Vernietiging en bewaring

Die runderpes-ramp
May 28, 2015
Aanplanting en vernietiging van bome
May 30, 2015

Talle soorte wild is dood aan die runderpes, iets wat wildbewaring nog aktueler gemaak het as wat dit reeds was. Sedert die Groot Trek het Afrikanerleiers al wild probeer beskerm. In Julie 1837 het Piet Retief bepaal dat kommandante versigtig moes waak teen die onnodige uitroei van wild. Oortreders kon met 10 tot 100 riksdaalders beboet word. Die Voortrekkers het wild oordeelkundig geskiet vir die pot en vir leerartikels en kledingstowwe.

In die Transgariep het die groot uitroeiing van wild begin ná die anneksasie deur Brittanje. Grondspekulante, handelaars en winkeliers het op die klein dorpies gaan bly en op rojale wyse gejag. Veral die Britse offisiere van Bloemfontein het graag gebruik gemaak van die uitnodigings van die grondspekulant en landmeter Andrew Bain (na wie Bainsvlei genoem is) om wild te kom uitroei op sy plaas.

Die slegte gewoonte het uitgebrei, en in 1858 het die Vrystaat en Transvaal wette gemaak teen die roekelose uitroei van wild. Die wet was onsuksesvol. Boonop het ’n kwaai droogte die Vrystaat tussen 1860 en 1862 geteister. Duisende stuks vee is dood, en wild is gejag om veld vir vee te spaar. Toe prins Alfred, seun van koningin Victoria, Bloemfontein in 1860 besoek, het Bain ’n jagtog gereël waarop duisende bokke op skandalige wyse doodgemaak is. Later het ook Boere dit gedoen, veral in die “Riemland” in die Noord-Vrystaat: wild is uitgeroei ter wille van die velle waaruit rieme gesny is. In 1866 het ’n Kroonstadse firma 152 000 velle uitgevoer.

In Transvaal het die Volksraad die onoordeelkundige vernietiging van wild eweneens probeer keer. Die man wat hom die meeste vir die bewaring beywer het, was president Kruger, wat in sy jong dae self ’n jagter was. Hy het sedert 1889 deelgeneem aan talle Volksraadsdebatte oor beter wildbeskerming. Die meerderheid het hom gewillig gevolg, maar ’n spraaksame minderheid het teengestribbel. Kruger se siening was dat die wild ’n nasionale erfenis was wat ter wille van die komende geslagte beskerm moes word.

Die Volksraad het besluit om die doodmaak van buffels, elande, kameelperde en renosters heeltemal te verbied en oortreders kon met £150 beboet word. Met die indiening van ’n konsoliderende wetsontwerp het Kruger gevra wat die komende geslagte gaan sê as hulle die vernietiging van onskatbare bates toelaat. As ’n diersoort uitgeroei is, kan dit nooit aan die wêreld teruggegee word nie. Die Volksraad het aandagtig geluister en die wet aangeneem. In 1895 het Kruger die doodmaak van wild by Fonteine, Pretoria, verbied. Hy kon dieselfde jaar in die Volksraad tevrede luister hoe JL van Wyk ’n “Gouvernements Wild Tuin” voorstel waarin geen wild gejag mag word nie. Net drie Volksraadslede het daarteen gepraat en die mosie is met gejuig aanvaar. Op 26 Maart 1898 het Kruger die proklamasie geteken waarin ’n “Gouvernements-wildtuin” gestig word tussen die Krokodil- en Sabierivier. Dit was die Sabie-wildtuin, tans bekend as die Kruger-wildtuin – die eerste behoorlik geproklameerde wildtuin in Afrika.