Van Riebeeck’s het Klassieke musiektradisie in SA gevestig

1 FEBRUARIE
Oktober 25, 2016
Hoekom Afrikanergeskiedenis?
Oktober 26, 2016

Die Ensemble, 1619, deur Jan Miense Molenaer (1610-1668)

Marthinus van Bart
[email protected]

Een van die hoogste kultuuruitinge van enige gemeenskap is die uitvoerende kunste, veral musiek. Daarom is dit nie vreemd dat Jan en Maria van Riebeeck Europese klassieke musiekinstrumente saam met hulle na die Kaap die Goeie Hoop gebring en dit bespeel het nie.

Daar word onder meer in die Daghregister, die amptelike dagboek van Jan van Riebeeck, na “muziekinstrumenten” verwys en dat in die kommandeurswoning binne die Fort De Goede Hoop ’n klavesimbel bespeel is. Hy noem egter nie die musikant by die naam nie.

Die Klavesimbel-speelster, 1660, Gerrit Dou (1613-75)

Die Klavesimbel-speelster, 1660, Gerrit Dou (1613-75)

Die Klavesimbel-speelster, 1640, deur Jan Miense Molenaer (1610-1668)

Die Klavesimbel-speelster, 1640, deur Jan Miense Molenaer (1610-1668)

Omdat Nederlandse meisies van die hoë lui in die sewentiende eeu tradisioneel onderrig in musiek en ander vorme van die kunste ontvang het, was dit heel waarskynlik Maria wat die klavesimbel aan die Kaap bespeel het. Die historikus WC Mees verwys daarna dat Maria die viool kon bespeel. ’n Mens kan vanweë haar status as predikantsdogter aanvaar dat sy ’n fyn opvoeding, wat musiek ingesluit het, ontvang het, en dat sy waarskynlik ook leer sing het.

In ooreenstemming met haar status, het sy deftige syklere gedra, soos uit portrette van haar leeftydperk, die Nederlandse Goue Eeu, blyk.

Maria de la Queillerie, 1650, geskilder deur Dirck Craey

Maria de la Queillerie, 1650, geskilder deur Dirck Craey

Niks in Jan van Riebeeck se biografiese gegewens dui egter daarop dat hy musiekonderrig of opvoeding in die ander kunste ontvang het, of dat hy ’n musikale aanleg gehad het nie. Maar dat hy wel die musiek waardeer het wat sy begaafde vrou gemaak het, is vanselfsprekend, aangesien dit vir hom nogal ’n onderneming moes gewees het om toestemming van die Here XVII te verkry dat die delikate klavesimbel, verwant aan die klavier, aan boord van sy vlagskip gebring kon word en dat die instrument vir die lang en gevaarlike seereis in die betreklik beknopte ruim van die klein seilskip behoorlik, óók waterdig, verpak moes word. Die instrument was klaarblyklik die egpaar se eie besitting en nie eiendom van die VOC nie.

In die Daghregister verhaal Van Riebeeck hoedat hy op 29 en 30 September 1660 vir Sousoä, die “koning” van die Chainouquas, en ’n “prinses”, die vrou van Sousoä se seun, in sy private raadsaal, die kommandeursaal genoem, onthaal het. Hulle het op die tapyt gesit en is op kaas, vars brood en suiker, asook op Spaanse en Franse wyn, getrakteer. Ook is daar vir hulle ’n uitvoering op die klavesimbel gelewer. “Hulle het dit wonderlik aangenaam gevind,” skryf Van Riebeeck. Daar word vermoed dat dit Maria van Riebeeck was wat die klavesimbel bespeel het, al word dit nie pertinent in die Daghregister vermeld nie.

Van Riebeeck skryf voorts dat die onderdane van die Koina-opperhoof in die Fort De Goede Hoop se voorsaal op beskuit (hardebrood) en brandewyn getrakteer is, sodat hulle by die aanhoor van die musiek lustig gesing, rondgespring en wonderlik-snaakse gebare gemaak het. Laasgenoemde verwys waarskynlik na die dans wat vandag bekend staan as “die riel”.

Die kommandeurswoning was ’n vierkantige, stewige woning met klipmure en ’n plat dak. Dit het twee verdiepings met ’n binnetrap beslaan. Die vertrekke was onderskeidelik ’n raadsaal, kantoor, slaapkamer en ’n kinderkamer. Die raadsaal het ook as kelder en pakkamer gedien.

Dat daar ook ’n trompetter in die geselskap van Van Riebeeck was, blyk uit ’n staaltjie van 2 Maart 1654 in die Daghregister: ’n Noorkapperwalvis het by die monding van die Soutrivier (Paardeneiland) uitgespoel. Jan en Maria van Riebeeck het in die geselskap van ander lede van die nedersetting met die strand langs daarheen gestap en bo-op die walvis geklim. Toe het ’n trompetter die Nederlandse volkslied, “Wilhelmus van Nassouwe”, gespeel.

Die Trompetspeler, 1660, deur Gerrit Dou (1613-1675)

Die Trompetspeler, 1660, deur Gerrit Dou (1613-1675)

Die Trompiespeler, deur Dirck van Baburen (1595-1624)

Die Trompiespeler, deur Dirck van Baburen (1595-1624)

Die Kitaarspeelster, 1670, deur Johannes Vermeer (1632-1675)

Die Kitaarspeelster, 1670, deur Johannes Vermeer (1632-1675)

Dit was destyds die gebruik om op skepe skeepstrompetters te hê, asook tromslaners en beulblasers by militêre eenhede.

Hoewel Van Riebeeck en sy geselskap nie streng militêr georganiseer was nie, was hulle ook nie gewone burgerlikes nie, want hulle het die VOC en die regering verteenwoordig. Daar sou dus wel formele tromslaners, trompetters, fluitspelers en beulblasers onder die militia in die nedersetting van die Kaap die Goeie Hoop gewees het om tydens amptelike halfmilitêre geleenthede seremonieel op te tree.

Die musieknavorser Jan Bouws vertel in sy merkwaardige boek Solank daar musiek is: Musiek en musiekmakers in Suid-Afrika 1652 tot 1982 dat Van Riebeeck se koms na Suid-Afrika saamgeval het met die hoogbloei van die Nederlandse kuns, musiek en ander vorme van kultuur. Dit was die era van die Hoog-Barok, met veral kamermusiek hoog mode. En hierdie kultuurerfenis het ook aan die suidpunt van die Afrika-vasteland neerslag gevind.

Deur sy navorsing het hy bevind dat die volgende Klassieke musiekinstrumente gedurende die 1600’s en 1700’s aan die Kaap bespeel is: Die klavesimbel, viool, bas-luit, ook viola da gamba of teorbe genoem, tjello, basviool, haranger-vedel of handviool, kitaar, siter, harp, fluit, basfluit, serpent, skalmei, hobo, klarinet, fagot, kamerorrel met tien of twaalf registers (later geskenk aan die Groote Kerk as sy eerste orrel), trompet, beul, horing, waldhoring en keteltrom, trom en tamboer.

Die Fluitis deur Dirck van Baburen (1595-1624)

Die Fluitis deur Dirck van Baburen (1595-1624)

Die Konsert, 1623, deur Gerard van Honthorst (1592-1656)

Die Konsert, 1623, deur Gerard van Honthorst (1592-1656)

Die Franse reisiger en kunstenaar Francois le Vaillant het in die 1780’s ’n sak trompies van Europa af saamgebring wat hy onder die Koina uitgedeel het. Hy het ’n behoorlike studie van hul instrumente gemaak en dit ook geskets.

Op skepe was daar uiteraard die bootmanspyp, ’n soort fluitjie wat gebruik is om offisiersbevele in sinjaalvorm, wat bo die geraas van die golwe gehoor kon word, aan die bemanning oor te dra. Uiteraard was dit nie juis ’n musiekinstrument nie, maar sommige sinjale was wel deuntjies in eie reg.

Lees gerus ook die ander artikels in hierdie reeks oor musiek: Waar Boer en Boesman se musiek harmonieer; Eugène Marais dramatiseer Koranna-dwaalstorie oor inheemse musiek; Koina se musiekinstrumente verwant aan Europa s’n