Vernuwing in die prosa

’n Bloeiende kultuurlewe
Januarie 25, 2015
Al meer Afrikaners bots met regering
Januarie 25, 2015

Die algemene kultuurpeil van ’n moderne volk word grotendeels gemeet aan die prosa wat binne hom geskryf, geniet, gewaardeer, geduld en selfs toegelaat word, sê NP van Wyk Louw in Vernuwing in die prosa (1961). Die prosa weerspieël meer die algemene peil van die beskawing van ’n groep as die poësie en het groter vormende krag om die algemene beskawingspeil te verhoog of af te druk.

Hierdie boek het baie beteken vir ’n nuwe geslag skrywers, die Sestigers: Chris Barnard, Breyten Breytenbach, André P Brink, Abraham H de Vries, Etienne Leroux, Jan Rabie, Adam Small, Bartho Smit, Dolf van Niekerk. Leroux het verklaar: “Ek dink as Van Wyk Louw daardie boek nie geskryf het nie, dan het die Sestigerbeweging miskien nie ontstaan nie.” Louw het vernuwende prosa verdedig en so verseker dat die publiek die Sestigers gou aanvaar het.

In 1962 het opsienbarende werke verskyn soos Lobola vir die lewe van André P Brink en Sewe dae by die Silbersteins van Etienne Leroux. ’n Bekende joernalis, Rykie van Reenen, het geskryf: “Vanjaar is vir ons Afrikaanse boek ’n soort annus mirabilis, ’n wonderjaar” danksy ’n stroom lesenswaardige romans. Die kritikus AP Grové was van mening: “Na my wete kon ons nog nooit in Afrikaans ’n jaar met so ’n ryk oes afsluit nie.” Die Burger het ook gewys op “’n goeie wynjaar”.

“Mag ons hoop dat die sensuur dit nie tot die laaste wynjaar maak in ’n letterkunde wat nog so kort bestaan; wat nog nie sy Bredero, sy Shakespeare of Rabelais het om na terug te gryp nie?”, het Van Wyk Louw in 1963 gevra toe die regering ’n Publikasieraad ingestel het ondanks ernstige kritiek van skrywers en letterkundiges soos André P Brink, DJ Opperman, JC Kannemeyer, Etienne Leroux, WA de Klerk, Freda Linde en Jan Rabie. Van Wyk Louw het gepraat as Afrikaner “wat nog nooit (hier of in Europa) my Afrikaner-nasionalisme weggesteek of verdoesel het nie”. Hy was van oordeel: “Ek twyfel of selfs Milner ’n meer doeltreffende middel sou kon bedink het om Afrikaans te kniehalter en aan Engels in Suid-Afrika vrye teuels te gee.” Toe professor G Dekker Publikasieraad-voorsitter word, het die skrywers hul verset laat vaar.

In 1964 het die Akademie ná aarseling Sewe dae by die Silbersteins met die Hertzogprys bekroon; die grootste polemiek in die Afrikaanse literêre geskiedenis is daaroor gevoer. Dit is begin deur Van Wyk Louw wat gewys het op die dreigende gevaar van vervreemding tussen skrywers en die Akademie as die Akademie dit nie bekroon nie. Skrywers en letterkundiges het die Silbersteins verdedig, terwyl veral kerklui dit veroordeel het.

Behalwe die Sestigerwerke was daar ’n verskeidenheid boeke soos Van Wyk Louw se Hertzogprys-digbundel Tristia (1962), Petronella van Heerden se herinneringsboeke Kerssnuitsels (1962) en Die sestiende koppie (1965), Elsa Joubert se Ons wag op die kaptein (1963), Henriette Grové se Jaarringe (1966), Anna M Louw se Die groot gryse (1968), ’n biografiese roman oor Paul Kruger en Pieter W Grobbelaar se Die mooiste Afrikaanse sprokies; les bes die eerste werke van twee groot en produktiewe prosaskrywers, Hennie Aucamp (kortverhale) en Karel Schoeman (romans), en die eerste dramas van PG du Plessis.