Verskillende houdings oor swartes

Politieke krisis
January 23, 2015
Bruin mense van Afrikanernasionalisme vervreem
January 23, 2015

Die botsing van “basiese instinkte” waarna Cillié verwys, kom ook tot uiting in die houding van Afrikaners teenoor die swart mense in die jare dertig. Aan die een kant het die teenstellings tussen die rasse in die dertigerjare verskerp; baie blankes het maatreëls geëis teen veral woonbuurt- en sosiale integrasie en bloedvermenging. Tog was daar pogings om ’n verandering in gesindheid by Afrikaners teenoor swartes en bruines teweeg te bring. Die Handhawer, offisiële orgaan van die Handhawersbond, het op 20 Mei 1934 in verband met die swartes gevra: “Watter kultuur gaan hulle ondersteun, Engels of Afrikaans? Is dit nie miskien die plek waar die stryd tussen die blanke kulture besleg sal word nie?” In een van verskeie briewe deur uiteenlopende mense in De/Die Kerkbode en Die Burger, het dominee JLW Hofmeyr op 20 Augustus 1930 in De Kerkbode die vertroue uitgespreek dat ’n mens hoop dat openbare sprekers nie ’n woord soos witmansland sal gebruik nie omdat dit die land van sowel die wit- as swartman is, en ook nie die woord kafferboeties nie – “want wat anders is elkeen wat soek om iets te doen vir sy swart mede-Afrikaners?”

Maar die neiging tot rasseskeiding het oorheers. Gustav Preller het in Ons Vaderland dikwels woorde van generaal Smuts in 1917 aangehaal dat skeiding nodig is om te belet dat ons “ondergaan in die welsand van die Afrikaanse naturelle-bloed” soos ander beskawings wat eenmaal in Afrika gebloei het en waarvan net ruïnes oor is. Gebiedskeiding is in 1913 die eerste keer wetlik vasgelê in die “Naturellen Grond Wet”. Die meeste bestaande swart dorpe en reservate, asook ander grond in besit van swartes, sou beskou word as “naturellegebiede”. Geen swarte mag grond van ’n nie-swarte koop nie en geen nie-swarte mag grond in swart gebiede koop nie.

Die grond was veels te min vir die toenemende swart bevolking; volgens die 1936-sensus was daar 2 miljoen wit, 5 600 000 swart en 769 000 bruin mense en 219 000 Indiërs. In 1936 is wetlik meer grond aan swartes beskikbaar gestel. ’n Trust is gestig om dit aan te koop en oor die ontwikkeling toesig te hou. Nog ’n wet is in 1936 moontlik gemaak deur die samewerking tussen Hertzog en Smuts. Deur dié wet is die Kaaplandse swart kiesers op ’n aparte kieserslys geplaas. Hulle kies dan drie wit verteenwoordigers vir die Volksraad en twee in die Kaaplandse Provinsiale Raad. Verder sou die swartes van die hele Unie indirek vier senatore kon kies deur n kieskollege van stamhoofde, plaaslike en adviserende rade. Ten slotte is ’n “Naturelle-Verteenwoordigingsraad” met adviserende magte vir die hele Unie geskep. Die raad het misluk en die eise om politieke regte vir almal het al sterker geword. Die swartes het al hoe meer wit pleitbesorgers gekry – een van hulle ’n minister, JH (“Kleinjan”) Hofmeyr, wat so sterk teen die wet gekant was dat hy in die Parlement daarteen gestem het. Hofmeyr, familielid van “Onze Jan”, was daarteen omdat dit ’n gevestigde reg vervang deur ’n gekwalifiseerde en minderwaardige burgerskap. “I believe that there is also a rising tide of liberalism in South Africa.”