Vermaak en werk

Reise op swak paaie
May 13, 2015
Siekte en geneesmiddels
May 15, 2015

Party transportryers het ’n konsertina saamgeneem om bietjie vermaak op die lang pad te verskaf. Die konsertina was die hoofinstrument vir Boeremusiek, dit wil sê dansmusiek wat veral deur wit en bruin Afrikaanstaliges ontwikkel is. Boeremusiek het met die Groot Trek saamgegaan – drie broers Spies het ’n orkes van konsertina, viool en ghitaar gevorm. Op die platteland het die konsertina, mondfluitjie, ghitaar en huisorrel vir die dansmusiek gesorg. Party liedjies het vroeg ontstaan, soos “Jan Pierewiet”, wat in 1870 in Fraserburg bekend gestaan het as “Jan pee de wit staan styf”. Die melodie het in Frankryk ontstaan en oor Pole, Duitsland en Nederland na die Kaap gekom. “Daar kom die Alabama” verwys na ’n kaperskip van die suidelike Amerikaanse state in die 1860erjare.

Die 19de-eeuse boer het meestal min skoolgeleerdheid gehad, maar het die vermoë gehad om uiteenlopende dinge te doen: van leer looi en skoene maak tot dakke dek en balies maak. Die boervrou kon velklere of waterkerse maak, seep kook, haar eie medisyne uit bossies trek …

Party soorte werk is vandag vreemd. B Spoelstra wat in Ons Volkslewe van dié soorte werksaamhede beskryf, vertel hoe sout in die distrik Lichtenburg ge-“oes” is. In September, Oktober elke jaar, ná die winter, was dit die beste tyd vir die soutoes. Van alle kante vra mense: “Het jy al gehoor wanneer set die soutpan?” Ja, die soutpan moes “set” – daar moes ’n dik laag “room” op die water in die pan kom. Dit lyk soos die sopvet wat gevorm word wanneer ’n mens sop kook van baie vet vleis.

Wanneer die soutpan set, kom mense van oral. Al wat nodig was, was streepsakke, emmers en ’n skuiwer, wat gelyk het soos ’n tuinhark sonder tande – ’n lang steel met ’n plankie vooraan. Die pan is in bane verdeel, en dié is uitgeloot. Het elkeen sy baan, kon die soutmakery begin. Met die skuiwer stoot die soutmaker eers ’n walletjie van so 10 cm hoog om die water op te dam. Op die water van so 5 cm diep dryf nou die romerigheid. Dit roer ’n mens stukkend so ver jy kan bykom, so twee meter. Niemand mag die pan binneloop nie, omdat die gelyke blad stukkend getrap sou word. So gou as die room stukkend geroer is, sak dit na die grond as sout.

Nuwe romerigheid kom uit die pan aangedryf, en ’n mens kan dan aanhou met die stukkend roer van die roomlaag. Intussen krap jy soveel moontlik van die sout bymekaar tot naby die walletjie. Die sout word met ’n emmer uitgedra tot so vyftig, honderd tree van die pan af. Teen die aand het ’n mens op ’n goeie dag vyftien tot twintig sakke sout geraap. Is ’n mens versigtig met die aankrap van die sout, is dit mooi wit, anders kom daar grond in. Daarna, en ná die betaling van die “raapgeld” (die panne was staatseiendom) word die sout op die waens gelaai. Sommige het hulle sout verruil vir koring, gewoonlik ’n sak koring vir ’n sak sout. Die soutmakery het soggens teen elfuur begin en tot so vyfuur geduur. Voor en ná die tyd was daar vrolikhede soos toutrek, ver- en hoogspring, soms kwajongstreke. Van rusie of onenigheid is by die soutmakery selde gehoor.