Vlammesee verswelg ‘bakermat van Afrikaans’

Jan-Hendrik (Onze Jan) Hofmeyr (1845-1909)
Januarie 27, 2017
Kollig op Suid-Afrika se kommandostelsel
Februarie 1, 2017

Die eens pragtige plaashuis was omring deur akkerbome wat reeds twee eeue daar staan. Foto: Marthinus van Bart

Deur MARTHINUS VAN BART

Toe die historiese opstal van die Hugenote-plaas De Kleyne Bos (Kleinbos) in Dal Josafat naby die Paarl  in die nag van 9 op 10 Januarie deur ’n verwoestende vlammesee verswelg is, was dit die sovéélste tragedie wat hierdie plaas, bestempel as die bakermat van Afrikaans’, en sy mense tref.

Die plaashuis van De Kleyne Bos (Kleinbos) in Dal Josafat word in die nag van 9 op 10 Januarie deur ’n vlammesee verswelg. Foto: Justin Sullivan

Die plaashuis van De Kleyne Bos (Kleinbos) in Dal Josafat word in die nag van 9 op 10 Januarie deur ’n vlammesee verswelg. Foto: Justin Sullivan

Die veelbewoë, dramaties gelaaide geskiedenis van die Kaaps-Hollandse woning van 1792 en sy inwoners  grens aan die ongelooflike, net soos die plaas se sterk geskiedenisband met die formalisering van die Afrikaanse taal en die vertaling van die Bybel in Afrikaans intrigeryk en allesbehalwe rooskleurig was.

Die eienaar van Kleinbos sedert 2000 is mnr. Ulrich Froese, hoof van ’n Duitse hospitaalgroep Augusta Kliniken en ’n afstammeling van daardie Franse Hugenote wat ten tyde van die godsdiensvervolgings deur die Roomse-Katolieke Kerk in Frankryk na Duitsland gevlug het. Hy het die plaas se Afrikaanse naam en identiteit egter gewysig deur dit Augusta Kleinbosch Guest Farm te noem. Die Du Toit-plaaswoning het hy Hotel Augusta Kleinbosch Country Lodge gedoop, en dit binne met artefakte van etniese Afrika-kuns versier.

Net die vooraansig van die 235 jaar oue Kaaps-Hollandse woning, waar die taalpionier SJ du Toit in 1847 gebore is en in 1911 gesterf het, het bly staan. Foto: Justin Sullivan

Net die vooraansig van die 235 jaar oue Kaaps-Hollandse woning, waar die taalpionier SJ du Toit in 1847 gebore is en in 1911 gesterf het, het bly staan. Foto: Justin Sullivan

DF Malherbe se geboortehuis op Kleinbos. Foto: Marthinus van Bart

DF Malherbe se geboortehuis op Kleinbos. Foto: Marthinus van Bart

Twee ander geboue om die werf, die Victoriaanse DF Malherbe-geboortehuis aan die noordekant van die Du Toit-plaaswoning, en die gerestoureerde Hugenote-Gedenkskool van 1882, aan die suidekant van die opstal, is nie deur die brand beskadig nie. Ook die Malherbe-huis, wat Froese laat restoureer het om as gastehuis vir oorsese besoekers benut te word, is binne en buite met Swart Afrika-kuns versier. Die Afrikaanse taalstryder, skrywer, digter en opvoedkundige DF Malherbe is daar gebore.

Ulrich Froese, eienaar van Kleinbos, in 2002 voor die plaaswoning afgeneem. Foto: Marthinus van Bart

Ulrich Froese, eienaar van Kleinbos, in 2002 voor die plaaswoning afgeneem. Foto: Marthinus van Bart

Froese het in 2002 ’n aansienlike bedrag in ’n trustrekening gestort vir die instandhouding van die gerestoureerde Hugenote-Gedenkskool, die eerste Afrikaanse skool vir Christelik-nasionale Onderwys in Suid-Afrika. Die dubbelverdiepinggebou, in 2001 gerestoureer en op 25 Maart 2002 in gebruik geneem, word deur Froese as ’n gastehuis benut, met ’n simposiumlokaal op die boonste verdieping. Die Gedenkskool is onder leiding van Naspers en Die Burger laat restoureer. Die FAK, Rapportryers, Die Voortrekkers onder talle ander kultuurorganisasies landswyd, het meegehelp om geld daarvoor in te samel. Vandag is die enigste aanduiding op Kleinbos dat die plaas die bakermat van Afrikaans is, die gerestoureerde Gedenkskool en enkele portrette wat verband hou met sy Afrikaanse geskiedenis in die simposiumlokaal. In die begraafplaas is ’n gedenkteken wat verkeerdelik lui dat verskeie lede van die Genootskap van Regte Afrikaners, die eerste Afrikaanse taalstryders, daar begrawe lê. Slegs die taalstryder SJ du Toit is daar saam met ander familielede begrawe.

* Lees meer oor die restourasie van die Hugenote-Gedenkskool in geïllustreerde artikels op www.hugenotegedenkskool.co.za/geskiedenis/

Die plaas De Kleyne Bos van 60 morg is in 1692 aan die Hugenoot Francois du Toit uitgegee. In 1733 erf Andries du Toit die plaas, en in 1760 verkoop sy weduwee, Martha Rousseaux, dit aan haar kleinseun Guillaume du Toit, wat die Kaaps-Hollandse opstal in 1792 bo-op Francois du Toit se eeu-oue plaashuis gebou het.

Die voorgewel vertoon die datum 1792, die jaar toe die Hugenote-nasaat Guillaume du Toit die woning opgerig het. Foto: Marthinus van Bart

Die voorgewel vertoon die datum 1792, die jaar toe die Hugenote-nasaat Guillaume du Toit die woning opgerig het. Foto: Marthinus van Bart

Die Hugenote Francois en Guillaume du Toit was bekend vir hul suksesvolle kommando-veldtogte teen plunderende Boesmanbendes en om hulle finaal uit die Klein-Drakensteinse distrik te verdryf. Die Du Toitskloof-bergpas is na die Du Toit’s genoem omdat hulle die weg tussen die klowe deur na Goudini en Worcester gebaan het. En toe goewerneur Willem Adriaan van der Stel sy pa, Simon, opvolg en sy mag misbruik, het die twee Hugenote hul kragte met Adam Tas saamgesnoer om die korrupte goewerneur ontslaan te kry. Hulle is egter gevange geneem en sou na Mauritius verban word, was dit nie dat WA van der Stel op die nippertjie deur die Here XVII na Nederland herroep is nie.

Nog bekender as hierdie Du Toit Hugenote, was hul nakomelinge Stephanus Jacobus (SJ) en Jacob Daniël (Totius) du Toit.  SJ du Toit is in 1847 op Kleinbos in sy oupagrootjie Guillaume du Toit se plaashuis gebore. Hy het hom as teoloog, koerantredakteur, onderhandelaar, propagandis en taalpionier onderskei, en was onder meer die leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, soos vergestalt deur die Genootskap van Regte Afrikaners, gestig in 1875. Die Genootskappers het die eerste Afrikaanse koerant, Di Afrikaanse Patriot, in 1876 gepubliseer, en die eerste Afrikaanse tydskrif, Ons Kleintjie, in 1896 tot stand gebring.

SJ du Toit, met die skrywersnaam, Ware Afrikaner, het die eerste Afrikaanse politieke organisasie, die Afrikaner Bond, in 1875 gekonsipieer om die Kaapse Afrikaners politiek te bemagtig. In die 1880’s is hy aangestel as superintendent van onderwys van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaalse Republiek) en in 1883 het hy saam met pres. Paul Kruger en genl. Niklaas Smit as lid van die driemanskap ZAR-deputasie na Brittanje gegaan om die soewereiniteit van Transvaal met die Britse regering te bespreek. Dit was in opvolg van die Boere se oorwinning in die Eerste Vryheidsoorlog van 1881-’82 oor die Britse leër. So is dan die onwettige anneksasie van die Britte van Transvaal ongedaan gemaak. Die Slag van Majuba, op die grens tussen Transvaal en Natal, was ’n klinkende oorwinning vir die Boere en die Eerste Vryheidsoorlog was die enigste oorlog wat Brittanje in die 1800’s wêreldwyd verloor het. Hierdie wraaksugtige nasie het dit tot vandag toe nie vergeet nie. SJ du Toit het voorts ook onder meer verskeie hoofstukke van die Nuwe Testament en talle Psalms uit die indertydse Hoog-Hollands van die Nederlandse Statebybel in Afrikaans oorgesit.

SJ du Toit het vanweë sy werkywer en briljante breinkrag die aandag van die Britse magshebbers op hom gevestig, en algaande is hy deur die sluwe politici en hul geheime organisasies mislei om in die landspolitiek betrokke te raak. Hulle het hom verder mislei deur hom in die komplekse sakewêreld van mynaandele met beloftes van groot rykdom in te lok, wat uiteindelik tot sy finansiële en ook persoonlike ondergang gelei het.

SJ du Toit se naasoudste seun Jacob Daniël (Totius) du Totius, ’n Kaapse Rebel tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902, was een van die grootste teoloë in die Afrikaanse geskiedenis. Hy het  na die Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boereoorlog van 1899-1902) ook die leiding in die Tweede Taalbeweging vir die bemagtiging van Afrikaans geneem, en daarvoor gesorg dat die hele Bybel uit Hoog-Hollands in Afrikaans oorgesit en in 1933 gepubliseer word. Die kroon van sy loopbaan was toe hy as professor in Teologie op Potchefstroom aangestel is.

Die veelbewoë geskiedenis van Kleinbos en sy mense kan soos volg in ’n chronologiese tydlyn uitgestippel word: 

* In die 1870s, toe SJ du Toit en die Genootskappers van die Paarl sukses behaal met hul pro-Afrikaanse veldtog as teenvoeter vir die drakoniese Britse angliseringsbeleid om Afrikaans en die Afrikaans kultuur te vernietig, word hulle deur pro-Britse en pro-Nederlandse teenstanders met die dood gedreig. SJ se broer DF du Toit (oom Lokomotief) skryf in Di Patriot: “Dit is die ene vuur en vlam: ’n Hele regiment van vyande staan rondom ons. Eers wou hulle ons doodswyg deur geen notisie van ons te neem nie, maar nou dat die saak (vir Afrikaans) te sterk toeneem, word die vyandskap openbaar en wil hulle ons doodslaan of doodtrap. Vir hierdie vyande van Afrikaans is Engels die taal van fatsoenlikheid.”

In die Eerste Afrikaanse Printjies Boeki ver Soet Kinders van 1879 dig die Genootskapper CP Hoogenhout soos volg oor hierdie Britse angliseringsveldtog – die slang wat vandag weer sy kop in Suid-Afrika uitsteek:

Engels! Engels! Alles Engels, Engels wat jy siet en hoor. In ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal vermoor. Ag hoe word ons volk verbaster, daartoe werk ons leraars saam; Hollands nog in sekere skole, is bedrog, ’n blote naam! Wie hom nie laat anglisere, word geskolde en gesmaad. Tot in Vrystaat en Transvaal al, oweral dieselfde kwaad. Dis vooruitgang!, roep die skreeuers, Dis beskawing wat nou kom! Die wat dit nie wil gelowe, die is ouderwets en dom …

En dan waarsku Hoogenhout pertinent teen die internasionale Vrymesselaarsorganisasie – “wie se werke in die geheim en in die duisternis geskied.” Die Afrikaner Bond, op 14 Augustus 1875 deur SJ du Toit gestig en van 1879 tot 1911 aktief by die Kaapse politiek betrokke, het verskeie Vrymesselaars as bestuurslede gehad. Hulle was die magsgroep agter die Britse Imperialisme. Die latere Suid-Afrikaanse Party, met  genl. Louis Botha as voorsitter, het in 1911 uit hierdie bond ontstaan. Let wel dat die Afrikaner Broederbond, wat deur die Nasionale Party gestig is, hoegenaamd geen band met SJ du Toit en Kie. se destydse Afrikaner Bond gehad het nie.

Ds. SJ du Toit in sy fleur. Hy was onder meer leraar van die NG gemeente Noorder-Paarl, leier van die Genootskap van Regte Afrikaners en die Eerste Taalbeweging, pionier skrywer en uitgewer van Afrikaanse literatuur, pionier Bybelvertaler in Afrikaans, opvoedkundige, propagandis en onderhandelaar.

Ds. SJ du Toit in sy fleur. Hy was onder meer leraar van die NG gemeente Noorder-Paarl, leier van die Genootskap van Regte Afrikaners en die Eerste Taalbeweging, pionier skrywer en uitgewer van Afrikaanse literatuur, pionier Bybelvertaler in Afrikaans, opvoedkundige, propagandis en onderhandelaar.

* In 1882, toe SJ du Toit en sy vrou, Elizabeth Jacoba (Joubert), moeder van hul vier kinders David, Totius, Bettie en Marie, in Pretoria woon nadat hy as die ZAR se superintendent van onderwys aangestel is, sterf sy onverwags. Hulle was 9 jaar getroud. Die kinders word na familie in die Paarl en Daljosafat gestuur. Totius gaan woon op Kleinbos by sy oupa en ouma en ontvang sy skoolopvoeding aan die Gedenkschool der Hugenoten op die plaas. Sy klasmaats is DF Malherbe, die latere opvoedkundige, skrywer en taalstryder, AG Visser, die latere digter, dokter en taalstryder, en Abraham Isak Perold, die latere stigter van die KWV.

* In die 1880s in Pretoria en Johannesburg, kom SJ du Toit in aanraking met die ambisieuse mynmagnaat en Empire-politikus Cecil John Rhodes, ook ’n voorste Vrymesselaar. Toe die ZAR Du Toit as onderwyshoof in 1884 op ’n staatsbesoek oor onderwyssake na Europa stuur, neem hy voorbeelde van goudkwarts saam om aandeelhouers vir die Anglo-Amerikaanse mynmaatskappye, Paul Kruger se felle teenstanders, te werf. Hy gee dan ook te kenne hy ondersoek mynbou in Engeland. Daar, en ook in Nederland, bepleit Du Toit in die openbaar en in koerantonderhoude ’n verenigde Suid-Afrika – inderdaad ’n unie van state, onder oorkoepelende Britse kusbeskerming. In Pretoria kom hy ook in noue skakeling met kommandant-generaal Piet Joubert, hoof van die ZAR se weermag. Joubert, soos Rhodes, was ’n Vrymesselaar, ’n geheime bondgenoot van Rhodes en die Britse Ryk, en ’n felle politieke teenstander van pres. Paul Kruger en sy Boererepubliek.

Die embleem van die Afrikaner Bond wat SJ du Toit gestig het. Die leuse is Verenigde Suid-Afrika. Onder is ’n goue ring en ’n diamant, die dinge waarvoor oorlog gemaak is en SJ du Toit sy Afrikaanse siel verkoop het.

Die embleem van die Afrikaner Bond wat SJ du Toit gestig het. Die leuse is Verenigde Suid-Afrika. Onder is ’n goue ring en ’n diamant, die dinge waarvoor oorlog gemaak is en SJ du Toit sy Afrikaanse siel verkoop het.

* In 1886 bepleit SJ du Toit in Suid-Afrika en in oorsese lande in die openbaar dat ’n verenigde state van Suid-Afrika, “verenig deur ’n goue ketting” (die mynbou), die land se hoogste ideaal moet wees. Hy het geen probleem met Brittanje se oorkoepelende voogdyskap nie. Hy verkeer nou openlik op vriendskaplik voet met Cecil John Rhodes, premier van die Kaapkolonie, en JH (Onze Jan) Hofmeyr, albei voorste Vrymesselaars, en verkondig ywerig saam met hulle die pro-Britse Empire-propaganda. Die embleem wat Du Toit vir sy Afrikaner Bond van 1875 ontwerp het, vertoon die slagspreuk Verenigde Suid-Afrika.

* In hierdie tyd belê SJ du Toit al sy persoonlike kapitaal, asook die kerkfonds van die NG gemeente Noorder-Paarl, waarvan hy leraar was voor sy aanstelling in Transvaal, in goudaandele. In 1890 kom daar ’n insinking van die aandelebeurs en hy en die gemeente verloor al hul geld. Hierdie roekelose najaag van rykdom vir eie gewin veroorsaak ’n totale breuk met die ander taalstryders. Sy Vrymesselaarskap kom nou ook op die lappe, wat ’n verdere steen des aanstoots vir die ander lede van die Genootskap van Regte Afrikaners is.

So het die Genootskap van Regte Afrikaners teen die gevare van die Vrymesselary gewaarsku.

So het die Genootskap van Regte Afrikaners teen die gevare van die Vrymesselary gewaarsku.

* In 1890 is SJ du Toit bankrot. Weens sy verbintenis met Rhodes en sy openbare pro-Empire uitsprake, onder meer in die Pall Mall Gazette van Londen, verval hy in onguns by die Transvaalse regering en word hy uit sy onderwysamp ontslaan. Hy keer terug na die Paarl en besoek Rhodes nou gereeld op Groot Constantia. Hy vertoef soms weke lank daar terwyl hy hom in die Empire-leesstof in Rhodes se indrukwekkende biblioteek verdiep. Rhodes nooi hom in 1890 saam na Europa, en in 1894 na Masjonaland en Matabeleland (later Rhodesië, nou Zimbabwe) om na die Zimbabwe-ruïnes te gaan kyk. SJ du Toit skryf hierna sy opspraakwekkende roman Sambesia of Salomos Goudmijnen bezocht. Dit word geïllustreer met foto’s wat Rhodes met sy spesiaal ingevoerde kamera daar geneem het. Rhodes se gewapende anneksasie (vir Brittanje) van Masjonaland en Matabeleland het net een doel voor oë gehad: ’n Afspringplek vir sy leërmag huursoldate om ’n gewapende staatsgreep op die Transvaalse Republiek uit te voer. Die ryk goudrif van die Witwatersrand móét Anglo-Amerikaanse besit word.

* In die week tussen die Kersfees 1895 en Nuwejaar 1896 val Leander Starr Jameson, boesemvriend en vertroueling van Rhodes, met sy bende swaar gewapende huursoldate Transvaal vanuit Betsjoeanaland binne om die Boererepubliek te oorrompel. Rhodes as Kaapse premier en Joseph Chamberlain, Britse minister van kolonies en oorlog, was die hoofbeplanners van die inval. Anders as wat die onderduimse Britte gemeen het, was die Transvaalse burgers waaksaam. Hulle onderskep die Jameson-bende en dwing hulle by Vlakfontein, Doornkop, suid van Roodepoort en Krugersdorp, tot oorgawe. In die daaropvolgende hofsake word Rhodes en Jameson as die sondebokke uitgesonder, en Rhodes word as premier afgedank. Hierdie rookskerm was egter om Chamberlain en die Britse regering in Londen, die kop van die imperialistiese adder, te beskerm. SJ du Toit, vriend en propagandis van Rhodes, word nou deur die Afrikaanse gemeenskap verwerp. Hy trek hom terug na Kleinbos en begin om die Bybel uit Hoog-Hollands in Afrikaans te vertaal.

* In 1899 breek die Anglo-Boereoorlog uit, en die stryd om die Boererepublieke van Transvaal en die Oranje-Vrijstaat duur tot 1902. Reeds op 30 September 1899, twaalf dae voor die eerste skote van die oorlog val, doen SJ du Toit ’n beroep op sy mede-Afrikaners om toe te gee aan al Engeland se eise. Hy beveel aan dat al die Uitlanders (fortuinsoekers van alle uithoeke van die aarde wat goud kom soek het om gou ryk te word) dadelik stemreg in Transvaal kry. “Engeland wil nie die republikeinse grondgebiede hê nie. Hy stel maar net in die goud van die Witwatersrand belang.” Wat SJ du Toit egter nie verkondig nie, is dat die Witwatersrandse goudrif die rykste ter wêreld is. Wie dit beheer, beheer die wêreldekonomie; en wie die wêreldekonomie beheer, het oppermag oor die ganse wêreld.

Die Hugenote-Gedenkskool op Kleinbos sluit omdat die Afrikaanse gemeenskap SJ du Toit grondig wantrou. Hulle beskuldig hom onder meer van: Growwe oneerlikheid met Afrikaanse kerkgeld, ’n skandalige buite-egtelike verhouding met ’n vroulike lidmaat (wat hy ten sterkste ontken het), ’n onvanpaste vriendskap met die aartskapitalis Rhodes, ’n beheptheid met Randse goudaandele, heulery met Vrymesselaars en hul geheime politiek, blatante pro-Britse propagandamakery voor en gedurende die ABO, sy openlike vyandigheid jeens die Kaapse Rebelle wat saam met die Republikeine teen die Britse leër veg, en sy verraad teenoor die Boere se vryheidstryd.

SJ du Toit skaar hom deur die hele verloop van die oorlog – en ook daarna – volkome by die uitbouers van die  Britse Empire, hul plundering van alles waardevol in Suid-Afrika, en hul verwerping van die selfbeskikkingsreg van die Afrikaners op eie grondgebied.

SJ du Toit en die Genootskappers se eens gewilde Afrikaanse koerant, Die Patriot, verskyn nie meer nie, want geen Afrikaner met selfrespek wil dit in sy huis hê nie. Dit het ’n spreekbuis vir  Britse oorheersing en die onderdrukking van die Afrikaanse kultuur, taal en gemeenskap geword.

 * Op 29 Maart 1900, midde-in die bloedige stryd tussen Boer en Brit in Natal, Transvaal, die Oranje-Vrystaat en die Oos-Kaap, tree SJ du Toit op as hoofspreker by ’n saamtrek van Britse lojaliste op die Paarlse sportterrein. Meer as 1500 lojaliste, waarvan sowat die helfte bruines, het die saamtrek bygewoon. Die verhoog was met Britse Union Jack-vlae versier. SJ du Toit het ’n mosie van steun aan die Britse Imperiale beleid vir die hele Suid-Afrika voorgestel, wat met ’n toejuiging eenparig deur die skare aanvaar is. Hy het onder meer gesê die groot opkoms van “Brits-lojale kolonialers” by die saamtrek “toon dat die Paarl nie ’n broeiplek van sidisie en dislojaliteit is nie”. “Die lojale onderdane van die Britse Kroon het volle vertroue in die Britse regering, in die Kaapkolonie se goewerneur en Britse Hoë Kommissaris, sir Alfred Milner, en in die goedhartigheid van koningin Victoria. Die Kaapse Rebelle moet swaar gestraf word. Hul stemreg moet ook lewenslank hulle ontneem word.” Hy het voorts ’n beroep op die Boere te velde gedoen om die wapen neer te lê en hulle onvoorwaardelik aan Britse gesag te onderwerp.

* Toe oorlog op 11 Oktober 1899 in Transvaal verklaar word, wil die jong teologiese student Jacob Daniël (Totius) du Toit sy mede-Afrikaners in die Boererepublieke van Transvaal en die Vrystaat gaan help veg teen die halfmiljoen Britse soldate wat van oorsee af per skip ingevoer word. SJ du Toit probeer sy seun keer en verbied hom per brief om die wapen teen die Britse Ryk op te neem. Totius steur egter hom nie aan sy pa nie, en hy word Boere-prediker te velde in Transvaal en Natal. In Mei 1900 word hy ernstig siek weens die Britte se giftige liddietgas waarmee die Britte die Boere bombardeer. Met die hulp van sy kamerade steek hy in Oos-Transvaal die grens na Mosambiek oor en vaar in ballingskap per Duitse skip na Nederland. Daar studeer hy verder in die teologie. Hy keer eers na die vredesluiting terug na Suid-Afrika toe amnestie aan hom verleen word. Hy help daarna om die gevalle Afrikaners op te hef en sien ook toe dat die Bybel in Afrikaans vertaal en uitgegee word. Sy literêre en teologiese nalatenskap is fenomenaal.

Die Gedenkschool der Hugenote in 1883 by voltooiing afgeneem deur James Gribble van die Paarl.

Die Gedenkschool der Hugenote in 1883 by voltooiing afgeneem deur James Gribble van die Paarl.

 * In 1904 gaan woon SJ du Toit en sy gesin op Schoongezicht, Klein-Drakenstein. Maar hy is toe  te arm om die plaas te koop. Twee Joodse sakemanne, Bension Aäron en Leon Steinweis, klaarblyklik Vrymesselaars wat SJ du Toit deur sy invloed in die Transvaalse regering ten tyde van sy aanstelling as superintendent van onderwys finansieel en andersins gehelp het om ’n sigaarfabriek op te rig, skenk £1500 aan hom om die plaas te koop. ’n Jaar later verkoop hy Schoongezicht en koop Kleinbos terug, sodat hy weer in sy geboortehuis en op die plaas van sy Hugenote-stamvader kon woon. Die Gedenkschool der Hugenoten is gehawend en word as skuur benut. SJ du Toit se oudste seun, Dawid (35), boer nou saam met sy pa met vrugte op Kleinbos en hou byekorwe in die Gedenkskool-skuur se boonste vertrek aan. Op Saterdag 6 Augustus 1910 steek ’n heuningby Dawid daar en hy sterf oomblikke daarna tussen die korwe weens hartversaking.

SJ du Toit se graf in die familiebegraafplaas op Kleinbos. Foto: Marthinus van Bart

SJ du Toit se graf in die familiebegraafplaas op Kleinbos. Foto: Marthinus van Bart

* Op 2 Augustus 1910 was SJ du Toit onderweg na sy familie op Calvinia toe sy perdekar in die Pakhuis-pas tussen Clanwilliam en Calvinia omslaan en hy sy skouer beseer. Hy kuier egter ’n week lank op Calvinia ondanks die pynlikheid van die besering. Op Sondag 7 Augustus ontvang hy daar die skoknuus dat Dawid weens ’n bysteek aan hartversaking gesterf het. Ná SJ du Toit se terugkeer na Kleinbos ervaar hy onophoudelik pyn in sy skouer en moet hy morfienpille drink. Sy toestand vererger en hy word bedlêend. Na ’n lyding van nege maande sterf  SJ du Toit op 28 Mei 1911 in sy pragtige Kaaps-Hollandse geboortehuis op Kleinbos. Hy word op die plaas in die ommuurde familiekerkhof begrawe.

 

* In Januarie 1911, terwyl SJ du Toit op sy sterfbed op Kleinbos gelê het, is die verdere skoktyding aan hom gebring dat sy oudste dogter, Bettie, op Stellenbosch ná ’n operasie gesterf het.

* In 1917 skryf Totius, nou professor in Teologie op Potchefstroom, ’n biografie oor sy vader, Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk: ‘’n Periode van Afrikaanse oplewing. Dit word in die Paal gedruk en uitgegee deur Paarl Drukpers Maatschaapij Beperkt, wat 42 jaar tevore deur die Genootskappers gestig is. In die voorwoord erken Totius prontuit dat hy dele van sy vader se lewensverloop weggelaat het: “Wat minder gepas gelyk het, werd dan ook onverbiddelik geskrap.”  Dit is ook bekend dat hy talle persoonlike dokumente van SJ du Toit verbrand het “ … omdat dit te pynlik was om openbaar te maak.” Vermoedelik het dit onder meer betrekking op sy pa se vermeende lidmaatskap van die geheime Vrymesselaarsbeweging.

DF Malherbe (links) en JD (Totius) du Toit. Malherbe het hom as Afrikaanse taalstryder, opvoedkundige en skrywer in Afrikaans onderskei. Totius was professor in Teologie, taalstryder, Bybelvertaler en opbouer van sy Afrikaanse gemeenskap na die Anglo-Boereoorlog. Malherbe en Totius was saam met die skrywer en taalstryder AG Visser leerlinge van die Hugenote-Gedenkskool op Kleinbos.

DF Malherbe (links) en JD (Totius) du Toit. Malherbe het hom as Afrikaanse taalstryder, opvoedkundige en skrywer in Afrikaans onderskei. Totius was professor in Teologie, taalstryder, Bybelvertaler en opbouer van sy Afrikaanse gemeenskap na die Anglo-Boereoorlog. Malherbe en Totius was saam met die skrywer en taalstryder AG Visser leerlinge van die Hugenote-Gedenkskool op Kleinbos.

* In 1920 gaan woon Totius met sy gesin op die plaas Krugerskraal naby Potchefstroom. Hy is reeds in Augustus 1910 aangestel as professor in Teologie aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk op Potchefstroom. Op 7 November 1920, kort nadat die gesin op Krugerskraal ingetrek het, sterf Totius se jongste kleuter-seuntjie,  Francois, aan meningitis. Net meer as  ’n maand daarna, op 31 Desember 1920, sterf ook sy tienderjarige eersteling-dogter, Wilhelmina, op dramatiese wyse toe sy ten tyde van ’n swaar donderstorm in die huis voor ’n venster deur ’n weerligstraal getref word.

Die dramaturg, skrywer-filosoof, regsgeleerde en taalstryder WA ( Bill) de Klerk by die Afrikaanse taalmonumentjie op Naauwbepaald langs Kleinbos in Dal Josafat afgeneem.

Die dramaturg, skrywer-filosoof, regsgeleerde en taalstryder WA ( Bill) de Klerk by die Afrikaanse taalmonumentjie op Naauwbepaald langs Kleinbos in Dal Josafat afgeneem. Foto: Marthinus van Bart.

* 1980: Kleinbos kom in die mark en die Paarlse skrywer, dramaturg en regsgeleerde, WA (Bill) de Klerk, probeer Afrikanerleiers in die Broederbond tevergeefs omhaal om die historiese plaas te koop en die Hugenote-Gedenkskool te restoureer en as Afrikaanse Taalmonument en ’n lewende taalmuseum in te rig. Die Broeders besluit om eerder ’n Moderne Taalmonument van beton aan die hang van die Paarlberg op te rig. Die plaas word verkoop aan ’n private koper, met geen belang by die historiese waarde van die plaas en sy geboue nie. Hy verkoop dit kort daarna aan Britse spekulante, wat dit om die beurt aan Ulrich Froese verkoop. WA de Klerk bedank uit protes uit die Broederbond, want hy is van mening dat hulle Kleinbos en sy argitektoniese en kulturele nalatenskap as bakermat van Afrikaans geringskat.

Die gerestoureerde Hugenote-Gedenkskool in 2003 afgeneem nadat dit gerestoureer is. Foto: Marthinus van Bart

Die gerestoureerde Hugenote-Gedenkskool in 2003 afgeneem nadat dit gerestoureer is. Foto: Marthinus van Bart

* 1993-2001: Die Gedenkskool der Hugenoten word van algehele verval gered deur ’n grootskaalse geldinsamelingsveldtog van agt jaar op inisiatief van WA de Klerk en onder aanvoering van Die Burger. Die gebou word in 2001 gerestoureer en in Februarie 2002 her-ingewy. Kort voor die inwyding sterf WA de Klerk aan ’n hartaanval by sy huis in Courtrai, Paarl, en so beleef hy self nie die verwesenliking van sy jare lange droom om die Gedenkskool “as bakermat van Afrikaans” in ere herstel te sien nie.

* 2005: ’n Nederlandse plaasbestuurder wat Ulrich Froese in 2000 op Kleinbos aangestel het, pleeg selfmoord deur hom in die hoofslaapkamer van die ou woning aan een van die dik geelhoutbalke op te hang.

* 9 Januarie 2017: Die plaashuis op Kleinbos brand af, en net die vooraansig met sy imposante gewel met die datum 1792 bly staan. Benewens die kulturele en argitektoniese verlies wat deur  die ramp gely word, was die talle dik geelhoutbalke en vloere deur die hele woning ’n fortuin werd. Selfs al word die woning weer opgebou, sal dit maar net ’n nabootsing van die oue wees. Slegs die graf van SJ du Toit in die familiebegraafplaas op Kleinbos is nog stille getuienis van ’n hoogs interessante en briljante Afrikaner wat weens sy persoonlike ambisie en hebsug die spoor van ’n edele ideaal vir die ganse Afrikaanse gemeenskap byster geraak het.

 

Die benutting van die Hugenote-Gedenkskool as slypskool vir Afrikaans misluk op die lange duur weens ’n gebrek aan belangstelling onder die jong Afrikaanssprekendes. Hierdie antipatiese gees is volkome in pas met die nuwe Suid-Afrika, waar Afrikaans nie meer in die Parlement, die howe en die staatsdiens gehoor word nie. Selfs van die geldnote en die posseëls het dit verdwyn. Die meeste voorheen Afrikaanse universiteite is reeds totaal verengels, en die druk om Afrikaans in die ban te doen, neem daagliks toe. Stemme vir die behoud van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur raak gaandeweg al hoe stiller. Alles waarvoor die Genootskap van Regte Afrikaners en die taalstryders ná hulle so hard teen anglisering en onderdrukking van die Afrikaanse taal en kultuur geveg het, lê in puin. Net soos die Kaaps-Hollandse herehuis van die Hugenote Du Toit’s vandag op Kleinbos ook as lewende simbool van Afrikaans in puin lê.