Vier soorte Afrikaners

Lady Anne Barnard besoek die Boere
February 17, 2015
Verset teen Engelse in Graaff-Reinet
February 19, 2015

Die meerderheid Kapenaars was in 1795 afsydig van die Engelse. Een van die Britse gesagvoerders, JH Craig, skryf op 22 September 1795 dat, behalwe ’n halfdosyn of wat van die handelaars en hoë amptenare van die kolonie, byna elkeen die vyand van die Britte is. Hy het gesê dat, as daar ’n vyandelike mag na die Kaap sou kom, niemand die Engelse sou help nie. Dit was in elk geval waar van die Graaff-Reinetters, wat hulp van Batavia ontbied het. Maar die skip wat die hulp sou bring, Het Haasje, is in Saldanhabaai deur die Engelse gevang en die troepe moes hulle oorgee.

Die mislukte poging om die Kaap te herower, het demoraliserend op die meeste Afrikaners ingewerk. Die meerderheid het hulle rustig gedra. Macartney het op 28 Mei 1797 bepaal dat elke burger ’n eed van getrouheid aan Brittanje moes aflê. Soveel burgers het die eed nie afgelê nie, dat hy op 28 Junie ’n tweede proklamasie uitgevaardig het: dié wat dit voor 10 Julie nie doen nie, sou uit die kolonie verban word. Die meeste het daarna die eed onwillig afgelê, maar sommige weieraars is verban.

Die owerheid het ’n beleid van versoening nagestreef wat deur ’n aansienlike groep koloniste aanvaar is. Dié faktor was alreeds werksaam onder party van die hoë amptenare uit die Hollandse tyd wat hul betrekkings teruggekry het. Hulle het daagliks met die Engelse amptenare saamgewerk en hulle so gou as moontlik by die nuwe omstandighede aangepas. Sommige van hulle was van die begin af simpatiek teenoor die Engelse, en het gou hul lewensbeskouing aanvaar en die Engelse lewenswyse aangeneem. Onder hulle was die fiskaal, Willem S van Ryneveld. Die sosiale afstand tussen Afrikaans- en Engelssprekendes het kleiner geword omdat hulle meer met mekaar omgegaan het. Die Engelse het in 1796 perdewedrenne ingevoer. Die Afrikaners het dit ondersteun, omdat sommige van hulle perdetelers was. Lady Anne Barnard het deur haar innemendheid mense gewin deur hulle saam te neem na die perdewedrenne asook na die danspartye wat sy gereeld gehou het. “En so onder die bekoorlike musiek van die dansbaan en die opgewondenheid van die renbaan is van meer as een Kaapse Afrikaner waarskynlik ’n oortuigde Angloman gemaak”, skryf GD Scholtz. Onder die invloed van lady Anne Barnard het die sosiale lewe van die Afrikaner, wat voorheen sterk onder Franse invloed gestaan het, ’n Engelse karakter gekry wat dit tot vandag behou het. Lady Anne het in 1798 met genoegdoening geskryf dat die Engelse offisiere “at a great rate” trou met die “Dutch vrows”. Tog was daar ook ander Engelse wat die “Dutch” met minagting behandel het, meld sy in ’n brief in 1797.

Volgens ’n memorandum wat in 1801 opgestel is, was daar vier groepe Afrikaners. Hulle was die Britsgesindes of “Anglomanne”, ten tweede die aanhangers van die Huis van Oranje, wat met die Britsgesindes saamgewerk het, maar nie hul landgenote vervolg het nie, in die derde plek die “gemodereerde partij” wat aan Nederland getrou wou bly en ongetwyfeld die meerderheid Afrikaners omvat het, en ten slotte ’n groep wat onder die invloed van die heersende Frans-revolusionêre denkbeelde was.