Voedsel gerantsoeneer

Teenslae en suksesse
January 4, 2015
Die eerste slawe kom aan
January 6, 2015

Die tekort aan vee omstreeks April 1654 aan die Kaap was die gevolg van die optrede van die Khoikhoi-tolk Autshumao, Hadah of Herry. Met die koms van die Hollanders het sy posisie baie verbeter. Hulle het hom as kaptein van die “Strandlopers” of “Watermans” behandel, al het hy geen beeste gehad nie en al het sy mense ’n armsalige bestaan gevoer. Herry was nie net tolk nie, maar is as raadgewer oor Khoikhoisake geraadpleeg. Hy is as ’n vriend van Van Riebeeck behandel en het saam met hom en sy mense aan tafel geëet en klere soos hulle s’n gedra. Wanneer skepe nuwe voorrade gebring het, het Herry sakke vol brood en rys en ’n vaatjie wyn gekry.

Maar hy was nie tevrede nie, en wou graag beeste hê sodat hy weer as groot kaptein beskou kon word. In Oktober 1653 kry hy sy kans. Terwyl die amptenare en garnisoen op 19 Oktober die godsdiensoefening in die Fort bywoon, slaan Herry en sy volgelinge ’n wit beeswagtertjie David Jansz, dood en vlug met veertig Kompanjie-beeste na die binneland. Net een melkkoei, een os, vier kalwertjies en sestig skape het oorgebly.

Op 7 April 1654 het Van Riebeeck weer die Khoikhoi besoek wat hul vee tot sowat tien kilometer van die Fort af laat wei het. Hulle het mekaar omhels “als de grootste vrunden van de werelt”, soos hy in sy dagboek skryf. En, voeg hy by, daardeur het hy weer eens ’n pak klere bederf, want die Khoikhoi smeer hul lyf so vet dat hulle blink soos spieëls in die son! Maar dié toenadering was vrugteloos en die honger het so erg geword dat die Hollanders ’n oerang-oetang moes eet wat hulle dood op ’n berghang gevind het.

Buitendien het die retoervloot die Kaap verbygevaar en Van Riebeeck moes ’n bootjie na St. Helena stuur om die vloot daar te gaan soek en die voorrade te kry wat vir die Kaap bestem was. Te midde van al die gesukkel is Van Riebeeck van “opperhoof” tot “kommandeur” bevorder.

In daardie hongerjaar 1654 het die werk voortgegaan. Op 11 Junie is die eerste Kaapse bakstene gemaak. Die werk is oneindig vergemaklik vandat die Kapenaars van April 1655 ’n paar perde ontvang het. Perde is vir dié deel van die wêreld net so noodsaaklik as “brood in die mond”, het Van Riebeeck verklaar. Behalwe die perde het hulle ook ’n paar varke en appelboompies van St. Helena af gekry.

In die winter van 1654 is die maaltye tot twee per dag beperk. Die eerste, so tienuur soggens, het bestaan uit kool, ander groente en ’n stukkie spek, en die aandete ’n halwe pikkewyn. Die pikkewyne is op Robbeneiland en Saldanhabaai gaan haal. Koffie en tee was daar in elk geval nie in Van Riebeeck se tyd nie, en ook nog nie aartappels nie, wel patats.

Die kos is voorberei in die kookeenhede van die skepe wat na die land gebring is – en die skeepsnaam kombuis behou het. Toe daar later in die aparte huise kos gekook is, het die naam kombuis gebly. So het die “regte” woord keuken in onbruik geraak. Uit die seemanstaal kom ook die woord kooi wat deesdae vir mense ietwat “onverfyn” voel. Die kooi was die slaapplek aan boord van die skip – later ook aan land.