Van Riebeeck Vereniging skrap sy ikoon op eeufees

Grondonteiening, Monomotapa en die historiese waarheid
April 18, 2018
Takhare en Ruiters maak Baviaanspoort heel anders as tronk
April 18, 2018

Die Van Riebeeck-logo van die Van Riebeeck Vereniging.

Marthinus van Bart

[email protected]

 

Die eerste private organisasie om spesifiek boeke oor belangrike, maar onbekende, grepe uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis te publiseer, die Van Riebeeck Vereniging, het pas in sy honderdste bestaansjaar sy ikoniese naam, ter ere van die grondlegger van die Christelike beskawing in Suid-Afrika, kommandeur Jan van Riebeeck, geskrap.

Die Van Riebeeck-logo van die Van Riebeeck Vereniging.

In die gees van die kommunisties-gedrewe “Nuwe Suid-Afrika” word die naam nou getransformeer tot Historical Publications of South Africa. Ook sy grondwet is herroep en dit word tans herskryf.  

Die Van Riebeeck Vereniging is in 1918 as The Van Riebeeck Society in Kaapstad gestig. Die naam is eers in 1929 ook verafrikaans na Die Van Riebeeck Vereniging toe die dagboek van Hendrik Witbooi, kaptein van die Witbooi-Hottentotte (1884-1906), in Afrikaans en Engels uitgegee is. Die doel met die stigting van die vereniging was om seldsame, onbekende primêre bronne in ’n leesbare, lesersvriendelike styl beskikbaar te stel aan navorsers en ook enigeen wat in die Suid-Afrikaanse geskiedenis belangstel.

Die vereniging het met min uitsondering byna elke jaar ’n nuwe hardebandboek oor die een of ander belangrike aspek van die landsgeskiedenis, nagevors deur kundiges, uitgegee. Die publikasies, uit ledegeld gefinansier, het wyd bekend geword om hul hoë akademiese standaard en rariteit, en daardie boeke wat uit druk geraak het, is tans baie gesog onder versamelaars.

So waardevol word dié eerste reeks van vyftig boeke (1920-1969) geag, dat die oudhede-afslaer Stephan Welz & Co in 2015 op sy somerveiling in Sandton ’n versameling (met die uitsondering van boek 1) vir R15 000 opgeveil het. En vir ’n onvolledige versameling van 38 boekdele – van 1970 tot 2007 – in die tweede reeks, is R7 000 betaal.

Die eerste twee publikasies van die vereniging het onderskeidelik in 1918  en 1919 in pamfletformaat die lig gesien. Dit was naamlik die verslae van goewerneur De Chavonnes en sy raad aan die Kaap die Goeie Hoop, asook die van goewerneur Van Imhoff aan die Here XVII in Nederland.

In 1920 het die Van Riebeeck Vereniging se eerste publikasie in hardebandformaat verskyn. Dit was die allerbelangrike Memorandum (Memorie) van adv. J.A. de Mist, kommissaris-generaal van die Bataafse Republiek, met aanbevelings hoedat die Kaap die Goeie Hoop vanaf 1803 tot ’n demokrasie hervorm kon word. Dit was pas toe die Kaap uit Britse hande na Nederland oorgegaan het ná die Vrede van Amiens.

Hierdie was by verre die belangrikste publikasie van die vereniging. Die Verligte staatkundige De Mist wou Suid-Afrika die eerste land ter wêreld in ’n egte demokrasie hervorm. Ongelukkig is oor hierdie greep uit ons geskiedenis nooit ernstig besin deur regeringsleiers nie, waarskynlik omdat dit teenstrydig met die ideologieë van die Britse Empire en die latere Nasionale Party was. Die huidige kommunistiese konkoksie, gekenmerk deur die tirannie van die oorweldigende etniese meerderheid van Afrikane, wat nou aan Suid-Afrika se multikulturele bevolking opgedring word, is alles behalwe die regverdige demokrasie wat De Mist wou skep. Dr. H.F. Verwoerd, wat klaarblyklik stelselmatig in rigting van ’n regverdige demokrasie vir al die inwoners van Suid-Afrika wou vorder, is in die hart van die Parlement vermoor.    

Die titelblad van Boek I van die Van Riebeeck Vereniging-reeks wat handel oor die belangrike Memorie van adv. J.A. de Mist.

Met die publikasie van bovermelde boek1 in die eerste reeks, The Memorandum of Commissary J.A. de Mist: Containing recommendations for the form and administration of government at the Cape of Good Hope, 1802, was die teks is in die oorspronklike Nederlands, gevolg deur ’n vertaling daarvan in Engels.

Prof. S.F.N. Gie, in 1920 hoogleraar in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, skryf in die voorwoord dat hierdie uiters belangrike dokumentasie die eerste keer in die Van Riebeeck-reeks tot sy reg kom: ’n Vorige publikasie daarvan in die Zuid-Afrikaanch Tydschrift (1835-1837) is deur die indertydse staatsargivaris H.C.V. Leibbrandt op akademies aanvegbare wyse “geredigeer”. Hy het, onder meer, alle verwysings na wat De Mist die “uitbraking van nasionale nyd en laster” deur die Britse establishment teen die Afrikanergemeenskap aan die Kaap die Goeie Hoop noem, weggelaat. 

In my boek Kaap van Slawe: Die Britse slawebedryf van Elizabeth I tot Alfred Milner word hierdie “nasionale nyd en laster” as Britse krygstaktiek teen die Afrikaners in detail bespreek. De Mist as verligte denker en demokratiese staatshervormer, wie se goeie werk van 1803 tot 1806 as kommissaris-generaal van die Bataafse regering aan die Kaap die Goeie Hoop deur die Tweede Britse Besetting ongedaan gemaak is, kom in Kaap van Slawe ook aan die bod.

Die naasbeste publikasie in twee boekdele deur die Van Riebeeck Vereniging was myns insiens die dagboek van lady Anne Barnard. Margaret Lenta en Basil Le Cordeur het in 1998 en 1999  hul manuskrip, The Cape Diaries of Lady Anne Barnard 1799-1800, in die tweede reeks laat publiseer. In hierdie dagboek onthul die vooraanstaande vrou van die koloniale sekretaris aan die Kaapkolonie, Andrew Barnard, hoedat die Britte ’n volskaalse slawebedryf hier ter plaatse gevoer het en hoedat die amptenary, met inbegrip van die goewerneur sir George Yonge, hulle daaruit verryk het.

Vir my boek Kaap van Slawe het ek hierdie dagboek as ’n primêre bron benut. Ek is die eerste skrywer wat dié onderwerp pertinent te boek gestel het, terwyl die beduidende getal boeke oor die land se slawegeskiedenis deur veral Engelse akademici aan Suid-Afrikaanse universiteite Barnard se onthullings totaal geïgnoreer het. Die slawegeskiedenis in die lands se skole-leerplan het geen verwysing na die kapitaalkragtige Britse slawebedryf in Suid-Afrika nie.         

Nog ’n voortreflike boek in die tweede Van Riebeeck-reeks wat in 2014 verskyn het, boek 45, is The World’s Great Question: Olive Schreiner’s South African Letters 1889-1920. Dit is deur Liz Stanley en Andrea Salter saamgestel en bevat meer as 300 briewe van Schreiner, skryfster en menseregte-aktivis, veral van vroueregte. Hierdie merkwaardige denker het in haar jeugjare opspraak verwek met haar eerste boek, Story of an African Farm, waarin sy onder meer Jingoïstiese vooroordeel jeens die Afrikaners en Iere verwoord het. Toe sy as volwassene en as goewernante en onderwyseres met die Afrikaners self  in aanraking kom en daardeur besef dat sy haar in African Farm in haar naïewe puberteitsjare deur tradisionele Boere-haat laat meesleur het, het sy ’n radikale ommekeer gemaak en ’n voorvegter vir die regte van die Afrikaners geword.

In 2011 het die eerste tekens van krake in die objektiwiteit van die Van Riebeeck Vereniging sigbaar geword toe ’n manuskrip oor die briewe van die Skotse koerantredakteur Thomas Pringle, wat teen Britse tirannie en die empire se uitgebreide slawebedryf aan die Kaap die Goeie Hoop gerebelleer het, deur die vereniging gepubliseer is.

Sy boek was nie net selektief en eensydig in die aanbieding van die historiese materiaal nie – met byvoorbeeld geen verwysing na Pringle se merkwaardige opstand teen die Britse slawebedryf nie, maar selfs bewese feite, soos die aangaande die omstrede Slagtersnek-rebellie, is tot misleidende onwaarhede verwring. Die “navorser” se onverbloemde anti-Afrikaner-agenda was hier ondubbelsinnig aan die werk, en die boek strek die objektiewe naam van die Van Riebeeck Vereniging se publikasies nie tot eer nie.  

Die “navorser” van die manuskrip, ’n lid van die Van Riebeeck Vereniging en verbonde aan die Universiteit Kaapstad, is in 2010 as lid van die ANC en die Kommunistiese Party vereer met die Orde van Luthuli vir “diens aan die Struggle”. As medestigter en leier van die African Resistance Movement was hy van 1961 tot 1964 hoof van sabotasie, voordat hy na Brittanje moes vlug om te voorkom dat hy in die hooggeregshof weens terrorisme en kommunisme teregstaan.

Na mate die land se politieke geskiedenis verander het – en steeds verander, het ook die Van Riebeeck Vereniging, soos talle ander soortgelyke eens waardige kultuurhistoriese organisasies – byvoorbeeld die voortreflike Stigting Simon van der Stel en die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede – onder politieke druk en drukgroep-infiltrasie van die bestuur van sy oorspronklike visie en missie verander.

Verlede jaar is die Van Riebeeck Vereniging deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake, ’n provinsiale vlak staatsorganisasie, met ’n prestige-toekenning vereer. In die sitaat word, ironies, genoem dat was dit nie vir die publikasies van die vereniging nie, sou baie grepe uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis verborge gebly het.

Die standbeeld van Jan van Riebeeck in Kaapstad. Foto: Marthinus van Bart

Met die pro-liberale drukgroep – met sy onverbloemde anti-Afrikaner sentiment en gebrek aan objektiwiteit jeens die landsgeskiedenis – nou aan die stuur van die vereniging, is dit myns insiens ’n bedekte seën dat met die naamsverandering die bewese goeie naam van die Van Riebeeck Vereniging nou tot die skatkis van die verlede tuishoort en dat die waardige naam Jan van Riebeeck nie meer met die vereniging en sy werksaamhede geassosieer sal word nie.

Asof dit nie erger met die vereniging kon gaan nie, was dit ’n tyd gelede vir sommige ingeligdes ’n diep skok toe dit bekend geword het dat een van die vereniging se oudste bestuurslede, wat verlede jaar as bestuurslid afgetree het, ook deur die ANC vereer is vir die geheime dubbel-rol wat hy gedurende die era van die vorige Nasionale Party-regering gespeel het om oor ’n lang tydperk verbode kommunistiese literatuur ten bate van die ANC-struggle die land in te smokkel. Hierdie hoogverraad is gepleeg terwyl hy ’n baie vername staatsamp in die Suid-Afrikaanse biblioteek- en argivale diens beklee het. Die destydse regering het hom in so ’n mate ten volle vertrou, en sy lojaliteit en integriteit was sodanig bo alle verdenking, dat hy nooit in sy doen en late deur die veiligheidspolisie dopgehou is nie. Hy is steeds aktief by die vereniging se bestuur in ’n raadgewende hoedanigheid betrokke.

Bogenoemde lede was met hul ondergrondse bedrywighede doening in ’n era toe Suid-Afrika in ’n oorlewingsoorlog met die Oosblok-kommuniste gewikkel was waarin talle jong soldate-seuns gesneuwel het en groot getalle landsburgers in binnelandse sabotasie- en terreurvoorvalle vermoor is. Dit was ’n tyd toe die land ernstig gevaar geloop het om deur kommunistiese Russiese en Kubaanse soldate met massale wapengeweld binnegeval te word. Die Van Riebeeck Vereniging het hierdie politieke ANC-verering van hul lede en die onthulling dat hulle geheime kommunistiese agente was, dig gehou.