Verkenning van die land

Skipbreuke en die held Woltemade
Februarie 2, 2015
Nuwe name vir nuwe sake
Februarie 4, 2015

Kusskeepvaart het tot in die 19de eeu nodig gebly weens die gebrek aan goeie paaie. Die oudste pad in Suid-Afrika, die “wagenpad na ’t bos”, het van die Kasteel af om Duiwelspiek en verby die huidige Rondebosch na die kloof bokant Kirstenbosch geloop waar die Kompanjiewerkers bome afgekap het. Daar is in 1653 met die pad begin en dit het teen 1666 oor Constantianek tot by Houtbaai geloop. Die “ou Kaapse wapad” het al op die rand van die Kaapse Vlakte geloop na Pampoenkraal (waar Durbanville is) en dan na die Hantam. Die los duinsand op die Kaapse Vlakte het dit te moeilik gemaak vir ’n wa.

Van die Kompanjie se ekspedisies het beweeg oor die huidige Citrusdal en Clanwilliam tot by die mond van die Oranje. In 1655 het ’n ekspedisie gevorder tot by die huidige Malmesbury, en in 1667 tot by Clanwilliam. ’n Ekspedisie onder Simon van der Stel het die “Koperberge” naby Springbok in 1685 bereik. Al die paaie van Kaapstad na die binneland of die ooskus moes oor die bergreeks kom wat van Kaap Hangklip tot by Porterville strek. ’n Roete is in 1657 deur Abraham Gabbema verken. Die nasionale pad van Kaapstad na Johannesburg loop tot by die Paarl nog hoofsaaklik langs dié roete, behalwe dat die Roodezandpas of Tulbaghpad meer noord is as die Dutoitskloofpas. Dit was ’n gesukkel om oor berge en riviere te kom. Brûe het ontbreek; hier en daar was daar ’n pont, maar die meeste het driwwe gebruik.

Op Van der Stel se reis het Hendrik Claudius gekleurde tekeninge van diere en plante gemaak. Hy was een van talle mense wat die Kaapse natuurlewe beskryf het. In Rijk Tulbagh se tyd het JA Auge ’n groot bydrae gelewer tot die kennis van die Suid-Afrikaanse plante, onder meer ná ’n reis in 1761–1762 in Namakwaland tot oorkant die Grootrivier of die Gariep, soos die Khoin dit genoem het. Dié rivier het op 23 Desember 1777 ’n nuwe naam gekry. Kaptein Robert Jacob Gordon het in Oktober 1777 met ’n geselskap ’n soektog na die vermeende “Groot Rivier” begin. Net suid van die huidige Bethulie het hulle die rivier bereik en Gordon het die vlag van die prins van Oranje gehys en die naam Oranje aan die rivier gegee. Hy en luitenant William Paterson was dalk die eerste wit mense wat in Augustus 1779 die mond van die Oranje besigtig het. (Dis egter moontlik dat ’n groot rivier wat ’n boer van Piketberg, Johannes Coetseé, in 1760 deurgetrek het, die Oranje was.) Gordon was een van die grootste ontdekkingsreisigers van ons land. Van sy kaarte is van die beste uit die einde van die 18de eeu. Sy reisjoernale en van sy ander geskrifte is eers in 1964 in Engeland gevind.

Auge was gids op een van die reise van die Sweedse botanikus CP Thunberg, “vader van die plantkunde aan die Kaap”, se eerste ekspedisie in 1772. Op dié tog is ook ’n menigte voëls en diere gesien. Thunberg maak melding van die pragtige hout wat die reisgeselskap veral anderkant Swellendam by die koloniste gesien het. Baie boere het geelhout vir tafels gebruik en kamassiehout vir ander meubels. Die mooiste van alles was egter die stinkhout. Stinkhout het ook ’n groot indruk gemaak op die Franse reisiger, Francois le Vaillant, wat in die 1780erjare drie jaar binne en buite die kolonie rondgeswerf het. Dit was vir hom die waardevolste houtsoort van Afrika.