Van Riebeeck se twee heinings en die apartheidsmite

Schuster maak g’n grap van stropery
Junie 18, 2018
Laat jou belasting vir Afrikaans werk!
Junie 19, 2018

Deur Marthinus van Bart

Sowat honderd meter wes van die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin se Rycroft-ingang by Bischopscourt, Kaapstad, is ’n boskasie wilde-amandelstruike, ’n fynbos-soort wat botanies geëien word as Brabejum stellatifolium (Hottentots-amandel of ghoeboontjie).

 

’n Kennisgewingbord dui aan dat dit “Van Riebeeck se Heining” is?

Die kennisgewingbord in die Kirstenbos Nasionale Botaniese Tuin naby Kaapstad wat verkeerdelik beweer dat ’n paar wilde-amandelstruike daar “Van Riebeeck se Heining” is.

Langs Klaassensweg, sowat 1 km verder aan in die rykmansbuurt Bischopscourt, staan ’n monumentjie in die vorm van ’n Kaaps-Hollandse sitbank. Dit is in 1932 opgerig toe die sogenaamde “Van Riebeeck-Heining” tot gedenkwaardigheid verklaar is. Die brons kennisgewingbord en embleem van die Historiese Monumente Kommissie (later Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede) wat indertyd daar aangebring is, is ná 1994 verwyder.

Op 25 Februarie 1999 het die indertydse president, Thabo Mbeki, in die Parlement by die bespreking van die Waarheids-en-versoeningskommissie se verslag, verkeerdelik, ongenuanseerd en onvanpas die volgende retoriek oor hierdie heining laat hoor:

“At Kirstenbosch Botanical Gardens, a few kilometers to our east, there are the remains of a 340-hundred years old almond and thornbush hedge. Planted by Jan van Riebeeck, this thorn hedge was intended to ensure the safety of the newly arrived white European settlers by keeping the menacing black African hordes of pagan primitives at bay. Black and white had to be kept apart, circumscribed by an equation which described each as the enemy of the other, each the antithesis of the other.”

Mbeki het voorts aanbeveel: “… the removal of the almond hedges that deform the face of our country.”

Hierdie skildery van Jan van Riebeeck in 1664 in Malakka gemaak toe hy aangestel is as kommandeur.

Die waarheid is dat Van Riebeeck geen amandel-en-doring-heining laat plant het nie. Hy het die amandelsade laat plant, maar die poging om die plantjies in die somer water te gee en hulle in stand te hou, is kort na sy vertrek in 1662 laat vaar as moeitevol, duur en onnodig. Die beplande laning, ’n plaasgrensafbakening, het nooit volwassenheid bereik nie.

Dit is uit outentiek-betroubare, handgeskrewe historiese dokumentasie bekend dat die Nederlanders van 1652 geen rassiste was nie, dat apartheid geen plek in hul lewens- en wêreldbeskouing gehad het nie, en dat die etnisiteit van swart en wit nie as die teenpole van mekaar gesien is nie.

Die Kaapmans, of Koina, wat wesenlik as bevolkingsgroep uitgesterf het weens onder meer pokke-epidemies, kan in konteks beswaarlik beskryf word as “African hordes of pagan primitives”.

 

VOC-dokumentasie met geloofwaardigheid

’n Deskundige van die VOC-tydperk en die buiteposte van die Kompanjie, die historikus dr. Dan Sleigh van Pinelands, het die herkoms van die “Van Riebeeck-amandelheining” noukeurig in die argiewe uit opgetekende Nederlandse dokumentasie van daardie era nagevors.

Die bewindstyd van die Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap die Goeie Hoop van 143 jaar is volgens vaste gebruik in die Nederlandse Goue Eeu daagliks met gansveer-pen en ink presies gedokumenteer.

Hierdie dokumentasie, waarvan een stel bekend staan as Van Riebeeck se Daghregister, word in die Nederlandse Ryksargief in Den Haag bewaar. Die moderne, gerekenariseerde Tanap-projek, gefinansier deur Nederland, het die digitalisering en transkribering van hierdie handgeskrewe inligting van die tydperk 1652 tot 1795 moontlik gemaak. Dr. Sleigh was ’n medewerker hieraan. Dit kan tans via die internet gelees word.

 

Twee soorte tydelike “heinings”

Dr. Sleigh se navorsingsbevinding is dat daar inderdaad twee soorte tydelike “heinings” deur Van Riebeeck en sy raad in 1659 beplan is. Die een projek was die oprigting van ’n defensiewe heining van houtpale en wilde brame. Dit sou van Duiwelspiek tot die vesting Houd den Bul strek, en van die Soutrivier aan Tafelbaai se strand tot die vesting Keert de Koe by die samevloeiing van die Swartrivier en die Liesbeek, oos van Fort de Goede Hoop. Dit moes deur die militêre opgerig word om die aanhoudende strooptogte deur Koina-roofbendes op die Vryburgers se veekuddes en hul tabaklande af te weer.

(Terloops, die Voortrekkers het in die 1830’s in die binneland doringtakke onder hul kakebeenwaens gepak om te voorkom dat, onder andere, aanvallende Zoeloe-impi’s die wa-laers binnedring, die vee roof en die vroue en kinders vermoor. Doringbome is egter nie endemies aan die Kaap nie. Die koorsbome wat deesdae so mooi langs sommige Tygerbergse strate en paaie uittroon, is maar onlangs vanuit die noorde van die land Kaap toe gebring.)

Dokumentasie in die Kaapse Argief met pen-en-ink sketse van die nomadiese Koina en hul vee op trek. Hulle het die Kaap slegs seisoenaal vir weiding, water en die oes van wilde-amandels besoek, maar was nie permanent daar gevestig nie.

Dr. Sleigh het deur sy navorsing bevind dat Van Riebeeck en sy raad nie slegs ’n defensiewe paalheining beplan het nie, maar ook ’n laning wilde-amandelstruike. Laasgenoemde moes die Vryburgerplase en die kommandeur se eie plaas, Bosheuvel (nou Bishopscourt), afbaken. Hierdie laning is ’n jaar ná die vredesluiting met die Koina in 1660 geplant, en het geen militêre, defensiewe doel gehad nie. Dit was bloot as grensafbakening van die plase beoog. Van Riebeeck het dit inderdaad in sy Daghregister pertinent geboekstaaf dat hierdie laning wilde-amandelstruike as grensbaken vir Bosheuvel en die omringende plase van enkele Vryburgers sou dien.

Wilde-amandelstruike en -bome het in die 1600’s vryelik aan die hang van Tafelberg voorgekom. Die wilde-amandelstruik is ’n doringlose, inheemse fynbossoort wat besonder stadig groei en eers oor baie dekades volwaardige bome word. Dit dra seisoenaal eetbare, neutagtige vrugte, wat as lekkerny gesog was by die Koina. Die neute moet egter eers lank in water geweek word om ’n gifstof, blousuur, verwant aan arseen, daaruit te loog. In 1655 het een van die onkundige Nederlanders aan die Kaap onbehandelde amandels geëet en daarvan gesterf, skryf Van Riebeeck in sy Daghregister.

’n Takkie met wilde-amandels. Dié neute bevat blousuur, verwant aan arseen, en is dodelik giftig as dit ongeloog geëet word. Die neute moet agt dae lank in water geloog word om die gif uit te trek. Die wilde-amandel, Brabejum stellatifolium, is ’n inheemse, spreidende boom wat in die somer oortrek is van ritse geurige, wit blomme. Foto: Marthinus van Bart

Die hout brand moeilik en was dus nie geskik as brandhout vir die nedersetting nie. Ook was dit nie geskik vir verwerking vir die boubedryf nie. Dus is die bome nie deur houthakkers uitgeroei, soos wat met ander soorte bome aan die hang van Tafelberg gebeur het nie. Dat daar vandag betreklik min van die wilde-amandelbome voorkom, is te wyte aan die chroniese veldbrande wat byna jaarliks groot skade aan die Kaapse plantegroei aanrig.

 

Laning-projek was ’n mislukking

Dr. Sleigh is van mening dat dit sterk te betwyfel is of die wilde-amandelbome wat vandag in Kirstenbosch en by Bishopscourt (die Anglikaanse Kerk se naam vir Bosheuwel) staan, op las van Van Riebeeck daar geplant is. Hy en sy tuinier, Hendrik Boom, kon nie daarin slaag om lote suksesvol te kweek en oor te plant nie. Slegs amandelpitte is dus geplant. Die struikies was maar vingerlengte en handhoogte toe die Van Riebeecks die Kaap in 1662 vir Malakka in Indonesië vir goed verlaat het. Belangstelling deur die Kaapse owerheid in hierdie laning het toe ook, soos die onversorgde plantjies self, verdwyn.

Jan van Riebeeck is deur die VOC as kommandeur van Malakka aangestel nadat hy tien jaar aan die hoof van die Kaap die Goeie Hoop was. Twee jaar na die gesin se aankoms in die Ooste is Maria van Riebeeck aan tropiese koors dood. In 1665 is Jan van Riebeeck bevorder tot Sekretaris van die Raad van Indië, gesetel in Het Casteel Batavia in Batavia. Hy is daar op 18 Januarie 1677 oorlede.

In die Tafelberg-natuurreservaat by Bishopscourt staan vandag enkele wilde-amandelbome wat so enorm groot en dik is, dat hulle na raming baie ouer as driehonderd jaar moet wees. Hulle was al groot toe Van Riebeeck aangeland het.

Dr. Sleigh het uit die Kompanjie se dokumentasie bevind dat Van Riebeeck se laning-projek ongetwyfeld ’n algehele mislukking was. Die bemanning van ’n gestrande Franse skip, Le Mareschal, moes die amandelpitte van die gevestigde bome aan Tafelberg se hang oes, en die pitte dan al langs die grense van Bosheuvel en die aangrensende Vryburgerplase plant. Die meeste van die wilde-amandelplantjies het nooit tot volwassenheid gegroei nie. Hulle was maar vingerhoogte tot handhoogte toe hulle deur die vee van die Koina vertrap is of van verwaarlosing en droogte gevrek het, blyk uit die VOC-dokumentasie in die argiewe.

Dr. Dan Sleigh, historikus en kenner van die Kompanjiestydperk, (links) en dr. Ernst van Jaarsveld, tuinboukundige en voormalige hoof van die glashuis van die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin, word verdwerg deur die massiewe stamme van ’n eeue-oue wilde-amandelboom in Bishopscourt. Daar is verskeie van dié reuse in die Tafelberg-natuurgebied. Foto: Marthinus van Bart

Dr. Van Jaarsveld meen dat die ou amandelboom-reuse op die kruin van Bosheuvel – die teenswoordige Bishopscourt landgoed – heel waarskynlik van die bome is wat Van Riebeeck laat saai het. Die bome staan duidelik in ’n reguit ry. In die natuur groei die amandelbome nie op heuwelkruine nie, maar kom normaalweg langs bergstrome laer teen die berghang voor. Weens bergbrande, wat gewoonlik laer teen die berg waar digte plantegroei is, voorkom, bereik die fynbos selde volwassenheid as bome en bly struikvormig. Die res van Bosheuvel was in Van Riebeeck se tyd begroei met saffraanbome en ysterhoutbome, wat vir meubelverwerking of brandhout uitgeroei is. Wilde-amandelstruike is herspruiters, en sou dus na vertrapping deur beeste weer uitloop. Bergbrande stimuleer plantegroei, soos die fynbossoorte, om weer uit te loop. Die reuse-amandelbome op Bosheuvel se kruin kan wel die oorblyfsels wees van die saailinge wat die Franse matrose in opdrag van Van Riebeeck aangeplant het. Hul voorkoms is duidelik onnatuurlik, en die steeds sigbare laning dui op doelbewuste aanplanting.

Wilde-amandelboom is lid van protea-familie

Dr. Ernst van Jaarsveld, plantkundige wat voorheen aan Kirstenbosch Botaniese Tuin verbonde was en nou op Babilonstoring by Simondium hooftuinier is, sê die wilde-amandel is lid van die protea-familie, en ook verwant aan die Australiese macadamia-neut. Van Riebeeck het juis sy plaas Bosheuvel genoem, omdat die heuwel daar oortrek was met fynbos, waaronder wilde-amandelstruike.

Die wilde-amandelbome is selfonderhoudend en aangepas by die hoë winterreënval (tussen 150 mm en 200 mm per jaar) van die Tafelberg-natuurbewaringsgebied. ’n Middelslag, spreidende boom staan sowat 10 m hoog. Die hoofstam is karaktervol krom (regte kreupelhout) met ’n gladde, bruinerige tekstuur. Die groot, donkergroen, leeragtige blare kom in kranse voor, is langwerpig, omgekeerd eiervormig en saagtandig. Die opvallende ritse trosvormige blomme (raseme) op jong stingels, in Desember gedra, is geurig, wit en opvallend mooi teen die donker loof. Die amandels word in die herfs ryp.

 

Vanwaar die verwarrende apartheidsmite?

Die skepper van die verwarrende, onware mite van ’n “apartheidsheining”, soos deur Mbeki aangehaal, was ’n Engelssprekende Kaapse botanis uit die geledere van die Kaapse liberaliste in die tyd van die pro-Britse SA Party van genl. JC Smuts. In die Standard Encyclopaedia of Southern Africa (SESA) (vol. 1, p. 312) skryf hierdie vrou, dr. Margaret Rutherford Bryan Levyns (née Mitchell) (1890-1975), soos volg oor die wilde-amandel, Hottentots-amandel of ghoeboontjie, Brabejum stellatifolium:

“J. van Riebeeck planted a hedge of it in order to keep marauding Hottentots out of the settlement. Parts of this hedge, which has been declared a national monument, still remain on Wynberg Hill and in Kirstenbosch.”

Levyns is in Seepunt gebore en het haar skoolopleiding aan Ellerslie Girls’ School ontvang, en ’n BA (Hons) -graad aan die South African College in 1911 verwerf. Sy het daarna navorsingsopleiding in plantkunde aan Newnham College, Cambridge, Engeland, ontvang, en het in 1915 ’n navorser van die Britse John Innes Institution geword. Sy het in 1917 na Suid-Afrika teruggekeer, en was tot 1945 lektor in plantkunde aan die Universiteit van Kaapstad. ’n Doktorsgraad in die plantkunde is aan haar toegeken. Sy het talle botaniese publikasies die lig laat sien, waarvan verskeie in SESA opgeneem is. Sy was die eerste vrou wat gekies is tot president van die Royal Society of South Africa.

Heelparty nuwe plantspesies is na haar genoem, en haar versameling van 11 000 planteksemplare word by die UK bewaar. Sy is in 1975 in Rondebosch oorlede.

In dieselfde SESA publikasie (vol. 2, p. 346) skryf CT Wood oor Bishopscourt soos volg (en veel nader aan die waarheid): “The estate, comprising 213 acres, stretching from the banks of the Liesbeek to Wynberg Hill, was granted by the Dutch East India Company to Jan van Riebeeck, who called it Bosheuvel. He planted a hedge of wild almond trees in 1660 to mark its top boundary, and this can still be seen near the Hen and Chickens Rocks on Wynberg Hill and has been proclaimed a historical monument,” skryf Wood.

Dit is ook interessant dat Reader’s Digest se Illustrated History of South Africa (The Real Story) (1995) op bl. 46 soos volg oor die sogenaamde amandel-heining berig: “Fortified posts were erected and almond hedges (some of which still survive) were planted to prevent cattle being driven off again. Khoikhoi were obliged to use specific routes and paths and to enter the settlement only at certain guarded gaps in the hedge.”

Gebrekkige navorsing en naskrywery van Levyns se duimsuiery is klaarblyklik die rede vir die verdere stoffering van hierdie onsinnig mite.

In 1992 het die Anglikaanse Kerk (Church of the Province of South Africa), die eienaar van Bosheuvel, ’n boekie Bishopscourt and its residents deur Anne R Kotzé, argivaris, uitgegee. Op bl. 7 dik sy die vergissings verder aan:

“Then the Khoikhoi, historically called ‘Hottentots’, raided Van Riebeeck’s cattle and drove them off across twenty-five morgen of young wheat and a new vineyard, both of which were ruined. Round his property he planted a hedge of wild almond trees to keep out marauders and a portion of this has survived until today and has been declared a National Monument. It can be seen near Kirstenbosch Botanic Gardens.”

Op bl. 42 vervolg Kotzé: “… the estate manager, captain Anderson, discovered traces of the original wild almond hedge which Van Riebeeck planted to mark his boundary line. Freed from the choking Port Jackson trees, it could be authenticated and it has been declared a National Monument.” [Die woord authenticated, wat Kotze gebruik, is misleidend. Geen bronne wat dit bevestig, word vermeld nie.]

Die voorwoord van die boekie is geskryf deur (indertyd biskop) Desmond M Tutu, DD FKC.

Die Historiese Monumente Kommissie het hierdie “amandelheining van Van Riebeeck” in 1932 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dit was vermoedelik op versoek van die indertydse direkteur van die Nasionale Botaniese Tuin Kirstenbosch, prof. Robert Harold Compton, ’n gebore Brit van Tewkesbury, Engeland. Hy is in 1919 aangestel as hoogleraar in plantkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Die brons embleem van die HMK (sedert die sewentigerjare hernoem na die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede) is in 1932 by ’n tweetalige brons plaket aangebring. Die Afrikaanse bewoording het gelui: “Hierdie heining van wilde-amandelbome is in die jaar 1660 AD op las van kommandeur Jan van Riebeeck geplant om die suidelike grens van die Kaap Kolonie van Kirstenbosch langs die Wynberg heuwel na ’n punt onderkant die ‘Hen and Chickens’-rotse aan te dui. Van daar is die heining voortgesit deur ’n paalheining oor die Kampgrond na die mond van die Zoutrivier.”

In 1994 is die HMK/RNG se embleem en hierdie plaket verwyder – nie oor die misleidende boodskap daarop nie, maar om alle spore van die RNG se bewaringspogings oor baie dekades uit te wis.

Duisende soortgelyke embleme en plakette is sedert 1994 landswyd wederregtelik deur politiek-korrektes verwyder of deur bronsdiewe afgesteel. (Die embleme kan nou vervang word met geglasuurde keramiek-embleme wat weerbestand en baie duursaam is, maar met geen herverkoopwaarde. Belangstellendes in die eertydse RNG keramiek-embleme kan die skrywer, Marthinus van Bart, by selfoon: 072 740 5203 of e-pos: [email protected] kontak.)

 

Historikus verwerp apartheidsmite

Dr. Sleigh verwerp die mite dat Jan van Riebeeck enige “apartheidsheining” beoog of laat aanplant het. Reeds in 1661 het Van Riebeeck die Cochoqua byvoorbeeld toegelaat om hul vee binne die “Begrepen Cirkel” (die paalheining) te laat wei. Deur die vredesooreenkoms van April-Mei 1660 tussen die VOC en die Koina, is die Liesbeek-vallei met die standhoudende Liesbeek- en Swartrivier, deur die Kompanjie opgeëis. Indien die Koina uit die gebied verban sou word, sou dit verreikende gevolge vir hulle gehad het. Dit was die beste somerweiding in die Skiereiland, en die verlies daarvan sou hul eeue lange gevestigde migrasiepatrone versteur het.

Die doel van die “Begrepen Cirkel” se paalheining was om die wegvoer van vee te verhinder, en om die Koina se beeste uit aangeplante groentetuine, tabaklande, graanlande en weiding te probeer hou. Dit was nie suksesvol nie en op 8 Januarie 1663 het die Goringhaiqua weer hul vee oral laat wei. Hulle het egter toe self gekeer dat hul beeste die landerye of tuine vertrap.

Toe groot getalle van die Cochoqua uit die Noord-Boland op 11 Januarie 1663 op hul gebruiklike somer-migrasie in die Liesbeek-vallei aankom, het hul vee alles wat die Nederlanders daar geplant het, die amandelstruikies inkluis, vertrap. Die Koina het etlike weke lank binne die “Begrepen Cirkel” vertoef en vryelik skape en beeste met die Nederlanders verhandel vir vernaamlik drank, tabak, yster- en koperware.

’n Paar maande later het kommandeur Wagenaer, opvolger van Van Riebeeck, en sy raad die hele grensheiningprojek as onnodige moeite en onkoste gestaak. Bosheuvel is verkoop, en geen nuwe amandelboompies is aangeplant in die plek van die wat vertrap is nie. En so verdwyn die verwysings na Van Riebeeck se sogenaamde wilde-amandel-laning uit die Kompanjie se dagboeke. Van konsep tot afskaffing was die aanplant van ’n amandel-laning maar drie jaar oud voordat dit laat vaar is.

 

C Louis Leipoldt en ghoe-koffie

Die skrywer en dokter C Louis Leipoldt, wat onder meer die eerste biografie oor Jan van Riebeeck as medikus geskryf het en ook ’n besonder knap amateur-botanikus was, vertel in sy boek Kos vir die Kenner hoedat wilde-amandelpitte as plaasvervanger vir koffie in die distrik Clanwilliam geoes is.

Die Cederbergers het dit ghoe-koffie genoem. Omdat dit so voortreflik smaak, het Leipoldt gemeen dat ghoe-koffie die potensiaal het om in die buiteland as drank bemark te word. Toe die plantkundige Rudolph Schlecter (1872-1925) in 1897 op Clanwilliam by die Leipoldts gekuier het, was hy so beïndruk met die ghoe-koffie, dat hy daarvan na Duitsland gestuur het. Leipoldt skryf voorts dat die gebruik van wilde-amandels by die Koina hoog op die agenda was toe Van Riebeeck sy eerste samesprekings met die Khoina-stamhoofde oor die grondgebied aan die oostekant van Tafelberg gevoer het. Die Khoina het geëis dat hulle altyd vrye toegang tot die water, weiding en wilde-amandelstruike in die berggebied en aan die oewer van die Liesbeek behou. Die Koina het die grond weens hul oorlog teen die VOC verloor. Minstens ses buiteposte is toe daarop aangelê.

In sy kookboek, Kos vir die Kenner, skryf die fynproewer Leipoldt (hy het in Frankryk opleiding in die kookkuns ontvang) die wilde-amandel bevat “pruisiessuur”. Nadat die gif in water uitgeloog is, word die amandels gedroog en, soos koffiepitte, gebrand, voordat dit gemaal of fyngestamp word. Die gemaalde ghoe is ligbruin van kleur en het ’n eienaardige koffie-geur. Een teelepel is genoeg vir ’n koppie koffie. Gooi die koffie in ’n warm pot, giet kookwater daaroor, en laat dit vir ’n paar minute lank trek. Skink deur ’n siffie en bedien met melk, suiker en room.

 

Slotsom

Daar het in die Kaapse geskiedenis nooit ’n “ondeurdringbare heining van doringbosse en wilde-amandelbome” bestaan nie, uit watter oogpunt – ekonomies, botanies, militêr of rasseskeiding – al gesoek word.

Al wat nou te doen staan, is dat die propagandistiese retoriek – “ … the almond and thornbush hedges that deform the face of our country” – self met wortel en tak uitgeroei word. Sulke etnies-verdelende retoriek is inderdaad ondeurdringbare versperrings vir gesonde menseverhoudings in Suid-Afrika.

Die insinuasie dat die Koina-roofbendes die Vryburgers se vee om politieke redes geroof het, strook nie met die vasteland se eie geskiedenis nie: Die feit dat die Koina en ander inheemse stamme volgens tradisie chronies onder mekaar vee geroof, statte geplunder en die inwoners vermoor het, het Van Riebeeck en talle ander joernaalskrywers van die 1600’s tot die laat 1800’s noukeurig geboekstaaf. Die inheemse uitwissingsveldtogte deur die Zoeloes – bekend as die Difaqane en Mfecane – is goed gedokumenteer.