Voortrekkers verlaat Natal

Die Republiek Natalia
April 4, 2015
Nuwe botsings tussen Boer en Brit
April 6, 2015

Toe die Kaapse goewerneur verneem dat Smith hulp vra, het hy ’n mag onder kolonel Josias Cloete per skip gestuur om die beleërde garnisoen te ontset. Cloete was lid van ’n gesiene Kaapse familie. Die Natallers kon nie verhinder dat hy land nie en het teruggeval na Pietermaritzburg. Cloete het aan die Zoeloes die reg gegee om beeste en perde van die trekkers af te neem en teen betaling na hom te bring. In dié proses het Zoeloes verskeie trekkers vermoor. Hoewel party trekkers bereid was om hulle te verset, het die Volksraad hulle aan die Britse gesag onderwerp, onder meer weens die dreigende Zoeloe-gevaar.

Sowat ’n jaar later het Napier die toestemming waarop hy so lank gewag het, gekry om Natal te annekseer. Hy het Henry Cloete, ’n broer van kolonel Josias Cloete, as kommissaris gestuur. Groot was veral die protes van die vroue, wat soveel moes opoffer vir die vryheid. Onder leiding van Johanna Smit, suster van Gerrit Maritz en eggenote van Erasmus Smit, het ’n afvaardiging van 400 ’n onderhoud met Cloete gevra. Eers het Johanna Smit ’n uiteensetting gegee van wat in die verlede met hulle en hul volk gebeur het. Daarna het Johanna Maré ’n smeekskrif aangebied.

Terwyl sy besig was om dit aan hom voor te lees, het Cloete besluit om die saal te verlaat. Die vroue het hom voorgekeer en mevrou Smit het verklaar: “Ons het goed en bloed gegee om onder die gehate vlag uit te kom, en al moet ons kaalvoet en blootshoof oor die Drakensberg loop, ons sal nie onder dié vlag berus nie.” ’n Ander weergawe van haar woorde, of dalk dié van ’n ander vrou, lui: “Ons voete is deurgeloop en ons is moeg van die swerwerslewe en ontbering. Maar ons is bereid om nog verder te loop. Ons is bereid om kaalvoet oor die berge te gaan, die vryheid of die dood tegemoet.”

Reeds van 1842 af het die trekkers Natal begin verlaat. Pretorius en sy ou kommandante Landman en De Lange het hulle probeer aanpas by die nuwe omstandighede. Pretorius het in ’n poging om Afrikaners en Engelse op sosiale gebied bymekaar te bring, een aand ’n deftige bal en dinee aangebied met die keurigste geregte: lensiesop, skaapvleis, wildsvleis met spek gestop, hoender, kalkoen, bobotie, sosaties, groenboontjies, aartappelkoekies, blomkool, slaai en koue tong, ham en klein toebroodjies, wyn en brandewyn, en as nagereg wafels. Dominee Lindley het die tafelgebed gedoen, en Pretorius se toespraak by ’n heildronk is sin vir sin getolk.

Maar die lewe het ondraaglik geword. Straffeloos is vee geroof soos aan die oosgrens. Herhaaldelik het Pretorius klagtes van veediefstal, brandstigting en onveiligheid voor die bevelvoerende offisier in Port Natal gebring. Hy het in 1847 na Grahamstad gery om met die goewerneur, sir Henry Pottinger, mooi te praat, maar dié wou hom nie eens ontvang nie. Die toestand was toe al so erg dat Pretorius se gesin van hul plaas gevlug het. ’n Swart dorp is daarnaby aangelê. Toe hy sy mense in Desember 1847 bereik, was hulle saam met ander vlugtelinge in ’n laer langs die Tugela. Maar waarheen kon hulle vlug? In die gebied tussen die Vaal en Oranje was daar spanning tussen wit mense en Griekwas.