Verbindings gedurende die Anglo-Boereoorlog: Rapportgangers

Elisabeth Eybers (1915-2007)
September 3, 2018
Jacobus van Reenen
September 3, 2018

“Eindelijk dan waren de Republieken in Zuid-Afrika geheel afgesloten. Afgesneden van de zee, beroofd van grondgebied dat haar rechtens toekwam, verstoken van grondgebied dat het hare had moeten worden, als goede trouw had voorgezeten. Geen mogeliikheid van een neutrale verbinding met de buitenwereld, dan door Portugeesch gebied, dat zoo goed als overgeleverd was aan Engeland’s genade.”

Foto: Dr. Willem Johannes Leyds, gesant van die “Zuid-Afrikaansche Republiek”

Só het, jare nadat bogenoemde toestand vir die twee Boererepublieke ontstaan het, die voormalige gesant en eertydse staatsekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek, dr. Willem Johannes Leyds, die stelselmatige voltrekking van ’n drama in ons geskiedenis geskets.

As stil getuies van bogenoemde beleid en dr. Leyds se sienswyse kan sy twee boekdele Het insluiten van de Boeren-republieken vandag nog met vrug gelees en oordink word, terwyl die laaste bedryf van dieselfde drama later deur dr. Philip R. Botha in Die staatkundige ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Republiek onder Krüger en Leyds (Amsterdam, 1926) beskryf is.

Op 9 Oktober 1899 het die Transvaalse regering die bekende ultimatum aan die Britse owerheid gerig. Twee dae later het die oorlog begin.

VERBINDINGS
“Ons grootste moeilikheid na die uitbreek van die oorlog was om met die Transvaalse regering in aanraking te kom,” het dr. Leyds voor die Tweede Wêreldoorlog tydens ’n onderhoud met die Nederlandse joernalis Kees van Hoek getuig. Voorlopig het die amptelike briefwisseling tussen Pretoria en Brussel, die setelplaas van die gesant, normaalweg verloop. Weliswaar was die posverbindings deur die Kaapkolonie en Natal versper, maar die verbinding met die buitewêreld oor Lourenço Marques is nie afgesny nie. Daar, aan die Delagoabaai, was die Zuid-Afrikaansche Republiek se vertrouensman, konsul Gerard Pott. Hy het daarvoor gesorg dat die amptelike pos, wat soms deur rapportgangers aan hom besorg is, meestal aan boord van Duitse skepe na Europa vervoer is. Op dié wyse is moontlike onderskeppings op Portugese gebied en ter see afgeweer.

Met kabelgramme, wat dikwels in kodeskrif opgestel was en vertroulike of geheime mededelings of instruksies aan die gesant bevat het of wat deur dr. Leyds aan die regering te Pretoria versend is, was dit ’n moeiliker geval.

Brittanje het, sowel aan die weskus van Afrika as aan die ooskus o.m. in Aden, beheer oor die enigste seekabels uitgeoefen. Vanaf die uitbreek van die oorlog is hierdie kabeltelegramme nie meer deurgelaat nie. Op dié wyse is dié belangrikste verbindingslagaar waaroor Transvaal en dr. Leyds beskik het, afgesny.

Dit spreek vanself dat hierdie optrede ’n bron van bekommernis geword het en dat Transvaal deur hierdie maatreël swaar getref is. Belangrike beslissings is aanmerklik vertraag, en dr. Leyds kon sekere dringende opdragte slegs met ’n groot verlies aan kosbare tyd uitvoer. Namate die Britse militêre opmars nader aan Pretoria gekom het, is hierdie euwel steeds sterker gevoel.

Waar die regering op die laaste oomblik nog besluit het om bestellings van proviand vir die siviele bevolking en die burgers te velde te plaas om bestaande voorrade aan te vul, is o.m. gebruik gemaak van die dienste van die Pretoriase handelaar S. Michaelson wat persoonlik na Europa afgereis het om alles te bestel en die verskeping na Delagoabaai te reël.

In die Tweede Verzameling (Correspondentie 1899-1900) van dr. Leyds (’s-Gravenhage, 1930, deel 2) kom, in verband met Michaelson se aankope o.m. die volgende besonderhede voor:

(a) Goedere wat van Lourenco Marques na die Z.A.R. versend is:

6.000 sak koffie, 13.000 sak suiker, 1.500 kaste koffie, 5.025 kaste blikkiesmelk, 700 kaste vuurhoutjies, 5.000 kaste seep, 5.000 kaste kerse, 1.000 kaste paraffien, 250 kaste smeerolie, 34 kaste hoede (1.094 dosyn) en 5 pakke met tente. In totaal 37.514 kaste of pakke met ware ter waarde van ongeveer 1.331. 244 mark (1 mark was omstreeks 1900 ongeveer gelyk in waarde aan 1 sjieling).

Deur die Portugese owerheid is goedere soos saals, jasse, baadjies, broeke, hemde, stewels en hoede ter waarde van ongeveer 1 727 849 mark as kontrabande beskou en nie deurgelaat nie. By die laasgenoemde hoeveelheid ware kan nog 10 000 kaste blikkiesvleis gevoeg word ter waarde van 273 980 mark.

By benadering het hierdie besendings ’n reuse-bedrag van £165.153 verteenwoordig.

’n Klein gedeelte van die “verbode” ware is benut deur dié Transvaalse burgers wat in Mosambiek geïnterneer en later na Portugal gestuur is. Ander ware is oor die Transvaals-Portugese grens gesmokkel, maar verreweg die grootste gedeelte het in pakhuise aan die baai bly lê om daar deur vogtigheid en ongedierte onbruikbaar gemaak te word. Na die oorlog is die oorskot deur ’n ander Pretoriase handelaar teen sterk verlaagde pryse aan die man gebring. Maar op dié tydstip het daar nie meer ’n behoefte bestaan nie.

Dit is slegs een voorbeeld waaruit oorduidelik blyk watter rampe die verbreking van verbindings laat ontstaan het. En na die besetting van Pretoria het die posisie nog hagliker geword totdat, met die aankoms van die Britse magte te Komatipoort, alle verbindings verbreek is en daarna – om die Iaaste moontlike skuiwergate toe te maak – die Transvaalse konsul se kantoor in Lourenço Marques in 1901 gesluit is. Te midde van hierdie ellende was daar, in ’n vroeëre stadium, soms nog ’n ligpuntjie. Op die een of ander wyse was die Portugese telegraafkantoor nie “waterdig” nie en is telegramme, wat vir die plaaslike Britse konsul in Lourenço Marques bestemd was, na Pretoria deurgesein. Op dié wyse het die Boere se militêre bevelvoering berigte aangaande beplande militêre offensiewe van Britse kant in Natal ontvang.

Na die inname van Pretoria het ’n afgesant van dr. Leyds, gesantskapsekretaris Cornelis van Boeschoten, nog onderhoude met die Boereregering te velde aan die oosterlyn gevoer, maar voorlopig was dit die Iaaste regstreekse aanraking.

OORLOGSNUUS
In verband met dr. Leyds se pers- en propagandaveldtog in Europa en elders, is reeds voor die oorlog, onder Edgar Roels, ’n pers- en propagandadiens in Parys in die lewe geroep om die wêreld die Boerekant van die nuus van die fronte te kon voorlê. Hierdie diens het hoofsaaklik gesteun op beriggewing van buitelandse joernaliste wat in Pretoria of Johannesburg gestasioneer en die Boere gunstig gesind was. Britse perssensuur het hierdie beriggewing mettertyd laat verwater.

Nog ’n bron van inligting was die mededelings van uitgeweke Boere en vrywilligers wat, veral na die inname van Pretoria, in die waan verkeer het dat die krygsverrigtings ten einde geloop het, en die Suid-Afrikaanse oorlogstoneel vaarwel gesê.

Dan was daar die geval van die Johannesburgse openbare aanklaer Cornelis Broeksma wat, uit die besette gebied, berigte oor toestande in die Goudstad per brief aan dr. Leyds gestuur het. Hy het voor ’n Britse vuurpeleton gesterf!

En waar die Boereleiers na die val van Pretoria op die ruimtes aangewys was, het regstreekse, betroubare beriggewing ter plaatse geleidelik opgehou.

Omgekeerd was dr. Leyds ook nie in staat om die rondtrekkende Boereregerings in te lig oor die gevoelens van die regerings en die nasies van Europa, Amerika en elders nie. Met die hoop om intervensie of arbitrasie te bewerkstellig, het Staatspresident S.J.P. Kruger na Europa vertrek, terwyl voor hom die Transvaals-Vrystaatse afvaardiging, bestaande uit Abraham Fischer (voorsitter), C.H. Wessels (O.V.S.) en A.D.W. Wolmarans (Z.A. Republiek) in Europa aangekom en o.m. die V.S.A. besoek het.

Op watter wyse kon dr. Leyds, wat behalwe oor Edgar Roels se pers- en propagandasentrum in Parys ook oor die Perskantoor van die “AIgemeen Nederlandsch Verbond” (A.N.V.) te Dordrecht beskik het, die reikhalsende wêreld van nuus voorsien namate die oorlog, wat inmiddels tot die kleinkrygtaktiek oorgegaan het, steeds langer en langer aangehou het?

Uit ’n oogpunt van nuusverskaffing, maar ongetwyfeld nog meer om die wedersydse verbindings, hoe gebrekkig ook al, in stand te hou, het dr. Leyds sy toevlug tot rapportgangers geneem.

Dieselfde behoeftes is deur die Boereleiers te velde gevoel en op dié wyse het daar ’n verbindingstelsel, bestaande uit rapportgangers, begin ontstaan wat, gesien in die lig van die tydsgewrig en die lang afstande wat oorbrug moes word, sekerlik uniek in die militêre geskiedenis van ons land is.

Twee moontlikhede het die organiseerders en die belanghebbendes voor oë gestaan: Lourenço Marques en Swakopmund. Dr. Leyds het sy vertrouensman Bas Veth in 1901 tydelik in Lourenço Marques gestasioneer om as skakel op te tree. Swakopmund was, net soos Lourenço Marques, een van die aanloophawens van die Duitse passasierskepe. Oënskynlik was Lourenço Marques die aangewese invalspoort, maar in die praktyk het Duits Suidwes-Afrika die voorkeur geniet. In Mosambiek was sowel die Portugese as die Britse toesig noukeurig, in Suidwes was daar ’n aantal behulpsame Duitsers wat pro-Boer was en bewegingsvryheid sowel aan vegtende burgers in Noordwes-Kaapland as aan rapportgangers verleen het.

Maar om, soos ons later sal sien, uit Europa, deur Suidwes en Noord-Kaapland by Boereleiers in die Oranje-Vrystaat of, nog verder, in Transvaal uit te kom of om hierdie roete in omgekeerde rigting af te lê, het deursettingsvermoë, durf en ’n hoë mate van pligsbesef en idealisme vereis.

En tog, nieteenstaande al hierdie vereistes en dikwels groot gevare is dié rapportgangers gevind wat bereid was om hul lewens te waag in diens van ’n bykans geheiligde ideaal.

RAPPORTGANGERS
Hulle het aan onderskeie nasionaliteite behoort. Onder hulle was Boere, Nederlanders, Duitsers, Franse en in sy Derde Verzameling (Correspondentie 1900), (’s-Gravenhage, 1931, deel 2) noem dr. Leyds die volgende boodskappers of rapportgangers:
Cornelis Plokhooy (Delagoabaai)   Januarie 1901
Von Khaynach en Meyerbach         Januarie 1901
S. van Lier                                           Februarie 1901
G.D. Botha                                          Maart 1901
Steyn Parvé                                        April 1901
Aubert                                                 Mei 1901
Van Dijk en Schultz                         Junie 1901
Kannemeyer en De Villiers            Junie 1901
Komdt. Andries G. de Wet             Julie 1901
Aubert (Delagoabaai)                      Augustus 1901
Beck en Thede                                  Augustus 1901
Houwert en Armstrong                  Augustus 1901
Poutsma                                            Augustus 1901
F. Eloff                                               September 1901
F. Schmoderer en De Kerkauson Desember 1901
C. Plokhooy (S.W. Afrika)              Januarie 1902
Kuzolo                                                Maart 1902
Dr. Schultze en P. Burger               Maart 1902
Van der Merwe en De Klerk          April 1902
Alleman en Malan                            Mei 1902

Aangaande sommige van hierdie rapportgangers se bedrywighede het verslae in die Leyds-argief (Pretoria), bewaar gebly, in ander gevalle dui kort aantekeninge daarop dat ander spoorloos verdwyn en nooit teruggekeer het nie. Daar is ook ’n paar gevalle waar, in die keuse, menslike oordeelsfoute begaan is. In ander gevalle het rapportgangers verrig wat van hulle verwag is en selfs die grootste teenslae kon hulle nie keer nie.

’n Voorbeeld van Iaasgenoemde soort is die eerste boodskapper, die oud-NederIander Cornelis Plokhooy wat tot die uitbreek van die oorlog in die Transvaalse onderwyswêreld werksaam was. Hy het in Natal, die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek aan Boerekant geveg nadat hy by Elandslaagte (20.10.1899) die vuurdoop ondergaan het. Na die oorgawe van Pretoria (Junie 1900) is hy gevange geneem. Hy het geweier om die eed af te Iê en is deur die Britse militêre outoriteite na sy geboorteland teruggestuur.

Uit Europa, “waar ik het, omdat ik te veel aan de oude krijgsmakkers dacht, die nog altijd voor de goede zaak streden,” nie kon uithou nie, aldus Plokhooy in sy Met den Mauser, (Gorinchem, 1902, 2e druk), het hy op 31.12.1900, as eerste rapportganger na Lourenço Marques vertrek. Daar het die ongeluksvoël spreekwoordelike hom ingehaal. Hy is, met ’n aantal Boere-geïnterneerdes na Portugal oorgebring, het daarna uit die kamp te Caldas da Rainha ontsnap, met ’n skip van Lissabon na Triëst gereis, vandaar met ’n Duitse stoomskip na Hamburg gegaan en vervolgens weer na Nederland teruggekeer.

Daarna het hy, weer in diens van die Boeresaak, na Duits Suidwes-Afrika vertrek …

Foto: Genl. J.C. Smuts

Steyn Parvé, ’n Nederlander, het nie van sy sending teruggekeer nie. Komdt. Andries G. de Wet het, deur lesings in Europa te gee, die Boeresaak as propagandis en rapportganger uitstekend gedien. Rapportganger komdt. Van der Merwe was, as L.J. van der Merwe, voor die oorlog mynkommissaris te Johannesburg. Hy en sy medetogganger De Klerk het uit ons land na Europa afgereis (deur Duits Suidwes-Afrika) en veilig teruggekeer. Robert, markies de Kerkauson, was ’n Franse vrywilliger, by sy strydmakkers bekend as “Roberts” of “Robert die Fransman,” wat onder genl. J.C. Smuts geveg en ’n paar jaar gelede te Franschhoek (K.P.) oorlede is.

Die lotgevalle van die rapportgangers wag nog steeds op ’n beskrywing. Veel inligting het ongetwyfeld in die loop van die jare verlore gegaan, maar hier en daar lê, in die Leyds-argief (Pretoria) dokumente wat meer lig op hul bedrywighede werp. Dit is o.m. die geval met betrekking tot die reis en lotgevalle van Francisque Schmoderer en Robert, markies de Kerkauson.

“FRANCISQUE” SCHMODERER
In ’n Iêer in die Leyds-argief lê ’n briefie van die destydse Franse konsul Aubert, gedateer 17.7.1901, waarin Iaasgenoemde, te Pretoria, die draer Henri Mandele, ’n Franse onderdaan, by die Franse vise-konsul te Durban aanbeveel om sy terugreis na Frankryk te vergemaklik.

En wat het, op sy beurt, die Franse vise-konsul te Durban, aan die kaptein van die Franse skip “Gironde” gevra? Hy het versoek dat Francois Henri Schmoderer, gebore te Lyon, ’n lid van die Boeremagte wat as ’n krygsgevangene deur die Britse militêre outoriteite na Durban gestuur is, die voorgeskrewe beskerming geniet. Verder is verklaar dat Schmoderer op 23 Maart 1868 te Lyon gebore is. En vermoedelik het Schmoderer aan die vise-konsul te Durban ook sy spoorwegvergunning van 17 Julie 1901 (nr. 16772) voorgelê waardeur Henri Mandele per trein van Pretoria na die kus kon afreis …

In Augustus 1901 was Schmoderer tuis by sy broer te Lyon. Op 29.8.1901 skryf hy aan dr. Leyds dat hy van die oorlogsterrein kom en deur die regering te velde opgedra is om sekere boodskappe aan Staatspresident Kruger en dr. Leyds oor te bring. Hy berig verder dat krygskommissaris Barter, van Barberton (vroeër van Lydenburg), hom ook sekere opdragte verstrek het. Twintig maande, aldus Schmoderer, het hy vir die Boeresaak geveg.

Voor 10 September 1901 het dr. Leyds reeds ’n paar onderhoude met Schmoderer gevoer wat, aldus dr. Leyds, onder die van Mandele gereis het en wie se regte name en van slegs aan genl. C.F. Beyers, ’n paar ander en aan konsul Aubert (Pretoria) bekend is. Schmoderer het die gesant o.m. meegedeel dat die aantal vegtende burgers in Julie 1901 (ZA.R. en O.V.S.) ongeveer 12 500 was en hom besonderhede oor genl. Clemens se neerlaag van 13.12.1900 verstrek. In die nag van 9-10 Junie 1901 was hy op Pelgrimsrus. Hy het dr. Leyds verder ’n beskrywing van die verwoesting op die Hoëveld en die jongste operasies van die Boeregeneraal gegee, die groot sterftesyfer in die vrouekampe beklemtoon en vertel dat Britse militêre transporte deur waens omring word met Boerevrouens en -kinders ten einde te verseker dat hierdie konvooie hul bestemming veilig bereik.

Hierdie berigte is kort daarna aan die Europese pers verstrek, nadat Staatspresident Kruger insae in Schmoderer se verklarings gehad het. Of Schmoderer te Hilversum met die vergrysde staatshoof in aanraking gekom het, is onbekend. Wel is bekend dat die staatshoof se verteenwoordiger, C. van Boeschoten, hom te woord gestaan het. Daar het Schmoderer sy begeerte te kenne gegee om instruksies i.v.m. sy terugkeer na die oorlogsterrein aanvaar. Dr. Leyds het aangeteken dat hy Schmoderer ten volle vertrou en o.m. ook inligting probeer verkry van dr. J.H. Pameijer, vroeër van die Nederlandse ambulans. Hierdie geneesheer het geantwoord dat ’n nogal forsgeboude persoon, met ’n vaalbruin gelaatskleur, ’n kort baardjie en ’n snor as een van die adjudante van genl. Beyers diens gedoen het en dat dié persoon ongeveer 30 jaar oud moet wees. Behalwe Schmoderer was, aldus dr. Pameijer, die Franse graaf De Gourville ook by genl. Beyers se kommando wat in Oktober 1900 te Tweefontein, naby Warmbad, geopereer het.

Ook is, met ’n gunstige afloop, Schmoderer deur Abraham Fischer en A.D.W. Wolmarans ondervra.

By hierdie of by ’n ander geleentheid het Schmoderer verklaar dat die Boere te velde meer as ooit vasberade is om die oorlog tot die uiterste voort te sit en dat hulle, in hierdie geval die kommando’s onder genls. Beyers en De la Rey, by die Paardekraal-monument gesweer het om hulle nooit oor te gee nie. Verder het die rapportganger meegedeel dat ammunisie-toevoer vir klein- en grofgeskut gebiedend noodsaaklik is.

ROBERT, MARKIES DE KERKAUSON

Foto: Robert de Kerkauson

’n Berig wat in die Franstalige koerant “Le Petit Bleu” van 20.11.1901 verskyn het, bring ons in aanraking met die Franse markies, ’n neef van die bekende veggeneraal De Villebois Mareuil wat, terug in Europa, sekere bewerings van die toenmalige Britse Minister van Oorlog in verband met beweerde Boere-optrede teenoor Britse gewondes tydens die geveg by Vlakfontein weerlê. Die markies skryf hier as ’n ooggetuie. In dieselfde koerant is aangekondig dat De Kerkauson na Amerika vertrek het, maar tien dae later is hy nog in Europa want op dié datum stuur kanselier Goldman die Franse vegter terug met ’n opdrag na ingenieur C. Uggla, die vroeëre stigter die Skandinawiese Korps, wat tydelik in Breda, Nederland, woonagtig was.

Op 3 Desember 1901 het die markies in Frans en Engels gegewens vir die gesant te Brussel opgestel op watter wyse, gegrond op eie ondervinding, ’n reis deur Duits Suidwes-Afrika onderneem kan word.

VOORBEREIDINGS GETREF
Schmoderer het sy opdragte gedurende die tweede helfte van November 1901 van dr. Leyds ontvang, nadat hy reeds op of omstreeks 28 September van dieselfde jaar ’n kode in sy besit gekry het. Aan hierdie kode is die volgende woorde ontleen: Butter het beteken Louis Botha, Tobacco Kitchener, Flour Reitz, Sugar Hertzog, Sandal gesneuwel, Instigate hoofsetel van regering verplaas, Spirits Johannesburg, Oats Krugersdorp, Iglesia ek is siek, stuur vertroude persoon; Griffin die aantal siekes onder die Engelse troepe neem sterk toe, 2300 Steynsburg, 6600 Swellendam, Chastener Carl £100 De Wet gesneuwel. Tewens is die volgende kodewoorde gebruik om syfers voor te stel: Alienate – 1, Allegiance – 4, Balsam – 1000 e.d.m.

Foto: ’n Kunstenaar se voorstelling van komdt-genl. Louis Botha by die beleg van Ladysmith

Ook is ’n boodskap, waarvan die Nederlandse teks in Frans vertaal is, aan Schmoderer verstrek. Hy moes die teks uit sy kop leer en die boodskap vervolgens aan die gesant terugstuur. Getik was hierdie boodskap 1 ½ bladsye. O.m. is hierin aan die Boerevoormanne te velde meegedeel dat die Britse oorlogsuitgawes £6 000 000 per maand bedra en dat aan die begin van September 1901 die “Stop the War Committee” 300 opelugvergaderings in Engeland georganiseer het. Op al hierdie byeenkomste is vir onafhanklikheid vir die Boere gepleit.

Van bemiddelingspogings het, ten spyte daarvan dat dr. Leyds en die here Fischer, Wessels en Wolmarans alles in hul vermoë doen, nog niks tereggekom nie. Die mening van die Duitse keiser is skynbaar nog onveranderd en van dié kant is niks te verwag nie. Die simpatie van die volke in Europa is nog onverswak en veral in Nederland, en ook in ander lande, word nog steeds geld ingesamel tot ondersteuning van die vrouens en kinders in Suid-Afrika en die krygsgevange burgers. Verder is o.m. verklaar: “Tot de dag eindelijk zal aanbreken waarop zulk een vrede zal worden bedongen blijft men hopen op Gods steun en de dapperheid der Burgers, die door trouw en volharding, door moed en zelfopoffering den overtalrijken vijand in bedwang houden, hem uitputten en naar alle vrienden biddende hopen, hem zullen noodzaken de vrijheid en onafhankelijkheid te laten behouden aan de diepbeproefde burgers der republieken.”

Tewens is Schmoderer onderrig in die gebruik van plofstowwe en is aan hom, en sy toekomstige reisgenoot Robert, markies De Kerkauson, meegedeel op watter wyse hulle, deur dinamietpatrone te gebruik, loko’s kan verniel.

Waar De Kerkauson van plan was om na genl. J.C. Smuts in N.W. Kaapland terug te keer, is die mededeling dat dié kommando oor voldoende dinamiet beskik, maar nie oor slagdoppies nie, van belang. Om in hierdie tekort te voorsien, het die Franse vrywilliger outomatiese ontstekingsmiddels verlang om treine lam te lê en huise of blokhuise op te blaas.

Deur bemiddelling van die reeds genoemde Bas Veth is De Kerkauson in November 1901 in Frankryk opgelei in die gebruik van kalkontstekingspatrone en die aanwending van elektriese ontstekingsmiddels.

By ’n Paryse firma is ses uur-werke, 300 patrone, ’n fototoestel en ’n jaggeweer vir De Kerkauson gekoop, wat nog in dieselfde maand vir verskeping na Duits Suidwes-Afrika na Hamburg gestuur is.

Ten slotte is De Kerkauson van onderskeie gebruiksaanwysings voorsien o.m. om elemente, afkomstig uit telegraafkantore, vir krygsgebruik aan te wend.

Bas Veth het in Desember 1901, weer in Parys, nog twee Mauserrewolwers met elk 500 patrone, vier Zeiss-verkykers (agtvoudige vergroting) en ’n Zeiss-veraskoop vir die rapportgangers gekoop, terwyl De Kerkauson in Den Haag £1 000 en in Hamburg ’n verdere £200 ontvang het.

Op 22 Desember 1901 het Schmoderer en De Kerkauson, aan boord van die “Eduard Bohlen”, van Hamburg na Swakopmund vertrek.

OP PAD NA SWAKOPMUND
Onderweg na Duits Suidwes-Africa, aan boord van die “Eduard Bohlen”, van die Woermann-skeepvaartlyn, het Schmoderer briewe aan ’n tussenpersoon in Lyon of aan kanselier P.L.A. Goldman, van die Z.A.R. se gesantskap in Brussel, gestuur. Op Nuwejaarsdag 1902 was die reisgenote in ’n hotel te Las Palmas, op 7 Januarie 1902 het Schmoderer berig dat die skip dieselfde dag te Monrovia sou aankom en op 24 Januarie 1902 het hy meegedeel dat hulle twee dae vroeër te Swakopmund aangekom en in die “Hotel zum Fürsten Bismarck” tuisgaan. Tot nou toe, aldus Schmoderer, het alles vlot verloop. Op 25 Januarie 1902 het De Kerkauson uit dieselfde hotel ’n brief aan ’n tussenpersoon van dr. Leyds in Hamburg geskryf waarin hy daarop aandring dat ’n betroubare persoon te Swakopmund gestasioneer moet word om bewegings van Britse spioene dop te hou. Die inklaring van die bagasie het geen moeilikhede opgelewer nie en kort daarna het die plaaslike polisie die twee reisigers van verblyfvergunnings in Suidwes voorsien. Nou kon die reis na die grens, die Oranjerivier, in alle erns begin.

VAN SWAKOPMUND NA GROOTRIVIER
Oor hierdie en die volgende deel van die reis, m.a.w. oorkant die Oranjerivier, bestaan daar sowel van die hand van Schmoderer as van De Kerkauson briewe en verslae. Daar is, van albei, briewe wat in Duits Suidwes-Afrika en in die Kaapkolonie deur hulle geskryf en in Suidwes gepos is. Hierdie briewe het veilig by verskillende bestemmings in Europa aangekom. Dan is daar ’n ongedateerde reisverslag van De Kerkauson oor die tydperk 17 Maart (Oranjerivier) tot 27 Augustus 1902 (Brussel). Schmoderer se verslag, wat die uitvoerigste is, loop van 22 Desember 1901 (Hamburg) tot in Junie 1902 (Pretoria) en is gedateer 8 Augustus 1902, Utrecht, Nederland.

Na hul aankoms te Swakopmund het Schmoderer en De Kerkauson na Karub afgereis om vandaar, per trein, hul reis na Okahandja voort te sit. Daar is hulle gasvry deur ’n broer van die Windhoekse handelaar Gustav Voigts ontvang. ’n Ossewa is plaaslik gehuur en op 30 Januarie 1902 was die twee reisigers in Windhoek. Hulle het ongeveer ’n week by Gustav Voigts, ’n mede-firmant van die firma Wecke en Voigts, oorgebly om voorbereidings vir die verdere reis te tref. Op 5 Februarie 1902 is hulle met ’n ossewa, vier perde wat op Okahandja en drie wat op Windhoek aangekoop is, op pad na die suide. Groot was hul verrassing toe hulle, voor hul aankoms te Kuis, mynkommissaris Van der Merwe en sy maat ontmoet het wat, as rapportgangers, op hul uitreis na Swakopmund was.

Op Kuis het Schmoderer agtergebly omdat die wa ’n ander rigting ingeslaan het terwyl De Kerkauson sy reis na Gibeon voortgesit het. Gelukkig het ’n ossewa met ’n Duitse luitenant (vroeër landdros van Keetmanshoop) opgedaag. Schmoderer en die Duitse offisier het op vriendskaplike voet verkeer en die Fransman het heelwat goeie raad van sy medereisiger ontvang. Drie dae later het die twee reisigers te Gibeon aangekom waar Robert “die Fransman” reeds gewag het. Na ’n verblyf van twee dae te Gibeon is die reis na Keetmanshoop voortgesit. Daar is losies by ’n ware vriend, ’n sekere Angelbreck, gevind. Daarna het, met twee nuutgekoopte perde en die reeds vermelde pakperde, die reis na die Oranjerivier begin. Voorsien van twee nie-blankes as gidse, het die reis aanvanklik voorspoedig verloop, maar op die derde dag het die nie-blankes agtergebly om na twee afgedwaalde perde te soek. Die twee rapportgangers het aangery, mense en diere het byna van dors omgekom, maar gelukkig het die nie-blankes weer opgedaag. Die reis is voortgesit en op Kalkfontein is ’n sekere Van Zyl aangetref met wie ’n perd geruil, en van wie ’n perd en ’n muil gekoop is. Daarna het hulle met ’n skakelman van die Boere, ’n sekere Liebenberg, in aanraking gekom. Robert het Iaasgenoemde £150 gegee om die nodige op Warmbad vir die kommando’s te koop, en op 15 Maart 1902 was die rapportgangers by die Oranjerivier wat hulle twee dae later oorgesteek het. Burgers het tien maal deur die rivier geswem om die bagasie in veiligheid te bring en daarna is, nou in die Kaapkolonie, die reis na die Boere-voorposte voortgesit. Doel van die reis was nou Kakamas.

Uit Schmoderer se briewe wat hy gedurende sy trek deur Duits Suidwes-Afrika geskryf het, kom die volgende, aanvullende besonderhede voor. In ’n brief, wat op 2 Februarie 1902 te Windhoek op briefpapier van die firma Wecke en Voigts geskryf is, vertel Schmoderer dat een van die Voigt-broers vroeër in die Zuid-Afrikaansche Republiek en Chili was. Schmoderer was, volgens sy eie mededeling, in 1890-1891 ook in Chili en daarna het die twee hul kennis van Spaans uitgetoets. Volgens ’n brief van 23 Februarie, wat op Keetmanshoop geskryf is, was Schmoderer vol moed dat die sending sou slaag, ook al omdat De Kerkauson dié wêreld geken het. Op 13 Maart 1902 het Schmoderer van “Groen Doorn” geskryf dat die oorgaan van die rivier vertraag is en dat hy hoop om oor 25 tot 30 dae by genl. Louis Botha te wees. Vyf dae later het ’n brief van die oorkant van Grootrivier gevolg. Hierin is berig dat ’n boer, ’n sekere Van Eck, die twee rapportgangers besonder behulpsaam was om oor die rivier te kom. In hierdie skrywe het Schmoderer tewens vermeld dat hulle van plan was om oor Kakamas na Calvinia te reis.

Reeds voordat hierdie berigte in Europa aangekom het, het F.F. Eiffe op 25 April 1902 gedeeltelik in kode aan dr. Leyds getelegrafeer: “empfangen Telegramm Afrika souffleter”, m.a.w. dat hy die kodewoord souffleter van Windhoek ontvang het en dat dié woord beteken dat De Kerkauson en Schmoderer die Oranjerivier by Schuitdrift oorgesteek het en dat alles in orde is.

De Kerkauson het op 17 Februarie 1902 van Gibeon geskryf dat hy en sy reisgenoot op dieselfde dag mynkommissaris J.L. van der Merwe en sy mede-rapportganger langs die pad ontmoet het, dat hulle reëlreg van genl. J.C. Smuts kom en dat hulle, dit wil sê De Kerkauson en Schmoderer, F. Eloff naby Windhoek ontmoet het. Tewens het hy vermeld dat komdt. Andries de Wet in Desember 1901 oor die Oranjerivier is en op Kakamas aangekom het. Daarna was hy weer in Suidwes om op 8 Januarie 1902 by die kommando’s aan te sluit.

DE KERKAUSON IN DIE KAAPKOLONIE
Op 18 Maart 1902 het Schmoderer en De Kerkauson op Kakamas aangekom. Daar het hulle komdt. Lategan en

Foto: Genl. De la Rey

komdt. Kirsten ontmoet. Hy, komdt. Kirsten, was in besit van goud, ter waarde van £200, wat genl. De la Rey aan genl. Smuts gestuur het. De Kerkauson het by hierdie bedrag, aldus Schmoderer, nog £200 – van die geld wat hy uit Europa saamgeneem het – gevoeg. Kirsten het die verslag van genl. De la Rey by Schmoderer agtergelaat. Die reeds genoemde Liebenberg sou vir die versending van hierdie en ander verslae, deur bemiddeling van komdt. Lategan, na Europa sorg. Schmoderer het tot 7 April op Kakamas vertoef omdat, aldus komdt. Lategan, die Oranjerivier ondeurwaadbaar was.

De Kerkauson het, vergesel van komdt. Kirsten en sewe burgers, reeds op 22 Maart 1902 van Kakamas vertrek en twee dae later in Boesmanland verneem dat genl. Smuts in Namakwaland opereer. Op 3 April het die geselskap op Rietfontein aangekom en op die volgende dag het Schmoderer verslag aan genl. Smuts uitgebring.

’n Dag later was hy aanwesig by die verowering van Concordia wat volgens hom deur ’n mag van 250 nie-blankes, onder aanvoering van ’n blanke offisier, verdedig is. Op 4 April 1902 is, nadat genl. Maritz op 1 April Springbok ingeneem het, O’okiep deur die Boere ingesluit. Soos bekend, het genl. Smuts in die Iaaste week van April na Transvaal vertrek om die inleidende vredesonderhandelings by te woon. O’okiep is op 3 Mei 1902 ontset. op 3 Junie 1902 het die eerste vredesgerugte tot genl. Maritz deurgedring wat tot 14 Junie onkundig in verband met die voorwaardes was. Genl. Smuts het die burgers op dié dag ingelig en De Kerkauson, wat hom nie aan die Engelse magte wou oorgee nie, het op 18 Junie 1902 die Oranjerivier by Schuitdrift oorgesteek en op 27 Augustus van dieselfde jaar in die Belgiese hoofstad, Brussel, aangekom.

Foto: Kommandant Bresler, Asst. Hoofkmdt. Lategan en Kmdt. Conroy

TERUG IN EUROPA
Onder die Leyds-dokumente is daar nog ’n paar wat meer lig op Robert, markies De Kerkauson, na sy terugkeer in Europa werp. Uit ’n rekening en verantwoording blyk dat De Kerkauson voor sy vertrek na die suide £1 000 van dr. Leyds ontvang het. In Hamburg is nog ’n verdere £200 aan hom betaal. Van hierdie bedrag is deur hom aan boord £10 en vir treinkaartjies na Okahandja £6.15 uitgegee. Tydens die verblyf in Windhoek (27.1.02-6.2.02) is £170.1.0 bestee, terwyl die perde wat in Duits Suidwes-Afrika gekoop is, £185 gekos het. By hierdie bedrae is ook ander aankope en uitgawes ingesluit. Aan L.J. Liebenberg is £150, aan komdt. J.F. Kirsten £200 en aan genl. S.G. Maritz £450 betaal.

Op 16.9.1902 het genl. Maritz te Brussel ’n verklaring onderteken waaruit blyk dat hy die reeds genoemde bedrag op 4 April 1902 ontvang het. Van die £450 is £350 deur hom aan genl. J.C. Smuts en £50 aan veggeneraal Van Deventer gegee, terwyl hy – op las van genl. Smuts – die orige £50 vir homself en sy kommando aangewend het.

Ook is, uit dieselfde versameling, bekend dat genl. Maritz en die markies in 1903 na Madagaskar is om in opdrag van die Franse regering transportwerk te verrig. In Julie van dieselfde jaar was hulle weer terug in Parys nadat Robert “die Fransman” ’n swaar koorsaanval op die eiland gehad het.

MET SCHMODERER NOORDWAARTS
Waar De Kerkauson se rapporte en berigte orals gekenmerk is deur noukeurige plekbeskrywing en datering, is dit met Schmoderer se verslag oor sy reis na Transvaal slegs hier en daar die geval.

Foto: Schalk Willem Burger, aanvanklik lid van die Transvaalse Volksraad en Uitvoerende Raad, na die vertrek van Staatspresident S.J.P. Kruger na Europa (1900), waarnemende Staatspresident van die “Zuid-Afrikaansche Republiek”

Op 7 April het, van Kakamas af, die reis na Griekwaland begin in geselskap van ’n groepie burgers. Op 16 April was die geselskap by Ventersdorp waar genl. De Villiers hom bevind het en nadat Schmoderer op Postmasburg komdt. Kriegler ontmoet het. Aan genl. De Villiers het Schmoderer teen ’n ontvangsbewys £50 oorhandig. Uit verdere aanwysings blyk dat Schmoderer en ’n groepie burgers naby Veertienstrome en Christiana was en dat hy op 4 Mei 1902 met waarn. staatspresident S.W. Burger en genl. J.H. de Ia Rey in aanraking gekom het. Aan hulle het hy sy berigte en £865 oorhandig. Genl. De la Rey was vol belangstelling en het o.m. verklaar dat hy reeds agt dae tevore geweet het dat Schmoderer aan die kom was. Die generaal het tewens belangstellend na rapportganger komdt. J.L. van der Merwe gevra en van die waarn. staatspresident het hy verneem dat, indien die vyandelikhede na die besprekings te Vereeniging nie gestaak sou word nie, eersgenoemde met sy burgers na Soutpansberg sou gaan waar nog veel lewensmiddele aanwesig was.

Verder het Schmoderer aangeteken: “Bij ons onderhoud deelde hij mij mede dat Lord Kitchener hem had laten roepen en de volgende vraag had gesteld: Wilt gij over vrede onderhandelen?” Waarop hy geantwoord het: … wij zijn iederen dag geneigd den vrede te teekenen maar moet daarvoor President Steyn zien.”

Nadat waarnemende staatspresident S.W. Burger van ’n pas voorsien is, het hy met Pres. Steyn gaan gesels. Schmoderer teken verder aan dat lord Kitchener by die daaropvolgende onderhandelings sou gesê het: “Hoe wilt gy dat wy U de onafhankelykheid geven terwyl veel van uwe menschen onder onze soldaten zyn. Pres. Burger zeide dat hy hem geantwoord had dat de burgers den stryd niet zouden opgeven dan op voorwaarde van onafhanklikheid.” Daarna is besluit dat elke kommandant sy burgers sou raadpleeg en dat al die afgevaardigdes op 15 Mei 1902 te Vereeniging sou saamkom.

Schmoderer, wat graag sy verslag eiehandig aan President Steyn wou oorhandig, het van genl. De Ia Rey ’n muilwa en ’n sekere burger Rotman (Rothmann?) as gids gekry en het twee dae later op Wolmaransstad aangekom. Hy is dadelik by die bedlêende staatshoof toegeIaat, het saam met hom ’n ontbyt van gemaalde mielies en vleis genuttig en met sy gasheer die stand van sake bespreek, en voortsetting van die stryd bepleit. Daarna het Schmoderer ’n hoeveelheid Mauser-patrone en slagdoppies vir dinamiet aan President Steyn oorhandig en aan een van sy offisiere ’n elektriese wekker te hand gestel. Daarna is die terugreis na genl. De Ia Rey se hoofkwartier aanvaar. ’n Vyandelike agtervolging het gevolg en Schmoderer het by genl. Jacobus van Zyl uitgekom wat in die omgewing van Vryburg opgetree het. Weer het gevegte met die vyand gevolg en op 21 Mei 1902 het Schmoderer na genl. De la Rey se gesin op Corsica afgereis om daar te wag op die uitslag van die beraad te Vereeniging. Almal was vas oortuig dat die vrede slegs op die grondslag van onafhanklikheid gesluit sou word. Op 5 Junie 1902 het ’n burger berig dat ’n telegram ontvang is dat die vrede geteken was. Hy het verseker dat die onafhanklikheid behou is. Die volgende dag is ’n soortgelyke tyding van genl. Van Zyl se kommando ontvang, maar Schmoderer het gevrees dat ’n teleurstelling sou volg. Nog op die aand van dieselfde dag het ’n burger kom meedeel dat al die lede van die Lichtenburgse kommando hulle op 12 Junie op mnr. Schalk van der Merwe se plaas Goedgedacht moet bevind om die vredesvoorwaardes te verneem. Op 7 Junie het lede van die De la Rey- gesin, die Russiese dokter Rennenkampf en Schmoderer vertrek. Die volgende oggend het ’n Engelsman kom vra waar mev. De Ia Rey is. Hy het ’n telegram vir die generaal se gade in sy besit gehad en van hom het Schmoderer die vredesvoorwaardes verneem. Dr. Rennenkampf het die telegram, afkomstig van Pretoria, gelees. Dié telegram was geadresseer aan genl. Wilson (Klerksdorp) en aan hierdie Britse bevelhebber is gevra om genl. De Ia Rey se gesin na Klerksdorp te bring en daarna per trein na Pretoria te Iaat oorkom. Dr. Rennenkampf en Schmoderer was verbaas, en het albei gedink dat die draer van die telegram ’n seun van genl. Liebenberg was. Hy was nou in ’n Britse militêre uniform uitgedos en ’n krygsgevangene op Klerksdorp …

Inmiddels is verder getrek en in die loop van die volgende dag het die groepie die ware vredesvoorwaardes, wat hulle geweier het om te glo, verneem. Op die plaas Goedgedacht het ’n bedrukte stemming geheers.

“Het was treurig om te zien, dat mannen die bereid waren om den stryd voort te zetten en aan den dood de voorkeur gaven boven deze voorwaarden, verplicht werden de wapens neer te leggen.”

Schmoderer het die burgers aangeraai om hul ammunisie in veiligheid te bring, vertroue in die toekoms te hê en steeds gereed te wees. Verskeie burgers was voornemens om die land te verlaat, maar Schmoderer het hulle aangeraai om te bly. Dan sou die burgerelement oorheers en altyd gereed wees om die wapens op te neem. Berigte wat van ander kommando’s ontvang is, het die verlange na die vryheid bevestig. Dit was dié verlange wat oud-Staatspresident M.T. Steyn in November 1905 op “Onze Rust” Iaat skryf het: “Het is zwaar een overwonnen volk te zijn. Het is mij soms of de heerlijke frissche Vrijstaatsche lucht mij gaat verstikken. Niets lijkt meer zooals het was, zelfs onze onmeteIijke vlakten komen mij klein voor en voel ik mij daarin beklemd en benauwd. Hoelang! hoelang! O God hoelang!. De zwaarste is dat men zoo hulpeloos is.”

DIE OORGAWE
Gewere is deurmekaar op ’n hoop gegooi en by die voorlees van die vredesvoorwaardes het die burgers geweier om die drie hoera’s vir die Britse koning uit te roep. Op 12 Junie 1902 het die eerste Britse offisier, ’n sekere kol. Williams, opgedaag om die oorgawe verder te reël.

“lk droeg op myn hoed de Transvaalsche en Fransche kleuren, toen hy my zag stond hy op en vroeg my in het engelsch of ik franschman was, ik antwoordde bevestigend en toen hy my de hand reikte zeggende hoe gaat het U antwoordde ik hem terwyl ik myne handen in der zak stak, zeer goed en wat wilt gy van my?”

Schmoderer is ondervra en het verklaar dat hy ’n perskorrespondent is en nie oor ’n paspoort beskik nie. Aan hom is opgedra om dadelik na Klerksdorp te gaan om verlof te vra om in die land te mag bly, waarop Schmoderer geantwoord het dat hy nog een en ander op die plaas moet afhandel, dat hy dan na Klerksdorp sal gaan en volstrek nie in die land wil bly nie. Kort daarna het genl. Walter Kitchener opgedaag en Schmoderer uitgenooi om saam met hom te ontbyt. Schmoderer het geweier en weggestap …

Vyf dae later het hy en dr. Rennenkampft na Klerksdorp vertrek waar hulle op 19 Junie 1902 aangekom het. Twee dae later is Schmoderer na Pretoria waar hy op 23 Junie nog ’n vergadering bygewoon het waarop genls. Botha en De Ia Rey asmede oud-waarnemende Staatspresident S.W. Burger en ds. H.S. Bosman die vergaderde burgers toegespreek het.

“AIlen die deze vergadering bywoonden droegen de nationale kleuren op de borst, de vrouwen droegen lange linten in de kleuren der Republieken. Men had vol vertrouwen in de toekomst en was vol hoop voor het herstel der vryheid.”

HUISWAARTS
Schmoderer het op 9 Julie 1902 in Kaapstad ’n brief geskryf waarin hy meedeel dat hy op 12 Julie 1902 met die Duitse stoomskip “Kronprinz” na Europa vertrek, dat hy op 2 of 3 Augustus te Lissabon sal aankom en op 5 Augustus te Vlissingen van boord sal gaan.

Vermoedelik het sy ontskeping ietwat vroeër plaasgevind. In een of meer briewe het hy aan dr. Leyds meegedeel dat hy sy sending in alle opsigte volbring het en, soos reeds vroeër vermeld is, aan die begin van Augustus 1902 ’n volledige verslag aan dr. Leyds ter hand gestel …

Terwyl, sover dit die Leyds-argief betref, Schmoderer daarna uit die gesigveld verdwyn het, rus sy reisgenoot en medestryder van weleer, Robert, markies de Kerkauson, vandag in Suid-Afrikaanse grond.

In dr. Leyds se korrespondensie kom hulle name voor onder dié wat, uitgestuur op gevaarlike sendings, bereid was om hul lewens op te offer vir die saak van die vryheid …

AANTEKENING
Behalwe waar in die teks aangedui, lê die geraadpleegde en verwerkte gegewens in die dr. W.J. Leyds-argief, Transvaalse Argiefbewaarplek, Pretoria, in band 328, dele 1-3.

Bron: Ploeger, Jan. 1975. Lantern, September: 64-73.