Veranderinge in die taal

Die Spaanse griep en AVBOB
January 22, 2015
Politieke stryd oor taal en universiteit
January 22, 2015

Frans het aan die Kaap verdwyn, maar wat het van Hollands geword? Amptenare het dit wel gebruik, maar in die mond van vryburgers, trekboere, slawe en Kho-khoin het dit langsamerhand verander. Met sy besoek in April 1685 het Hendrik Adriaan van Reede van Drakenstein kommentaar gelewer op die gebrekkige Hollands wat amptenare in kontak met Khoi-Khoin gebesig het. In 1671 is die volgende sin van ’n Khoi-Khoise man opgeteken: “Duijtsman een woordt, ons u kelum”. (“As julle Hollanders een woord praat, sny ons julle die keel af.”)

Afwykings het ook in die slawe se Hollands plaasgevind. Die meeste slawe uit die Ooste het Maleis-Polinesiese tale gepraat. Die meerderheid kon ook op ’n manier Portugees praat – ’n soort aanleerders-Portugees wat later Maleis-Portugees genoem is. Nadat die Hollanders die Portugese se handelsgebied oorgeneem het, is Maleis-Portugees nog dekades daarna gehoor ook op Nederlandse en ander skepe wat die Kaap aangedoen het. Maleis is lank aan die Kaap gepraat en geskryf.

Die slawe moes noodwendig gou Hollands leer – party by die huishoudings waar hulle gewerk het, ander in hul gemeenskaplike verblyfplekke soos die slawelosie. Nie almal het dit behoorlik leer praat nie. Die slawe se aanleerders-Hollands was een van drie soorte Afrikaans wat aan die Kaap ontstaan het.

Heelparty taalkundiges aanvaar die siening van Christo van Rensburg dat daar drie historiese dialekte van Afrikaans was. Dit is Kaapse Afrikaans, wat van die Nederlandse Ooste af gekom het, Oranjerivierafrikaans, oorspronklik gepraat deur die Khoi-Khoin, en Oosgrensafrikaans, wat deur die boere van die binneland gepraat is – die Hollands van mense sonder ’n hoë vlak van geleerdheid. Van Rensburg gee aan die dialekte van die drie groepe geografiese name wat verwys na gebiede waarin heelparty sprekers van elke groep aan die einde van die agtiende eeu was.

Dat die vryburgers se taal redelik gou afgewyk het van die amptenare s’n, blyk uit mededelings van reisigers asook briewe en verklarings van Kapenaars, onder andere veldwagters. OF Mentzel, wat van 1733 tot 1741 amptenaar was, skryf dat die taal van die plattelanders ewe min suiwer Hollands was as wat die Duitse boere suiwer Duits praat. As mens die vroue sou vra of hulle ’n Bybel het, sou hulle antwoord: “Ons heeft geen Bibel” Vra jy dan hoeveel onse daar op ’n pond is, word hulle rooi van skaamte. ’n Mens kan aflei dat “ons” pleks van “wij” as onderwerp van die sin toe al taamlik verbreid was.

Die jong CH Persoon, wat in Kaapstad grootgeword het, skryf in 1775 uit Amsterdam dat sy vriende hom terg oor sy “Caaps krom spreeken”. Teen dié tyd is dus selfs in die stad ’n afwykende taalvorm gepraat.

Heelparty briewe wat in die Kaapse argief bewaar gebly het, is deur LC van Oordt opgespoor en van 1947 tot 1956 uitgegee in tien dele van Die Kaapse Taalargief (aangevul van 1959 tot 1962). Hieruit en uit langer geskrifte kon taalkundiges soos J du P Scholtz, Edith Raidt en ander met nougesette navorsing die wordingsgeskiedenis van die Afrikaanse grammatiese sisteem beskryf. Waar mens in Hollands byvoorbeeld saam met sommige naamwoorde de en met ander het gebruik, het die verskil tussen die twee al teen 1755 weggeval en is hulle verdring deur die.