Verset teen Engelse in Graaff-Reinet

Vier soorte Afrikaners
February 18, 2015
Kaap kry sy eerste koerant
February 20, 2015

Die Swellendammers het die gedwonge eed van getrouheid aan die Britte gou afgelê, al was baie ontevrede omdat die Engelse twee van hul leiers verban het. Een van hulle was Louis Almero Pisani, wat die opstandigste deel van die Swellendamse burgers in die Britse aanval teen die Kasteel aangevoer het. Die ander man was die gewese kommandant Petrus Delport, wat met sy Swellendammers dapper teen die Engelse geveg en geweier het om die eed van trou af te lê. Sy medeburgers was ontevrede omdat hy sonder verhoor verban is. Tog was die distrik gou rustig.

In Graaff-Reinet was dit moeiliker om die rus te herstel. Die Engelse het Frans Reinhard Bresler tot landdros benoem. Toe Bresler op 22 Februarie 1796 die Britse vlag by die drosdy van Graaff-Reinet laat hys, het ’n groep opgewonde grensbewoners dit neergehaal en almal het geweier om die eed van getrouheid aan Engeland af te lê. Op ’n vergadering op 21 Maart het Adriaan van Jaarsveld verduidelik dat hulle weier om die eed af te lê omdat hulle trou bly aan die State-generaal van Nederland. Drie dae later is Bresler en ds. Von Manger na die Kaap. Die dominee kon hom nie met sy mense se strewe vereenselwig nie.

Die Graaff-Reinetters het gehoop om hulp van die Bataafse Republiek te kry, maar dié planne het misluk en noodgedwonge moes hulle Bresler aanvaar. Die Britte het die boere streng verbied om gesteelde vee oorkant die grens te gaan haal.

Die algemene ontevredenheid het uitgebars met die arrestasie van die 57-jarige Adriaan van Jaarsveld op 17 Januarie 1798 op aanklag van vervalsing van ’n kwitansie, waarop hy glo 1791 na 1794 verander het. By sy inhegtenisneming het hy die landdros gewaarsku dat daar moeilikheid gaan kom as hulle hom Kaap toe stuur, maar hy is tog sonder voorlopige verhoor daarheen gestuur. Die agterdogtige grensboere was bevrees dat dit net ’n voorwendsel was om hom soos Petrus Delport te verban.

Van Jaarsveld het ’n deeglike skoolopleiding gehad, en was volgens JJ Badenhorst ’n vernuftige leier in die stryd teen die San en Xhosas aan die grens. Later het hy al hoe raaiselagtiger opgetree vanweë ’n neiging “om alle gesag te verwerp en die rustelose ontevredenheid en onbeheerstheid van sy natuur”.

Op 21 Januarie het ’n groep boere onder Marthinus Prinsloo die wa ingehaal waarmee Van Jaarsveld na die Kaap vervoer is, en hom bevry. Aanvanklik het Van Jaarsveld gesê dat dit beter sou wees as hy Kaapstad toe gaan, maar gou het hy die verset geheel en al gesteun en planne beraam om in die naam van “Het Algemeene Volkstem” “de Colonie weer tot sig te neemen”.

Die bewind, wat ’n paaibeleid teenoor die Xhosa gevolg het, het nou hardhandig teenoor die Boere opgetree. Britse troepe het van Algoabaai en dragonders oor land na Graaff-Reinet opgeruk. Van Jaarsveld en sy oudste seun Zacharias is in April 1799 gevang, en moes saam met sestien ander opstandelinge in Kaapstad teregstaan. Hulle is meer as vyftien maande in besonder streng omstandighede in die kasteel aangehou voor die verhoor in Augustus 1800. Van Jaarsveld en Prinsloo is albei ter dood veroordeel, maar hulle is begenadig en amnestie is aan almal toegestaan. Van Jaarsveld is op 29 Junie 1801 oorlede voor sy vrylating. Dit was ’n opstand waarin daar geen skoot geskiet is nie.