Siektes en medisynes in die ou dae
April 24, 2017
Die rol wat die Afrikaanse vrou en moeder in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het in die vorming en bestendiging van ’n eie Suid-Afrikaanse kultuur
April 24, 2017

(Geskryf deur mnr. PG van Wyk, soos verskyn in Historia Junior, November 1965)

Elke dag doen die posbode by ons huise aan en lewer briewe of pakkies af. As ons die briewe ontvang, sien ons daar is ’n seël op die koevert. Ons sien ook aan die stempel op die brief waar dit gepos is. Somtyds kan ons op die koevert sien dat dit met die lugpos gekom het.

’n Brief wat vandag hier gepos word, kan maklik oormêre in Engeland wees. Vandag maak ons van treine, busse, skepe en vliegtuie gebruik om pos vinnig oorsee of oorland te stuur. Weet julle dat daar ’n tyd was toe daar nie eers so iets soos aflewering per pos was nie.

Hulle vertel ons dat hulle omtrent so 3000 jaar voor Christus, al van hardlopers gebruik gemaak het. Die vinnige hardlopers moes die boodskappe uit hulle kop leer, en dan hardloop tot waar hulle moet wees en die boodskap afgee. Hulle ontvang dan die antwoord en hardloop terug en dra dit oor aan hulle heersers. Dit is ook omtrent net konings wat hiervan gebruik gemaak het, want die gewone mense kon nie lees of skryf nie.

Om dit nog vinniger oor die weg te kry, het hulle later van perde gebruik gemaak. In Amerika het hulle dit die “Pony Express” genoem. Elke 10 myl was daar vars perde en op die manier kon hulle van een kant van Amerika na die ander kant ry in 10 dae.

Hier in ons land het ons ook in die begin van boodskappers gebruik gemaak. Die brief word in die mik van ’n stok gesteek, en die slaaf hardloop dan daarmee tot waar hy dit moet afgee. Later het hulle ook van perde gebruik gemaak. As daar iemand in die buurt dood is, is ’n begrafnisbriefie uitgeskryf en die brief is dan van plaas tot plaas geneem om die mense in kennis te stel van die begrafnis. Vandag word die mense per telefoon in kennis gestel.

 

Poskoets

Vandag kan ons omtrent na enige dorp of stad in ons land per trein ry. In die ou dae was daar nie so iets soos treine nie. Ons voorouers moes maar van ossewaens en perdekarre gebruik maak om te kom waar hulle wou wees.

Toe ons land al meer en meer uitgebrei het en dinge vinniger moes gebeur, het ons van die poskoets gebruik gemaak. Dit was ’n koets wat gewoonlik deur ses flukse perde getrek is. Orals langs die pad was daar plekke waar vars perde gehou is. As die koets daar kom, word die perde gou uitgespan en ses vars perde word ingespan. Sommer gou trek die koets al weer op sy pad verder aan. Behalwe passasiers was daar possakke en soms sakke of trommels goud ook in die koets. As die koets met ’n swierige draai voor die grootste gebou in die dorp stilhou, kom al die mense kyk wie daar afklim en of daar dalk vir hulle pos is. Soms het padrowers die koets voorgestaan en sommer maklik die drywer doodgeskiet as hy nie stilhou nie. Hulle het dan al die pos en geld geneem en soms nog die passasiers beroof. Dan het hulle tussen die bosse verdwyn. Die aankoms van die poskoets was ’n groot gebeurtenis in ’n dorp.

 

Kar en perde

Vyftig jaar gelede was hier nog maar min motorkarre in die land. Die mense het toe nog van perdekarre gebruik gemaak. Omtrent elke boer het ’n kar en perde gehad. Daarmee het hy heen en weer tussen sy plaas en die dorp gery.

Sommige mense in die dorp het ook kar en perde gehad waarmee hulle weer vir hulle plaasvriende gaan kuier het. As die boer ver van die dorp gewoon het, het hy gewoonlik vroeg in die pad geval en nog voer vir die perde ook ingelaai. Waar hulle uitspan, is die perde dan koud gelei en van water en voer voorsien.

In die dorp het hy gou sy inkopies gedoen, want gewoonlik wou hulle nog voor donker weer terug op die plaas wees. Elke boer het ook ’n wa en osse gehad. Wanneer die boer sy oes ingesamel het, het hy gewoonlik sy produkte op die wa gelaai en dit dan in die dorp aan die handelaars gaan verkoop. Gewoonlik het hy dan weer gereedskap, draad of ander benodigdhede gekoop en dit per ossewa terug na sy plaas geneem.

Met Nagmaaltye was dit altyd ’n groot gebeurtenis. Dan het die boere van heinde en ver met hulle ossewaens gekom. Hulle het dan om die kerkgebou kom uitkamp en die hele naweek daar gebly. Saans het die jongmense om die vure gesit en sing of gesels.