Verwoes, verwoes, verwoes

Afrikaans word ’n amptelike taal
January 22, 2015
Kruger-wildtuin en ander ontwikkelings
January 22, 2015

Geen oorlog wat Brittanje sedert 1815 gevoer het, het daardie land meer aan geld en lewens gekos as die Anglo-Boereoorlog nie. Die land moes meer as £200 miljoen opdok. Onder meer is 400 346 perde, muile en donkies “bestee”, skryf Thomas Pakenham. Daar was meer as 100 000 ongevalle onder die 396 693 imperiale en 82 742 koloniale soldate: sowat 22 000 van hulle het gesneuwel of is dood aan wonde, beserings of siektes.

Van die 75 000 Boerevegters (onder wie 2120 buitelandse vrywilligers en 13 300 Kaapse en Natalse rebelle) is 6189 man dood. Hoeveel in die konsentrasiekampe gesterf het, weet niemand seker nie – Fransjohan Pretorius stel dit op 27 927. Hiervan was 79% kinders onder sestien. ’n Totaal van 34 116 Afrikaners het dus in die oorlog omgekom – volgens Pretorius ongeveer 10% van die Boerebevolking van die twee republieke. Volgens GD Scholtz was daar in 1899 sowat 500 000 Afrikaners, van wie sowat 100 000 in die Vrystaat en 125 000 in Transvaal. Hiervolgens is die persentasie gestorwenes naastenby 15% van die Afrikaners van die twee republieke (of 7% van die Afrikanervolk as geheel). In aparte kampe vir swartes is minstens 14 000, maar moontlik 20 000 dood.

GD Scholtz raam die skade wat die Britte aan private eiendom aangerig het op by die £100 miljoen. Die twee republieke was grondig verwoes. Die skrywers van ’n Britse verslag sê dat die land ’n woesteny was; The Times History of the War in South Africa gebruik die woorde “an absolute wilderness”. Volgens dié werk het daar feitlik geen plaashuis bly staan nie. In groot gebiede was feitlik al die vee doodgemaak. Behalwe ’n paar damme en stukke draadheining “the whole apparatus of rural civilization has practically been wiped out”. Dertigduisend plase is afgebrand. Van die een miljoen beeste in Transvaal was 200 000 oor; van 200 000 perde 50 000 en van die 1 500 000 skape en bokke 400 000. Die oorlog het die einde van die Boerperd as ras meegebring – ’n ras met sy eie besondere skerpsinnigheid en uithouvermoë.

’n Latere Britse premier, J Ramsay MacDonald, het ná ’n besoek in sy boek What I saw in South Africa, September and October, 1902 (ook in Afrikaans vertaal) die skade beskryf. Noord en wes van ’n lyn wat mens op die Vrystaatse kaart van Winburg tot Ficksburg kon trek, tot op die Transvaalse grens het min huise buite die dorpe oorgebly, en die dorpe self, soos Bethlehem, Reitz, Senekal en Vrede, was in alle stadiums van verwoesting.

Hy beskryf hoe die Vrystaatse dorp Lindley sinloos, maar volledig in ’n puinhoop verander is. “Voor die oorlog was Lindley ’n Arkadia, toegeplant met bome; nou het dit sonder skaduwees teen die geel, verskroeide bult gelê.” Daarvandaan het hulle in drie dae 150 myl verder gery. “Die land was so verlate en woes soos die kant van die Sahara; byna die enigste beeste wat ons gesien het, was die karkasse wat langs die pad lê en verrot het; ons het slegs by een plaas verbygegaan wat onbeskadigd was.”

Die hele Oos- en Wes-Transvaal was verwoes – die suidoostelike deel was afgebrand. In Noord-Transvaal het swartes blykbaar op groot skaal vernielings aangerig. “Van die een end van die land na die ander, behalwe in sommige noordelike dele, is alles verwoes wat tot voedsel gemaak kon gewees het, beeste gedood, plaasgereedskap stukkend geslaan, damme gebreek en besproeiingswerke beskadig.:  Verwoes, verwoes, verwoes – dit is die veeseggendste trefwoord in MacDonald se boek.