Vereniging en skeuring

Nagmaal op die platteland
January 22, 2015
Engels vorder in die kerk
January 22, 2015

Die “Verenigde kerk” waarvan Van Melle in Dawid Booysen melding maak, is nie meer onder die naam bekend nie. Die ou naam herinner egter aan die kerkstryd in Transvaal. Die sukses van die Vryheidsoorlog het die nasionale gevoel versterk. ’n Groot volksfees is in Desember 1881 in Paardekraal gehou waarop die gelofte van 1880 beklemtoon is. Ook in die volgende jare is groot feeste gehou. Die gevoel van eenheid en broederlikheid het daartoe gelei dat leidende Transvalers die moontlikheid bespreek het om die kerke te verenig. Kommissies van die NG Kerk en die Hervormde kerk het op 31 Oktober 1882 in Pretoria beraadslaag. Hulle kon maklik saamstem oor die leer, die legitimasie van predikante en die verhouding tot die Kaapse kerk, maar die naam van ’n kerk het moeilikheid gelewer. Voorlopig is besluit tot Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk in de Zuid-Afrikaansche Republiek – in die volksmond “Verenigde Kerk”.

Die NG Kerk se Sinode en die Hervormde Kerk se Algemene Kerkvergadering het die vereniging in Januarie 1885 goedgekeur. Lidmate van die twee kerke het op sommige plekke soos Standerton, Piet Retief en Lichtenburg uit eie beweging saamgekom en op ’n bespoediging van die vereniging aangedring anders sou hulle self verenig. In ander dele was daar moeilikhede. In Soutpansberg wou NG lidmate nie dominee LGF Biccard as leraar aanvaar nie, en die Hervormde konsulentsgemeente Witfontein, Pretoria, het besluit hulle sou nie met die vereniging saamgaan nie.

Op 7 Desember 1885 is ’n eerste sinode van die verenigde kerk gehou. Maar party oud-Hervormdes wou hul kerk handhaaf en het in 1887 dominee MJ Goddefroy uit Nederland as leraar gekry, wat later eerste redakteur geword het van De Hervormer (eerste nommer September 1899). Oud-lidmate van die Hervormde kerk in Heidelberg, Potchefstroom, Zeerust, Lichtenburg en Pretoria was ontevrede en het geëis dat eiendomme wat aan die Hervormde Kerk behoort het, teruggegee word. Daar is lank oor die kwessie onderhandel en op 5 Junie 1893 het die Transvaalse Hooggeregshof beslis dat, toe die twee kerke verenig het, dit net kon geskied deur die toestemming of inwilliging van elke lid van die afsonderlike kerke. Lidmate van die Hervormde Kerk kon derhalwe nie gedwing word om met die vereniging voort te gaan nie en het die reg om in besit van hul eiendomme te bly. In die meeste gemeentes is daarop skikkings bereik met die lidmate wat die Hervormde Kerk wou handhaaf.

Verskilpunte was die sending en die kerknaam. Sommige wou die kerk Hervormd noem, ander weer Gereformeerd. Die Sinode van 1889 het met 47 teen 34 tot Nederduits Hervormd of Gereformeerd besluit. Dit het sommige laat terugkeer tot ’n kerk wat net Hervormd was. Baie Hervormdes, maar ook party NG mense, was teen “nuwighede” soos die Sankey- en Moody-liedere. Scholtz skryf dat die NH of NG Kerk trou aan sy Gereformeerde beginsels gebly het, maar ’n “eie vroomheidstipe” geskep het. Die gevoel het ’n plek gekry in opwekkingsdienste en bidure en die verdieping van die geestelike lewe is steeds nagestreef.