“Victórie! Victórie!” vir die Vryburgers

In die “donker gat” opgesluit
January 18, 2015
“‘k Ben een Africaander!”
January 20, 2015

In Februarie 1707 het Starrenburg ’n laaste poging aangewend om die nege vryburgers te vang wat hy ’n paar maande tevore gedagvaar het. Dit was oestyd, en die boere wou op hul plase wees. So kon hy Jacobus van Brakel en Hercules des Pres in die hande kry. Albei is op ’n vuil, klein fregat na Mauritius gesit wat jare lank vir die slawehandel tussen Madagaskar en die Kaap gebruik is. Adam Tas en Jacob Louw is in die kasteel gevange gehou.

Op 20 Februarie kry Nicolaas Oortmans, ’n lid van die politieke raad wat die burgers steeds welwillend behandel het, die nuus dat die dae van die goewerneur getel is. Hy het die tyding ontvang in ’n brief wat deur ’n skip uit Nederland saamgebring is. Oortmans het die nuus versprei en op 21 Februarie het ene Albert Gerrit van Emenes met sy perd deur die nagdonker strate van die stil dorpie Stellenbosch gejaag en luidkeels geskree: “Victórie! Victórie!”

Die burgers het uitdagender geraak. Guillaume du Toit het spottend aan die sekretaris van die landdros gevra of hy ’n mooi vaderlandse tou wil hê om ’n strop te maak waaraan hy homself kon ophang. Drie dae later is hy in die kasteel opgesluit.

Op 16 April 1707 het die amptelike briewe van die Here XVII aangeland. Die gevange burgers is vrygestel, en die goewerneur, die sekunde Samuel Elsevier, landdros Johannes Starrenburg en predikant Petrus Kalden is uit hul ampte ontslaan en na Nederland ontbied. Geen amptenaar sou meer aan die Kaap mag kom om te boer nie. Almal met plase moes hulle óf verkoop óf vryburger word.

Willem Adriaan het gehoop dat die Here XVII sy versoek sal toestaan om aan die Kaap te mag bly. Toe die nuwe goewerneur egter aankom, het hy besef dit sal nie gebeur nie, en op 23 April 1708 het hy en sy broer Frans, asook ds. Kalden en Elsevier vertrek. Vergelegen is twee jaar later in vier dele gedeel en verkoop.

Die vrygelate Adam Tas het sy plaas naby Stellenbosch Libertas (Latyn vir “vryheid”) genoem, met ‘n woordspeling op sy naam en sy nuwe vryheid. Sy lessenaar het hy in 1711 teruggekry nadat sekere “kwaadaardige geskrifte” daarin tot niet gemaak is. Daaronder was dele van sy dagboek. Gedeeltes van ‘n afskrif van sy dagboek het gelukkig bewaar gebly, en in 1914 is dit saam met ‘n Engelse vertaling uitgegee.

Daar het nog jare na die gebeurtenisse ‘n woordestryd daaroor in Nederland gewoed. Ná die aankoms van die Van der Stel-broers het ‘n anonieme geskrif, getitel Korte Deductie, verskyn. Daarin is die aanklagte van die burgers weerspreek. Toe dit aan die Kaap bekend word, het die burgers Adam Tas en Jacob van der Heiden na Nederland gestuur om hul saak te stel. Dit het hulle gedoen in ‘n lywige antwoord, die Contra Deductie. Die skeepsarts en skrywer Abraham Bogaert het in sy reisbeskrywing van 1711 die saak breedvoerig behandel en die burgers gelyk gegee. Hy het skerp, maar billike kritiek op die Goewerneur en sy amptenare gelewer. Hy het insae gehad in al die vryburgers se dokumente, asook in dokumente wat hy in die hoofkantoor van die Kompanjie moes gekry het.

In 1956 het D.J. Opperman die gebeurtenisse in die vroeë agtiende eeu verwerk tot die drama Vergelegen. Daarin laat hy Van der Stel aan die einde sê: “Wat weet hul van die strewe na iets skoners? / Ek verdoem die hele land en sy bewoners: / twis sal ewig op julle Afrikaners lê as vloek; / vergeefs sal julle rus tussen dié berge soek; / mag julle afgemaai word deur die pokke […]”