Volksgevoel en kultuur

’n Simboliese ossewatrek
January 24, 2015
Afrikaners aanvaar die kapitalisme
January 24, 2015

Die Trekherdenking het die Afrikaanse kultuurlewe verryk. Die Afrikaanse koerante en tydskrifte het talle artikels en spesiale uitgawes oor die Groot Trek gehad. Die pragtige gedenkuitgawe van Die Huisgenoot – 192 bladsye dik en met hoogstaande artikels deur historici – het ’n versamelaarstuk geword. Magdalena Retief van Uys Krige is bekroon in ’n wedstryd oor episodes uit die Groot Trek. Die mees blywende bydrae tot die Groot Trek-vierings was Die dieper reg wat die jong skrywer NP van Wyk Louw op versoek van die toneelregisseur en akrise Anna Neethling-Pohl geskryf het. Die opvoering daarvan was deel van ’n volksfees van die Afrikaanse Kultuurraad van Pretoria. Baie frases en reëls het volksbesit geword: “As jy ’n trotse volk verkneg,/ word ópstand teen die reg sy reg”. “Ek kom om vir ’n volk te pleit/ Wat klein naas al die volke staan,-/ dat hulle naam nie sal verklink/ en tot die stiltes gans vergaan.”

Die geesdrif vir die trek het die Afrikaanse diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie bevoordeel. Hoewel die SAUK oorwegend Engels was, is in 1937 as tegemoetkoming aan Afrikaanssprekendes besluit dat aankondigings om die beurt in Afrikaans en Engels sou geskied. Dit sou agt minute per dag méér Afrikaans meebring. Die besluit het geweldige teenkanting in die Engelse pers gekry. Honderde briewe van misnoeë is gepubliseer, sommige bitter en sarkasties. Daar was uiteindelik net een oplossing: aparte dienste. Afrikaanse koerante en organisasies, wat eers daarteen gekant was uit vrees dat Afrikaners nie ’n diens van gehalte sou kon lewer nie, het die gedagte van afsonderlike dienste aanvaar, en op 25 Oktober 1937 het‘n Afrikaanse radiodiens uit Kaapstad en op 1 Desember uit Johannesburg begin uitsaai. Die SAUK het besluit om uitsendings te wy aan die eerste paar skofte van die Trek. Hoewel die uitsendings oor tegnies swak telefoonlyne geskied het, was die luisteraars so geesdriftig daaroor dat die hele Trek uitgesaai is. Daarmee is ’n smaak vir Afrikaans as radiotaal geskep, wat egter wel van 1939 tydelik afgeneem het omdat die radio gebruik is om Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog te propageer.

Die radiodiens en die Ossewatrek het die behoefte aan ligte musiek laat toeneem. Die musiek van die plase en dorpe, met ’n sterk eie klankpatroon, was ’n natuurlike bron. ’n Vaardige musikant, Hendrik Susan, het dié musiek deur en deur geken, die standaard van die spel opgehef, ou melodieë opgediep en jong komponiste aangemoedig om nuwes te maak. Hy het jong musikante in sy orkes opgelei en sonder afguns eie orkeste laat stig. So het hy vader geword van ’n beweging in ligte Afrikaanse musiek. Ook musikante soos Jurie Ferreira en Chris Blignaut het baie aanhangers gehad. Blignaut het in 1935 in Engeland opnames soos Ou ryperd laat maak. Binne drie maande nadat hy sy eerste kontrak met Columbia onderteken het, het dié maatskappy 54 000 plate van hom verkoop. Jurie Ferreira het in 1949 saam met Hendrik Susan se orkes opgetree in die eerste Afrikaanse musiekfilm Kom saam vanaand, gevolg deur Hier’s ons weer (1950), Alles sal regkom (1951) en Altyd in my drome (1952).