22, 2015

1918 is ook die jaar waarin die Koöperatieve Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika Beperkt, die KWV, opgerig is. Dit het gevolg op die mislukking van verskeie maatskappye en verenigings wat die wynboere se belange moes behartig. Die KWV is op 8 Januarie 1918 as maatskappy geregistreer. Die meeste wynhandelaars was die KWV nie goedgesind nie, maar W Bruckner de Villiers, die eienaar van Lion Distilleries met stokerye by die Paarl en Vlottenberg, het beloof om sy stokerye aan die KWV te verhuur. Hierna het die KWV ’n wapen gehad. Aan die wynhandelaars  is gesê dat hulle hul voorrade net van KWV-lede moes koop, anders stook die KWV sy eie brandewyn en verkoop dit teen ’n laer prys as die handelaars. Die handelaars het toe ingestem tot ’n vyf jaar kontrak.

Teen dié tyd het ’n hele paar ander koöperasies soos Sentraal-Wes bestaan. Party vroeë koöperasies het egter misluk. Nuwe wetgewing in 1922 het bygedra tot die sukses van onder meer die latere Vleissentraal, Bokomo en Sasko.

Die Paarlse en Malmesburyse trustmaatskappye (van 1900) het hul sukses bewys en tussen 1914 en 1922 is 26 Afrikaanse trustmaatskappye en eksekuteurskamers opgerig.

Dit alles het Afrikaans bevorder omdat die taal daarmee ekonomiese waarde verkry het en sy woordeskat kon ontwikkel. Sanlam se prospektusse, polisse, briewe en leesstof is in sowel Afrikaans as Engels opgestel, en daarvoor moes Afrikaanse versekeringsterme geskep word.

Ook andersins het die groei van nasionalisme die taalbewustheid versterk. Op Helpmekaar-byeenkomste is dikwels oor die taal gepraat. Op die Vroue-Helpmekaarkongres op Bethulie in April 1916 het ’n groot deel van die voorsittersrede oor die taalstryd gehandel. Die Transvaalse Helpmekaar het op sy stigting besluit dat Afrikaans sy offisiële taal is. Afrikaans het gevorder, maar met vreemde terugslae. In die NP-tak Noorder-Paarl waar SJ du Toit 35 jaar tevore predikant was, is ’n voorstel dat die notule in Afrikaans gehou word, teruggetrek omdat die skrywer nie daarvoor kans gesien het nie en Nederlands wou skryf. Toe Gordon Tomlinson in 1916 voorstel dat Afrikaans die amptelike taal van die Vrystaatse NP word, het generaal Hertzog effens teëgestribbel en gesê dat sy Afrikaans swak is en dat die grondwet sê van Hollands praat en nie Afrikaans nie! Die voorstel is tog onder toejuiging aanvaar. Die Kaaplandse en Transvaalse NP het in 1917 gevolg met Afrikaans.

Waarom het juis die Nasionale Party die stryder vir Afrikaans geword? ’n Invloedryke groep Afrikaner-nasionaliste was oortuig dat daar ’n tydperk begin het waarin die Afrikanervolk hom met sy taal, letterkunde, kuns en wetenskap kon uitleef tot sy volle potensiaal, ’n tydperk wat ’n ware renaissance in die lewe van die Afrikaner gaan bring. Hierdie jong idealiste kon maklik ondersteuners word van die nuwe dinamiese party onder ’n leier, generaal Hertzog, wat roem verwerf het as die groot stryder vir gelyke taalregte. Al die belangrikste Vrystaatse en Kaapse voorstanders van Afrikaans, soos JHH de Waal en DF Malherbe, het die NP gesteun, asook CJ Langenhoven, wat eers “Sap” was en ook anti-Rebel.