Verkiesing van 1994

Elf amptelike tale
January 26, 2015
Weer Afrikaners in diaspora
January 26, 2015

Voor die verkiesing op 26 en 27 April 1994 het militêre leiers soos generaal Constand Viljoen ’n opstand beplan waaraan meer as 150 000 man sou deelneem. Die doel was nie om die regering omver te werp nie, maar om ’n stuk van die land te beset en te probeer behou. Op die laaste oomblik is die plan laat vaar nadat die regering en die ANC op 23 April ’n akkoord oor selfbeskikking onderteken het. Bowendien was daar geen grense vir die beplande volkstaat nie; die uitvoerende raad van die Afrikaner-Volksfront was nie gereed om grense te trek nie en het ook geen grondwet vir so ’n volkstaat gehad nie.

Nie deel van die versetplan nie was ’n inval in Bophuthatswana om meneer Lucas Mangope by te staan wie se regering deur ’n staatsgreep bedreig was. Die operasie het misluk toe ook die AWB betrokke geraak het. ’n Bophuthatswana-soldaat het twee gewonde AWB’s voor internasionale TV-kameras doodgeskiet. Dit het die prestige van en steun vir regse groepe help ondermyn.

Sowat 19,5 miljoen mense het gestem, en die ANC het 62,6% van die stemme gekry, die NP 20,6%, die IVP 10,5%, die Vryheidsfront van generaal Constand Viljoen 2,2% en die African Christian Democratic Party 0,5%. Die laaste kabinetsvergadering van die ou bedeling is op 4 Mei gehou. “Die meeste van die ministers kon kwalik hul trane bedwing,” sê De Klerk. Daarna het hulle ’n buffet-middagete genuttig en vir die eerste keer in die geskiedenis wyn en drankies saam met die kabinetsete geniet. Op 9 Mei het die Parlement Mandela formeel as president aangewys. Die NP was deel van ’n regering van nasionale eenheid, maar die wrywing tussen die NP en ANC, en die spanning tussen De Klerk en Mandela het so vererger dat die NP in Junie 1996 uitgetree het. Dit het geblyk dat Mandela veel meer bitterheid in hom omdra as wat hy wou laat blyk, skryf De Klerk.

Honderdduisende Afrikaanstaliges uit die bruin gemeenskap het ANC gestem, asook heelparty blankes.  Afrikaanstaliges het hoë poste in die regering gekry, soos doktor Jakes Gerwel in die kantoor van die president.  Sommige ministers het Afrikaans goed beheers.

President Mandela het verskeie kere versekerings aan Afrikaners gegee dat Afrikaans nie afgeskaal gaan word nie. Op 26 Augustus 1994 was hy eregas op ’n banket van die Pretoriase stadsraad en het hy sy hele toespraak in Afrikaans gelewer. Hy kom elke dag “meer onder die indruk van die bereidwilligheid van Afrikaners, jonk en oud, om aktief deel te word van die nuwe Suid-Afrika,” het hy gesê. Afrikaans het niks te vrees in die nuwe Suid-Afrika nie. “Om egter van Afrikaans, of enige ander taal, ’n politieke voetbal te maak, kan net u eie saak benadeel.”

Onder meer weens sy bevordering van ’n gesindheid van versoening en sy houding teenoor Afrikaans het mnr Mandela hoë aansien onder Afrikaners verwerf. Op die Algemene Sinode van die NG Kerk in Oktober 1994 is hy na ’n toespraak staande toegejuig en met “Laat Heer U seën op hom daal” toegesing. Dit is waarskynlik die eerste keer dat ’n NG Sinode soveel eer aan ’n staats- of regeringshoof betoon het.